Nuwe bakkie vir Jong Boer van die Jaar

Toyota Suid-Afrika en Agri SA het weereens kragte saamgesnoer om die Jong Boer van die Jaar kompetisie te verwesenlik.

Dit is vanjaar die sewende jaar wat Toyota en Agri SA saamwerk en vanjaar sal die wenner weer ’n Hilux-bakkie as prys ontvang. Vanjaar sal die Jong Boer van die Jaar en die wenner van die New Harvest kompetisie elk ’n bakkie tydens ’n gekombineerde gala-funksie in November 2010 ontvang.

Die Jong Boer van die Jaar kompetisie is die saamloop van nege provinsiale kompetisies waar jong boere, tussen 18 en 35, deelneem. Dié boere moet vir minstens twee jaar ’n lid van ‘n provinsiale affilasie van Agri SA wees. Die nege finaliste, een uit elke provinsie, word aan ’n wye reeks kriteria gemeet, insluitende hul boervernuf, finansiële- en sakevernuf en verskeie ander wetenskaplike maatstawwe.

Die welbekende Prof. Carlu van der Westhuizen staan aan die hoof van die paneel beoordelaars wat elk van die finaliste oor die loop van ’n paar weke in Oktober finaal sal beoordeel, voor die algehele wenner aangewys word.

“Om ’n jong boer te wees in ons mooi land het sy eie uitdagings, maar dit bly steeds ’n voorreg. Ek weet jong boere is hier om te bly. In ’n tyd wat alles onseker lyk, maar aangevuur deur hoop en vasberadenheid, glo ek jong boere sal alles wat hulle in die gesig staar die hoof kan bied. Die toekomsige sukses van die landboubedryf rus op die skouers van jong boere,” sê Carl Opperman, voorsitter van Agri SA se Kommunikasie en Beeldbou kommitee.

Tony da Costa, ’n jong boer van Nigel, is verlede jaar aangewys as Agri SA / Toyota SA se Jong Boer van die Jaar. Tony bestuur die Manjoh beesvoerkrale, stoetery en die meegaande mielie- en aartappel boerdery.

“Agri SA ag hierdie kompetisie, en Toyota SA se deelname, van groot waarde om jong boere soos Tony da Costa raak te sien. Dit is boere soos hy wat as rolmodelle vir jong boere optree en sodoende die toekoms van boerdery in Suid-Afrika verseker. Ons wil ’n beroep doen op alle jong boere om aan die kompetisie deel te neem deur hulle provinsiale kantoor te nader,” sê Opperman.

jong boer
jong boer

“Boerdery is ’n hoogs gespesialiseerde en veeleisende beroep en suksesvolle boere moet ’n wye reeks uiteenlopende en uitdagende areas bestuur en ook baie onverwagse uitdagings die hoof bied. Ons deelname spreek van ons bewondering vir die werk wat ons land se boere doen om kos op die nasie se tafels te sit. Dit is ook ’n natuurlike uitvloeisel van die noue band wat ons met boere gesmee het oor die loop van ons 30 jaar as markleier in Suid-Afrika,” sê Marius Vorster, Vise-President van Markbeplanning en Kommunikasie vir Toyota Suid-Afrika.

NEW HARVEST KOMPETISIE
Toyota Suid-Afrika het ook bevestig dat hy weereens die New Harvest-kompetisie vir opkomende boere sal aanbied. Die wenner sal sy prys ontvang tydens dieselfde gala-aand waartydens die Agri SA / Toyota SA se Jong Boer van die Jaar aangewys sal word.

Die New Harvest-kompetisie is gemik op boere wat ’n plaas vir minstens vyf jaar besit of bestuur en wat van ’n voorheen benadeelde agtergrond kom. Hierdie boere moet dikwels verskeie unieke struikelblokke, soos ’n gebrek aan hulpbronne en finansies, die hoof bied om ’n suksesvolle boer te word.

Toyota sal in hierdie kompetisie ook van die kennis van Prof. Carlu van der Westhuizen gebruik maak om elke provinsie se genomineerde finaliste te beoordeel. Die wenner van hierdie kompetisie sal ook wegstap met ‘n splinternuwe Hilux-bakkie.

Verlede jaar het Solly Ratjomane van Limpopo weggestap met die eerste prys. Solly boer in die Dendron-gebied in Limpopo op grond van die plaaslike stam wat hy van die gemeenskap huur. Solly boer met aartappels, droë bone, mielies en tamaties onder besproeiing en hy spog ook met ’n groeiende trop beeste.

Ontluikende boere wat belang stel om aan die New Harvest-kompetisie deel te neem kan Prof. Van der Westhuizen direk kontak by (051) 507-3434 of per e-pos aan cvdwesth@cut.ac.za.

(foto Arthur Rothstein [1915-1985])

Lewer kommentaar

Leave a Reply