Nuwe Corolla 1.3 Optimal Drive

 

Die groot nuus by die onlangse mediabekendstelling van die nuwe Corolla 1.3 was die feit dat hierdie motor, toegerus met Toyota se gevorderde Optimal Drive-enjintegnologie, spog met ‘n ongeëwenaard lae petrolverbruik. Dat dit nie ‘n leë belofte was nie, het die joernaliste wat die bekendstelling bygewoon het, toe self op evaluasieritte bewys.

Verbruiksyfers wat verkry is op die drie mediageleenthede in verskillende dele van die land het die monde van selfs die skerpste kritici van die kombinasie van ‘n klein enjin in ‘n relatief groot bak gesnoer.

Altesame 29 van Suid-Afrika se voorste motorjoernaliste het die nuwe Corolla 1.3 op besparingstipe ritte in Durban, Kaapstad en Gauteng bestuur. Op die drie streekbekendstellings moes die joernaliste die nuwe Corolla 1.3 bestuur op ‘n roete wat bestaan het uit stedelike, buitestedelike en hoofpad-bestuurstoestande – en hulle moes die roete binne ‘n bepaalde tyd voltooi. Die gemiddelde snelhede vir die verskillende roetes was net oor die 80 km/h.

Volgens Toyota self het die nuwe Corolla in toestande soortgelyk aan dié wat die joernaliste ervaar het, ‘n gemiddelde verbruiksyfer van 5,9 liter/100 km. Wat almal egter verbaas het, was dat die joernaliste se gemiddelde verbruiksyfer net 5,27 liter/100 km was – ofte wel byna 19 km (18,98) per liter!

2009 Toyota Corolla 1.3Die algemene verwagting was dat die beste verbruiksyfers by seevlak behaal sou word. Hier was nog ‘n verrassing, want die beste syfers is hoog bokant seevlak in Gauteng behaal. Die tien joernaliste in hierdie groep het ‘n gemiddelde verbruiksyfer van ‘n skrale 4,88 liter/100 km, of 20,49 km per liter, aangeteken.

Die nuwe 1,33 liter-enjin met Dubbele VVT-i-tegnologie spog nie net met ‘n ongelooflik lae petrolverbruik nie, maar dit bied topklas-verrigting met minder enjingeraas en ‘n uitstekende omgewingsverrigting. Dit werk tot 17 persent suiniger met petrol en as die 1,4 liter-enjin wat dit vervang en daar is ‘n 4 persent-toename in krag.

Die enjin self is kleiner en ‘n hele 13 kg ligter as die 1,4 liter. Net so is die nuwe sesspoedhandratkas wat die vorige vyfspoedeenheid vervang, ook kleiner en ligter. Hierdie kompakte en ligte sesspoedhandratkas is nou ook standaard-toerusting in die Corolla 1,6 liter-modelle.

Toyota se Optimal Drive-enjin van 1,33 liter bied tasbare voordele ten opsigte van ekonomie, verrigting en laer emissies. Danksy ‘n toename in krag tot 74 kW en die groter buigsaamheid van die sesspoedhandratkas is ‘n verbetering in die dinamiese verrigting van die motor oombliklik merkbaar.

Die bandstofverbruiksteiken wat in die ontwerp van die 1,4 liter-enjin gestel is, was 6,7 l/100km. Die teiken vir dieselfde motor met die 1,33 liter-enjin en sesspoedhandratkas was 5,8 l/100km. Terselfdertyd is CO2 -emissies verminder van 158 g/km tot 136 g/km, ‘n verbetering van 14%.

Die Dubbele VVT-i-kragbron verseker uitstekende buigsaamheid met ‘n wye wringkragbestek, plus meer as voldoende krag.

Brandstofverbruik behaal op die bekendstelling van die nuwe Corolla 1.3:

DURBAN:
Gemiddeld: 5,31 liter/100 km (18,83 km/liter)

KAAPSTAD:
Gemiddeld: 5,6 liter/100 km (17,83 km/liter)

JOHANNESBURG:
Gemiddeld: 4,88 liter/100 km (20,49 km/liter)

Gemiddele van al drie groepe: 5,27 liter/100 km (18,98 km/liter)


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply