Die nuwe Prado TX van Toyota brei die Prado-reeks uit van slegs twee topvlak-VX-modelle tot vier modelle op die Prado platform. Die reeks is in Oktober verlede jaar bekend gestel.
Die ontwerpopdrag vir die nuwe Prado TX em VX het vereis dat enige toename in die algehele grootte tot die minimum beperk word om die uitstekende ratsheid en hanteerbaar van die huidige model, en ook die Prado se mediumgrootte karakter te behou. Gevolglik is die lengte met net 45 mm en die algehele breedte met net 10 mm vergroot. Die algehele voertuighoogte is met 20 mm verminder.
Die nader- en die vertrekhoek, wat so belangrik is in die voertuig se uitmuntende veldryvermoë, is onderskeidelik 32 en 25 grade – beter as in die vorige-generasie Prado model.
Binne die nuwe buite-ontwerp van die nuwe Prado het die ontwerpspan die binneruimte en nutswaarde van die voertuig verbeter. Die kajuit is 35 mm langer, 5 mm breër en die ruimte tussen die bestuurder en die voorste passasier is met 30 mm vergroot.
Veiligheid danksy bougehalte en ontwerp
Trekvaste staal word op groot skaal in die bakstruktuur gebruik om bykomende sterkte te verleen, onder meer die area rondom die enjinruimte, die vloer, kantrame, insluitende die A- en die B-pilaar, die area rondom die agterbuffer en die dwarsversterkings in die dak. Dit verseker ‘n ligte, maar terselfdertyd uiters rigiede bakstruktuur.

Sinkbedekte plaatstaal word gebruik op al die plekke wat aan korrosie blootgestel is, soos die deurpanele, die sykante van die voertuig, enjinkap en die agterdeur. Die omvattende gebruik van hierdie materiaal verseker uitstekende roes- en korrosiebestandheid.
Die nuwe Prado is ontwerp om die voertuig se insittendes te beskerm danksy ‘n sterk en rigiede impakbestande veiligheidsel. Die veiligheidsel (die romp van die voertuig) is gemonteer op ‘n leerraam-tipe onderstel wat self ook ontwerp is om die impak van ‘n botsing te absorbeer en energie weg van die passasiersel te kanaliseer.
Passiewe veiligheid
‘n Sleutelelement van die passiewe veiligheidseienskappe op die VX en TX-modelle is die omvattende lugsakbeskerming. ‘n Dubbelstadium-lugsak vir die bestuurder en ‘n enkelstadium-lugsak vir die voorste passasier verskaf beskerming aan die voorste insittendes. Dit word aangevul deur sitplekkantlugsakke vir die voorste sitplekke en ‘n knielugsak vir die bestuurder. Gordynlugsakke bied kantbeskerming vir al drie sitplekrye.
Vir beskerming in die geval van ‘n botsing van voor het die versterkings van die voorste pilaar ‘n veellaagkonstruksie tussen die dakrelingversterking en die tussenkap vir groter weerstand teen vervorming, en groter weerstand teen botsenergie wanneer dit wel vervorm word. Dit beperk bakvervorming in die geval van ‘n botsing van voor. Die onderste deel van die voorste pilaarversterkings het ook ‘n veellaagkonstruksie en die buitenste tuimelaars het ekstra-sterk versterkings.
Die Prado se vermoë om botsenergie in die geval van ‘n botsing van die kant te absorbeer, word verbeter danksy die gebruik van trekvaste plaatstaal in die voorste pilare en ultra-sterk trekvaste staal vir die middelpilaar en die tuimelaarseksie. Dit alles verseker uitmuntende laterale sterkte.
Die posisie van die dwarsbalke in die vloer is geoptimaliseer om botsenergie doeltreffend te versprei en vervorming van die kajuit te beperk. Die dakversterking het ‘n geslote boonste en onderste seksie om sterkte met die geassosieerde komponente optimaal te balanseer om kajuitvervorming verder te beperk.
Die vloerstruktuur en die dwarsbalke is so ontwerp dat dit ‘n uiters doeltreffende, veelvoudige pad verskaf waarlangs botsenergie van die middelpilaar af weggelei kan word. Net so versprei die binneste tuimelaar-tot-raam-pad botsenergie van die buitenste tuimelaar af op ‘n uiters doeltreffende wyse.
Deurpanele en deurbeslag met ‘n skuimstopsel is strategies geplaas om bekkenbeserings in die geval van ‘n botsing van die kant te verminder. Die deurprofiele is geoptimaliseer en ‘n frommelbare armstutkonstruksie word gebruik om buikbeserings in die geval van ‘n sykantse botsing te beperk. Daarby is daar energie-absorberingstrukture en -materiale in die binnepilaar en die dakbeslag om kopbeserings te beperk.
Afgesien van al hierdie maatreëls om die insittendes te beskerm, is daar ook dié om voetgangers te vrywaar in die geval van ‘n botsing. Die voorste deel van die enjinkap is ontwerp om botsenergie te absorbeer, en in die enjinkapkonstruksie self word oorlangse versterkings ingespan.
Agter die versterking van die enjinkapslot is daar frommelpunte en energie-absorberende afsluitpunte om te verseker dat daar voldoende ruimte onder die enjinkap is om botsenergie te absorbeer in die geval van ‘n voetgangerbotsing. Die agterste deel van die tussenkap het ‘n energie-absorberende oop dwarsseksie om beserings te beperk.
Verskeie ander maatreëls is getref om voetgangerkop- en beenbeserings te beperk, onder meer in die plasing van die ruitveërs, die aanbring van frommelpunte in die bufferhegpunte, en dies meer.
Gevorderde veiligheidsfunksies
The 17 dm. allooivellings waarmee die Prado toegerus is, maak voorsiening vir die montering van remskywe met ‘n groter deursnee en met groter remknypers. Dit sorg vir uitsonderlike remvernuf en ‘n beter weerstand teen remvaagheid. Geventileerde skywe word reg rondom gebruik.
‘n Rits elektroniese bestuursveiligheidshulpstelsels word ingespan, insluitende:
• ABS sluitweer-remstelsel
• Elektroniese remhulp
• Elektroniese remkragverdeling
• Aktiewe vastrapbeheer
• Voertuig-stabiliteitsbeheer
• Opdraende wegtrekhulp
• Afdraende spoedbeheer
ABS remstelsel: Die Prado TX is toegerus met die nuutste generasie ABS-stelsel, wat seker maak dat die beste remkrag beskikbaar is in selfs die moeilikste omstandighede.
Elektroniese remhulp: Wanner die remhulpstelsel, deur middel van die rempedaal-insette van die bestuurder, bespeur dat die voertuig in ‘n noodremsituasie is, sal dit outomaties sterker remkrag genereer om die bestuurder in staat te stel om die voertuig in die kortste moontlike afstand tot stilstand te bring.
Elektroniese remkragverdeling (ERV) om te verseker dat die remkrag optimaal na al vier wiele versprei word vir die allerbeste remverrigting. Elektroniese remkragverspreiding gebruik die hidroulika van die ABS-stelsel om die remkrag tussen die voor- en die agterwiele ten beste te versprei afhangende van die bestuurstoestande en die voertuigvrag. Wanneer die bestuurder in ‘n draai rem, sal die ERV-beheer die verspreiding van die remkrag tussen die buitenste linker- en regterwiel optimaliseer om voertuigstabiliteit te handhaaf vir die optimum-remming
Die Voertuigstabiliteitsbeheerstelsel (VSB) bespeur enige sywaartse glipbeweging en help die bestuurder om die voertuig onder beheer te kry deur die enjinkraglewering te beheer en elke wiel afsonderlik te rem.
Heuwelwegtrekhulpbeheer (HHB). Hierdie stelsel voorkom dat die voertuig agteruitloop wanneer daar teen ‘n steil helling weggetrek word. Die stelsel bespeur enige trubeweging wanneer die bestuurder sy voet van die rempedaal afhaal om weg te trek en pas remkrag toe.
Afdraende spoedbeheer help die bestuurder om die voertuig te stabiliseer en te voorkom dat die voertuig by ‘n afdraende afjaag, veral in veldry-omstandighede. Die stelsel sorg dat die voertuig ‘n sekere spoed teen afdraendes handhaaf en sorg ook vir beter stabiliteit deur selektiewe remkrag toe te pas.
Hersiene veerstelsel
Die nuutste Land Cruiser Prado-platform bied uitsonderlike vlakke van betroubaarheid, bekwamer veldryvermoë en meer gerief. Voor word ‘n onafhanklike dubbelmik-veerstelsel ingespan, en agter ‘n vierskakelstelsel met sybalke. Albei die stelsels benut krulvere en is fyn gestel met die oog op uitstekende hantering, stabiliteit en rygerief. Die veerstelselslag is dieselfde as in die vorige model vir uitmuntende ryvermoë oor alle soorte terrein.
Verminderde GVH
Die Prado TX se vlakke van geraas, vibrasie en hardheid (GVH) het heelwat aandag geniet, juis om die oordrag van GVH na die kajuit te verhoed, soos verwag word in modernde motors. Om hierdie taak aan te pak is daar ruimskoots gebruik gemaak van skuim-seëlaar en ander klankdempende materiale, wat reg deur die romp ingespan is. Dit is ook in die vloer ingebou. Daar is ook heelwat aandag gegee aan die vermindering van windgeraas tussen die glas en deurpanele en die motor is toegerus met ‘n akoesties-effektiewe windskerm, waar ‘n dun laag klankisoleringsmateriaal tussen die verskillende lae glas ingebou is, vir beter klankdemping.
