‘n Besoek aan Parys en kontantprysgeld wat nie te versmaai is nie wag op die algehele wenner van die nasionale Sanlam Vuleka-kunskompetisie vir nuwe werk.
Vuleka is die Xhosa-woord vir ‘oop’ en dra oor dat dié prestigeryke landswye kunskompetisie oop is vir enige kunstenaar wat permanent in Suid-Afrika woon, ouer as 18 jaar is en wat nie die afgelope drie jaar ‘n solo-tentoonstelling gehou het nie.
Maar slegs oorspronklike kunswerke wat gedurende 2008/2009 voltooi is, mag ingeskryf word.
Die kompetisie word jaarliks deur die Kunsvereniging van Bellville (art.b) in samewerking met die finansiëledienstegroep Sanlam aangebied. Dit is daarop gerig om veral kreatiwitieit, innovering en avontuurlike kuns uit alle kulture aan te moedig. Gekeurde kunstenaars sal ook deel wees van ‘n groeptentoonstelling in die art.b-galery van 9 tot 30 September.
Kunstenaars kan onbeperk kunswerke in enige van die volgende drie kategorieë inskryf, selfs almal:
Skilderye in olie-, water- of akrielverf;
Drie-dimensionele werke, keramiek ingesluit; en
Werke in enige ander medium, fotografie ingesluit.
Benewens ‘n wenner in elke kategorie, sal die beste kunswerk algeheel aangewys word.
Vir die algehele wenner wag ‘n tjek vir R10 000 en ‘n GRATIS retoervliegkaartjie na Parys, Frankryk – die ideale geleentheid om nuwe besieling in die kunste te vind en sy/haar horisonne te verbreed.
Vir elke kategoriewenner is R5 000 op die spel.
Kunstenaars mag ook hul werke te koop aanbied.
Vir inskrywingsvorms/nadere inligting oor die kompetisie kan belangstellendes Maxie Oosthuizen nader by 021-918 2301 of maxie.oosthuizen@capetown.gov.za of sommer by die art.b-galery inloer in die Biblioteeksentrum, Carl van Aswegenstraat, Bellville.
