Elders aan diens

Die digter, skrywer, dramaturg en rubriekskrywer Jeanne Goosen is die tema van ‘n nuwe kabaret, wat tydens die pas afgelope KKNK gedebuteer het.

Elders aan diens is geskoei op ‘n bundel gedigte met dieselfde titel waarin Jeanne skryf oor haar ouers, kreatiwiteit, honde en hoe sy haar krag as kunstenaar ontdek het. In Curriculum Vitae sê sy: “Toor en skryf / is soos om te droom sonder om te slaap / Dit het begin toe ek een aand in Stellenbosch / ‘n roos in ‘n kat verander het …”

Elders aan diens is ‘n musiek-vertolkingsteaterstuk van die hoogste gehalte met sang en aanbieding wat soms aan Laurie Anderson en Diamanda Galas herinner. Die bekroonde aktrise Nicole Holm vertolk die rol van Goosen met die sangeres Luna en die aktrise Frieda van den Heever agter die klawers en mikrofone. Met die kranige spelleiding van Albert Maritz is dit egter ‘n driepas waarin al drie sing, toneel speel en soms voordra. Die drie formidabele vroue het van Goosen se gedigte getoonset en daarin geslaag om die regte toonaard van waansin, wanhoop, verwondering en humor raak te slaan en die verskillende luime van die digter te vergestalt.

Nicole Holm is daarvoor bekend dat sy haar lyf uitleen aan karakters. Sy het Goosen geword. Luna is so ‘n onderskatte sangeres dat ‘n mens net wil uitstorm en haar CD aanskaf. Frieda van den Heever knoop haar lyf, dans en hang letterlik kop onderstebo terwyl sy ‘n gedig voordra. Verbluffend!

In sowat 75 minute word ‘n mens meegevoer, bevind jou op die punt van jou stoel, maar voel nes Goosen dat jy in die mees liefdevolle en soet oomblik ‘n oorveeg kry.

Elders aan diens is ‘n blink juweel.

Frieda van den Heever en Nicole Holm (foto: Brenda Veldtman)
Frieda van den Heever en Nicole Holm (foto: Brenda Veldtman)

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply