Suzuki voor in eko-koor

Suzuki se klein Jimny 4×4-veldryer het nog ’n pluimpie ontvang. Die vernuftige veelterreiner is Suid-Afrika se groenste petrol-aangedrewe vierwieldryfvoertuig, met ’n CO2-uitlaatgastelling van 171 g/km. Dit is heelwat laer as enige ander petrolaangedrewe 4×4-sportnutsvoertuig wat tans in SA beskikbaar is.

Die Jimny se naaste veelterrein-mededinger wat CO2-uitlaatgasvlakke betref is die groter en aansienlik duurder Audi Q5 2.0 TFSI, wat ’n CO2-uitlaatgastelling van 195 g/km behaal.

Boonop beskik die Jimny oor ’n behoorlike 4×4-dryfstelsel wat met ’n laestrek-oordraratkas toegerus is – ’n kenmerk waarsonder al sy regstreekse mededingers moet klaarkom.

Trouens, wat 4×4-SNVs met petrolenjins en laestrekratte betref, beklee Suzuki die voorste twee plekke op die CO2-uitlaatgasleer. Die Grand Vitara 2.4 4×4-handaratmodel beskik nes die hele Grand Vitara-reeks oor laestrekratte, en spog met ’n CO2-uitlaatgasvlak van net 212 g/km.

Die Grand Vitara 2.4 4×4 Outomaties en die Grand Vitara 3.2i 4×4 Outomaties behaal CO2-utlaatgastellings van 234 g/km en 249 g/km onderskeidelik, wat onder die laagste vlakke in hul onderskeie segmente tel.

Lewer kommentaar

Leave a Reply