Nuwe Prado TX volgepak met luukshede

Toyota Suid-Afrika het twee nuwe modelle, met TX-spesifikasievlak, by die Prado-reeks gevoeg om sodoende die luukse topvlak-VX-spesifikasievlak aan te vul.

Die nuwe modelle, soos die geval met die Prado VX, sal sitplek aan sewe insittendes bied en beskikbaar wees met die keuse van ‘n 4-liter V6-petrolenjin of ‘n 3-liter turbodiesel. Die TX-modelle sal, ten spyte van die feit dat hulle onder die VX-modelle inskuif, steeds volgepak wees met gebruiks- en gemakstoerusting, sowel as ‘n volle reeks aktiewe en passiewe veiligheidstelsels.

Die Prado 4.0 TX petrolmodel is toegerus met die hoogs aangeskrewe 1GR-FE 4,0-liter V6-enjin met 24 kleppe en dubbele bo-nokasse (DOHC). Hierdie vol-aluminium-enjin van Toyota is doelontwerp vir 4×4 sportnutsvoertuig (SNV) gebruik.

Die enjin lewer maksimum krag van 202 kW teen 5 600 rpm en die maksimum wringkrag van 381 Nm is beskikbaar vanaf 4 400 rpm. Dubbele VVT-i-klepreeling (intelligente wisselende klepreeling), in- en uitlaatpoorte wat hoogs doeltreffend is, komponente met lae wrywingskwaliteite en ‘n 10,0:1 drukverhouding dra by tot hierdie laegewig-enjin se verrigting.

Deur dubbele VVT-i te gebruik, word die enjin se in- en uitlaat-nokasse deurlopend verstel om die optinale verrigting te bied na gelang van die enjin se bedryfstoestande. Dit sorg vir beter kraglewering en brandstofverbruik, terwyl uitlaatgasse ook verminder word. Die uitlaatkatalisators word boonop in die uitlaatspruitstuk geïntegreer om doeltreffendheid te verbeter en gewig te bespaar. Die uitlaatgasvloei is geoptimaliseer om drukverlies te verminder en dit dra by tot beter verrigting.

Die Prado 3.0 TX Diesel is toegerus met die 1KD-FTV-enjin met direkte drukbuisinspuiting. Die viersilinderkragbron van drie liter spog met 16 kleppe, turboaanjaer en tussenkoeler. Die maksimum-krag van 120 kW word by 3 400 rpm gelewer en die top-wringkrag van 400 Nm tussen 1 600 en 2 800 rpm.

‘n Besonder doeltreffende wiektipe turboaanjaer met wissel-spuitstuk en aangedryf deur ‘n elektriese GS-motor word ingespan. Die wisselspuitstuktipe turboaanjaer pas die vloeikoers en die druk van die uitlaatgas aan wat die turbine binnevloei deur die wisselnosselwiek-meganisme wat aan die omtrek van die turbine aangebring is. Dit beteken dat die turboaanjaagdruk presies beheer kan word na gelang van die vereistes van die enjin en die bedryfstoestande. Verbeterings aan die inlaat- en brandstofinspuitstelsel verhoog wringkrag by lae enjintoere en help om uitlaatgasse te verminder.

Toyota Prado TX
Toyota Prado TX

Die elektronies beheerde drukbuis-brandstofinspuitstelsel bied buitengewoon goeie brandstofbeheer, met ‘n mikrorekenaar wat die inspuitdruk, inspuittydreëling en die volume van die brandstoflading beheer.

Albei die enjins is gekoppel aan ‘n elektronies beheerde outomatiese vyfgang-ratkas. Die ratkas het ‘n uitstekende verrigting, is besonder brandstofdoeltreffend en spog met gladde ratwisseling en lae geraasvlakke.

Eienskappe van die ratkas sluit in Flex Lock-up Control and AI- (Artificial Intelligence) Shift Control. Flex Lock-up Control vergroot die bedryfsbestek van die sluitkoppelaar deur glip presies te beheer om brandstofekonomie te verbeter. AI-Shift Control verseker groter bestuursgerief deur die ratwisselpatroon outomaties aan te pas by die padtoestande en die waargenome intensie van die bestuurder op grond van sy beheerinsette. Wanneer daar teen ‘n opdraande uitgery word, voorkom die stelsel onnodige wisselings tot ‘n hoër rat, en wanneer teen ‘n afdraande af gery word, sal die stelsel outomaties ‘n laer rat kies vir optimum-enjinremming.

Die Prado is toegerus met ‘n heeltydse vierwieldryfstelsel met ‘n Torsen-tipe wringkragbespeurende beperkte glip-middelewenaar. ‘n 4WD-beheerskakelaar vervang die tradisionele vloergemonteerde oordraskakelhefboom in die vorige modelle en maak die bedryf van die stelsel eenvoudiger. Hierdie radiaal-tipe beheerskakelaar word in die sentrale konsole gehuisves.

Toyota Prado TX
Toyota Prado TX

Belangrikste eienskappe van die Land Cruiser Prado:

Veelterrein-ABS-remstelsel
Elektroniese remhulp
Elektroniese remkragverspreiding
Aktiewe voertuigstabiliteitsbeheer
Opdraende-wegtrekhulp
Afdraende-spoedbeheer
Tru-monitor met sonarbeheer
Elektriese kantspieëls met elektriese terugklapmeganisme en geïntigreerde flikkerligte
Oorhoofse konsole met “gesprek”-spieël, sonbrilhouer en Bluetooth-mikrofoon vir handvrye selfoongebruik
Lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, knielugsak vir die bestuurder en sitplekkantlugsakke
Vollengte-gordynlugsakke vir die beskerming van insittendes van al drie rye sitplekke
Kinderstoelstelsel
Handverstelbare-lighoogtestelling
Kanttrappe
17 duim-allooivellings met 265/66 R17-bande
Volgrootte-noodwiel met volle wielbedekking aan agterdeur
Leerbekleedsel op sitplekke
Kragstuur
Elektriese kantel- en teleskopiese stuurwielverstelling met geheuefunksie
Vierspeek-leerstuurwiel met satellietkontroles vir die klankstelsel, inligtingskerm en Bluetooth handvrye selfoonstelsel
Dubbele lugreëlingstelsel (petrol) en enkel lugreëlingstelsel (diesel)
Veelinligtingsvertoonskerm
Ekobestuur-aanwyser
Klankstelsel met CD-speler, RDS-radiostelsel met 6 luidsprekers en USB- en Bluetooth-versoenbaarheid
Verstelling vir die voorsitplekke – op ses maniere vir die bestuurder en op vier maniere vir die voorste passasier. Sitplekverwarmers standaard.
Agterste konsolehouer met koelkassie
Drie 12V-kragpunte vir toebehore
Slim toegangstelsel met “Push-to-Start”-funksie
Elektriese deurslotte met dubbelsluitstelsel
Transponder-immobiliseerstelsel
Indring-alarmstelsel
87 liter-brandstoftenk met ‘n tweede tenk van 63 liter (altesame 150 liter)

Die nuwe Land Cruiser TX 4.0 V6 petrolmodel kos R558 500 en die TX 3.0 DT turbodiesel kos R546 400. Albei modelle se prys sluit ‘n 5 jaar / 90 000 km ToyotaCare diensplan in.

Lewer kommentaar

Leave a Reply