OTT suksesvol teen geldwa-rowers

Die aantal transito-rooftoge op geldwaens het die afgelope tyd aansienlik afgeneem namate die vervaardigers van hierdie gespesialiseerde voertuie hul sokkies behoorlik opgetrek en nuwe skietgoed gekry het. Ongelukkig het die bykans onoorwinlikheid van die jongste generasie geldwaens daartoe gelei dat die booswigte hulle nou toespits op sagter teikens soos tellermasjiene, restaurante en winkels, wat beteken dit het tyd geword om die veiligheidsmaatreëls by sulke plekke op te kikker.

Een van die maatskappye wat aan die voorpunt van die verbetering van die weerstand van geldwaens teen rowers is, is OTT (Off-Road Trucks & Trailers) wat van ‘n effens ongewone nywerheidsperseel van 8 hektaar oos van Pretoria en suid van die snelweg van Pretoria na Mpumalanga af sake doen.

Clive Lewis, die hoofbestuurder van OTT, en sy span het ‘n geleentheid identifiseer om ‘n beter geldwa te bou toe die lig-gepantserde paneelwaens wat voorheen algemeen vir die vervoer van geld gebruik is, rowers se gereelde teikens geword het. Bendes het dié geldwaens met gesteelde motors wat van lugsakke voorsien was, van die pad af gestamp en hulle dan beroof. Die veiligheidswagte is dikwels ook vermoor of ernstig beseer of gewond.

OTT het aanvanklik in ‘n samewerkingsooreenkoms met die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) saamgespan om ‘n prototipe te bou wat op ‘n vragmotor eerder as ‘n ligte paneelwa geskoei is. Die maatskappy het sedertdien sy eie ontwerp en produkingenieursvermoë ontwikkel wat deesdae vir al sy bestaande produkte verantwoordelik is.

mavOTT se groot sukses was die MAV (modulêre gepantserde voertuig) wat op die kajuit-onderstel van ‘n Hino 13-32-wipbakvragmotor gegrond is. Buiten die ruim kajuit van dié voertuig, wat ook vir die vervoer van goudstawe, geld of ander waardevolle goed gebruik word, is hy teen 9 ton baie swaarder as ‘n paneelwa en kan dus nie deur ‘n motor van die pad af gery of omgestamp word nie.

Hul verrigting en brandstofverbruik is ook baie goed aangesien die voertuie 5,5 ton ligter as hul hoogste bruto voertuigmassa (BVM) is. Lewis verwag dat die voertuie in hierdie toestande met so ‘n ligte loonvrag en met gereelde instandhouding en behoorlike sorg maklik tot ‘n miljoen kilometer sal kan kafdraf voordat groot komponente vervang sal moet word. (Van die MAV’s wat huidiglik in diens is, het reeds meer as 300 000km sonder enige groot meganiese probleme afgelê.)

Maar om ‘n stompneus-vragmotor na ‘n “gewone” snoetvragmotor met ‘n vriendelike “gesig” om te bou, was nie juis maklik nie. Die ombouing het veranderings aan die stuur- en remkomponente sowel as die ontwikkeling van ‘n verlengde bedradingsharnas en splinternuwe bakpanele vereis.

“Die feit dat die meeste komponente egter standaard-Hino-komponente is en dat onderdele en werkswinkels geredelik regoor Suid-Afrika beskikbaar is, het vir operateurs baie in die guns van die nuwe voertuig getel,” het Lewis gesê. “Ons eerste klant was SBV, die gesamentlike onderneming tussen die banke, en ons het sedertdien MAV’s aan verskeie mynhuise sowel as soortgelyke ander operateurs wat in waardevolle items handel dryf, verskaf. Ons het nou al meer as 170 MAV’s op die Hino-onderstel gebou, waaronder ‘n enkele produksielopie van 150 eenhede toe die geldwabedryf van paneelwaens na hierdie swaarder vragmotor-tipe voertuie oorgeskakel het.”

m22OTT het ook sy reeks onlangs uitgebrei met ‘n ligter M22-pantservoertuig wat op die onderstel van ‘n Toyota Dyna 8-145 gegrond is. Hierdie model slaan groot munt uit sy meer kompakte buite-afmetings, relatiewe groot binneruim en sy vermoë om ‘n klein, maar swaar vrag, te dra terwyl hy ook weens ‘n knap draaisirkel baie maklik in beknopte toestande kan rondbeweeg.

Dié model, wat ook baie ligter as sy toegelate BVM is, het pas omvattende toetse by die Gerotek-toetsterrein ondergaan om te verseker sy opgegradeerde enjin wat onlangs in hierdie Dyna-model gemonteer is, voldoen aan al OTT se vereistes, ook wat verkoeling betref.

Die maatskappy het ‘n baie goeie werksverhouding met Toyota Vragmotors en die Hino-gegronde MAV sowel as die Dyna-gegronde M22 blyk uiters betroubaar te wees. Operateurs geniet die gewone waarborgdekking, behalwe vir die veranderings wat deur OTT gedoen is. Tegniese spesifikasies word voortdurend verbeter om aan klante se behoeftes te voldoen.

OTT probeer om die meeste komponentvervaardigingsbedrywighede binnenshuis te hou ten einde die beste gehalte te verseker, terwyl dié gebruik ook die maatskappy se intellektuele eiendom in die ontwerp van die voertuie beskerm. Tegnologie wat in die vervaardigingsproses gebruik word, sluit in water-, laser- en plasma-snywerk, sowel as uiters gespesialiseerde sweistoerusting. Die meeste van die buitepanele word gemaak van spesiale ballistiese staal wat uit Swede ingevoer word.

Die gepantserde voertuie geniet groot belangstelling van ander lande in Afrika, wat tot die ontwikkeling van ‘n linkerstuur-weergawe van die M22 gelei het. Die feit dat hierdie grondslag-voertuie gewilde Hino- en Dyna-modelle is, maak dit ook betreklik maklik om dié voertuie ver buite die grense van Suid-Afrika te steun.

Volgens Lewis het die logistiek en beskikbaarheid van sommige onderdele wat benodig word om gespesialiseerde gewese weermagvoertuie van private operateurs te steun, ‘n groot kopsorg geword – vandaar die fokus op voertuie wat op die baie beskikbare Hino- en Dyna-vragmotoronderstelle gegrond is.

OTT is in 1980 gestig deur “MN” Booysen, ‘n boorgat-kontrakteur wat sy hande in sy hare gehad het omdat sy boormasjienvoertuie gereeld vasgeval het. Dit het hom genoop om ‘n gewese weermag-6×6-vragmotor te koop wat hy tot ‘n uiters suksesvolle boormasjien wat orals kon ry, omgeskep het. Dit was nie baie lank voordat ander kontrakteurs “MN” genader het om vir hulle soortgelyke omgeboude militêre voertuie te bou nie, en OTT is gebore.

“MN” se seun, Stefan, het hom later by OTT aangesluit, en is daarna deur sy skoonseun, Clive Lewis, gevolg. Die onderneming het vinnig uitgebrei namate al meer gewese weermag-4×4’s en -6×6’e aangeskaf en in hul oorspronklike vorm hervervaardig is om in vredesoperasies gebruik te word, of omgebou is vir burgerlike gebruik in ‘n aantal nywerheidsektore regoor Suider-Afrika.

OTT is steeds ‘n familie-onderneming. “MN” Booysen is nog as stigter by die maatskappy betrokke – hoofsaaklik met die hervervaardiging van voertuie – terwyl sy seun (Stefan) die produksiedirekteur en sy skoonseun (Lewis) nou die hoofbestuurder is.

Die ontwikkeling van die nuwe gepantserde voertuie volg op die ervaring wat die maatskappy uit die hervervaardiging van gewese militêre voertuie opgedoen het, en die maatskappy voldoen deesdae aan ISO 9001-sertifisering. Al die voertuie word deur die SA Buro vir Standaarde (SABS) gehomologeer. Die reeks wat OTT aanbied, behels geldwaens, gepantserde personeeldraers, onlusbeheervoertuie, begeleidingsvoertuie en pantservoertuie vir die vervoer van BBP’s. Die voertuie is as 4×2- of 4×4-weergawes beskikbaar.

Die huidige produksievermoë beloop sowat 20 voertuie per maand, en bestaan uit 13 tot 17 nuwe voertuie en vyf tot sewe hervervaardigde voertuie. Dié syfers kan maklik verhoog word afhangende van klante se vereistes en die ingewikkeldheid van die voertuie wat gebou moet word.

Die maatskappy bly op hoogte van die jongste tegnologie deurdat die bestuur verwante handelskoue en vervaardigingsgeriewe regoor die wêreld waar soortgelyke produkte gebou word, gereeld besoek.

Die maatskappy het nagenoeg 200 mense in diens, van wie baie al lank daar werk. Trouens, van hulle se kinders het al by hulle by die maatskappy aangesluit.

Opleiding speel voortdurend ‘n groot rol om die beste gehalte vakmanskap te verseker, en hoogs ervare en afgetrede sweisers en die hulpbronne van die SA sweisinstituut word hiervoor ingespan.

Die oorspronklike gebou was ‘n slagpale, en het die grondslag gebied vir die bestaande gebouekompleks wat nou ‘n oppervlak van oor die 6 000m2 dek en ‘n hipermoderne spuitverfhok van 120m2 insluit. ‘n Diesel-kragopwekker staan gereed om in te spring sodat die werk kan voortgaan wanneer kragonderbrekings voorkom.

Hoewel die koms van die OTT-vervaardigde MAV- en M22-pantservoertuie tot ‘n groot daling in die voorkoms van transito-rooftoge gelei het, bly die vraag na hierdie voertuie plaaslik sowel as in ander Afrika-lande styg. Die innoverende span by OTT is ook voortdurend op soek na nuwe ontwikkelings op hierdie gebied, terwyl produksie die bestaande reeks voortgaan.

Lewer kommentaar

Leave a Reply