Nóg ‘n nuwe borg het by die Absa-Veldrenkampioenskap aangesluit en 4×4 Mega World sal die borg wees van die 4×4 Mega World 400, die vyfde ronde van die nasionale reeks wat op 27 en 28 Augustus by Carnival City aangebied word.
Sunset Gear, ‘n filiaal van 4×4 Mega World, vervaardig sperratbande en herwinningstoerusting vir die plaaslike en internasionale markte. African Outback Products is die vervaardigingsarm van die 4×4 Mega World-groep en vervaardig ‘n verskeidenheid produkte vir die Suid-Afrikaanse en oorsese markte waarvan Europese lande een van hul grootste kliënte is.
4×4 Mega World het tydens onlangse seisoene twee spanne in Klas E van die Absa-Veldrenkampioenskap ingeskryf. Die 4×4 Mega World-Toyota Hilux-inskrywings was in die hande van 4×4 Mega World se Hoof-uitvoerende beampte, Deon Venter en Ian Palmer asook Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus.
Labuschagne en Erasmus het laas jaar se kampioenskap met ‘n enkele punt gemis en is vanjaar weer een van die aanspraakmakers op die titel. Tydens hul eerste ren van die seisoen het Venter en Palmer Klas D van die onlangse Sun City 400 gewen.
“Veldrenentoesiaste vorm ‘n groot deel van ons teikenmark in terme van produkte wat ons vervaardiger en verkoop,” het Venter gesê. “Vanuit ‘n bemarkingsoogpunt maak dit sin om ‘n byeenkoms soos die 4×4 Mega World 400 te borg.
“Dit is volgens ons die ideale manier om bewustheid vir ons handelsmerke te skep en te behou deur deel te wees van ‘n reeks wat professioneel hanteer word.”
Venter het bygevoeg dat 4×4 Mega World ook baie betrokke by bewaring en gemeenskapsprojekte is. Die maatskappy is aktief by projekte soos The Peace Park Foundation; Kingsley Holgate en die United Against Malaria-projekte; die Leopard Trust; Toyota Enviro Outreach; Arctic Trucks en Transfrontier Parks betrokke en help die plaaslike gemeenskappe om veldkombuise, sokkervelde en klaskamers te bou.
“Ons is ‘n maatskappy met ‘n sosiale gewete,” het Venter gesê. “Dit is belangrik om te probeer om die lewens van alle Suid-Afrikaners te verbeter.
“Ons hou daarvan om terselfdertyd besigheid met plesier te meng en die Absa-Veldrenkampioenskap speel dus ‘n baie belangrike rol.”
Die voorsitter van die SA Nasionale Veldrenvoertuigassosiasie, Richard Schilling, het gesê dat 4×4 Mega World se besluit om die Oos-Randse byeenkoms te borg, nóg ‘n aanduiding is van hoe gesond die Absa-Veldrenkampioenskap is. Donaldson Filtration Systems en Atlas Copco het ook vanjaar nuwe borge geword en ‘n nuwe borg vir die Bloemfontein 400 wat later die seisoen plaasvind, sal hopelik ook binnekort aangekondig word.
Die 4×4 Mega World 400-ren sal by Carnival City aan die Oos-Rand gebaseer wees. Die renhoofkantore, die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal by Carnival City wees.
Die byeenkoms sal toeskouervriendelik wees met verskeie publieke uitkykpunte wat binne maklike bereik van die renhoofkantoor sal wees. Toegang tot al dié areas sal gratis wees.
