Nóg ‘n borg het by die Absa-Veldrenkampioenskap se ‘familie’ aangesluit met die eerste Human Motors 400 wat op 22 en 23 Oktober in die Vrystaat aangebied word.
Die byeenkoms vorm die sewende ronde in die Absa-reeks en beteken dat ‘n belangrike Suid-Afrikaanse motorsportkampioenskap na die Vrystaat terugkeer. Human Motors, ‘n familiebesigheid wat in 1950 sy ontstaan gehad het, sluit by Donaldson Filtration Systems, Atlas Copco en 4×4 Mega World as nuwe borge vanjaar aan.
Die Donaldson-voorren vind voor die renne plaas en bepaal die wegspringvolgorde vir die hoofren. Vroeër die seisoen het Atlas Copco ook hul betrokkenheid by Suid-Afrikaanse veldrenne vergroot deur die borgskap vir die Atlas Copco Sugarbelt 400 in KwaZulu-Natal oor te neem.
Die 4×4 Mega World 400 by Carnival City het nóg ‘n nuwe borg na veldrenne gebring. Soos wat die geval met Atlas Copco is, neem 4×4 Mega World-voertuigspanne in die Produksievoertuigkategorie deel.
Human Motors is ‘n familiesaak wat in 1950 deur Barnie Human in Bloemfontein begin is. ‘n Kimberley-handelaarskap is in 1958 geopen en ‘n tak in Welkom in 1960.
“Die basis van die besigheid is om die Vrystaat- en Noord-Kaap-gemeenskap te dien deur voorspoed en groei te bevorder,” het Human Auto se direkteur, Jacque Strydom, gesê. “Ons glo dat ons ons missieverklaring kan uitleef deur ‘n belangrike Suid-Afrikaanse kampioenskapsbyeenkoms na die Vrystaat te bring.
“Verskeie Vrystaat-gebaseerde spanne het in onlangse seisoene met groot sukses aan die Absa-Veldrenkampioenskap deelgeneem en ons is verheug om ‘n rol te speel om die nasionale kompetisie weer na die streek te bring.”
Richard Schilling, die president van die SA National Off Road Car Racing-Assosiasie, het gesê dat Human Auto se besluit om ‘n ronde van die nasionale kampioenskap te borg, nóg ‘n stap vorentoe vir die sport is. Die borgskap demonstreer ook die veldrenne se soliede basis.
“Absa is ons toegewyde reeksborg terwyl Ford, Toyota en Donaldson net sulke gededikeerde vennote is,” het Schilling gesê. “Tesame met Human Auto en ander byeenkomsborge beskik ons oor ‘n lewendige kampioenskap met ongelooflike moontlikhede vir toekomstige groei.
“Die nasionale assosiasie werk nou saam met ons borge en terugvoer van deelnemers is vir ons belangrik.”
Die Human Auto 400 sal by die Windmill Casino aan die buitewyke van Bloemfontein gebaseer wees. Die renhoofkantoor, die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal by die Windmill Casino wees met die rendirekteur, Adri Roets, en sy span wat tans besig is om ‘n roete te finaliseer wat uitdagend behoort te wees.
“Ons is besig met die laaste afronding aan ‘n roete wat uitdagend behoort te wees,” het Roets gesê. “Dit was ‘n interessante oefening, maar ons het daarin geslaag om met heelwat verskeidenheid vorendag te kom wat deelnemers op hul tone sal hou.”
bydrae: Charmaine Fortune
