Puik verrigting, ongeëwenaarde waarde

Die Suzuki Swift betree die Suid-Afrikaanse mark in Junie 2008 as ‘n sterk nuwe speler in die kategorie vir kompakte motors.

Die aantreklike luikrug ding mee in die B-segment van die mark en bied ‘n treffende stileringspakket wat hom van ander, meer gevestigde spelers onderskei. Die motor bied boonop ‘n aangrypend dinamiese bestuurservaring, en buitengewone waarde vir geld.

Die waarde-aanbod van die Swift stel ‘n nuwe maatstaf in dié klas, danksy uitsonderlik aantreklike pryse en ‘n allesomvattende naverkopediens- en waarborgpakket wat onder die ‘Suzuki Complete’-vaandel gebied word.

Dit word aangevul deur ‘n lang lys standaardkenmerke wat seker maak dat die Swift selfs die stoutste verwagtinge oortref.

Met die bekendstelling van die Swift word drie weergawes beskikbaar gestel. Aldrie word deur ‘n lewendige viersilinderenjin van 1,5 liter met VVT-aanpasbare kleptydreëling aangedryf. Maksimum-kraglewering beloop ‘n indrukwekkende 74 kW by 6 000 r/min, bygestaan deur ‘n gesonde wringkragpiek van 133 Nm by 4 000 r/min.

Met ‘n basiese padmassa van net 980 kg, is dié kraglewering genoeg om die vyfgang-handratweergawe van die Swift in net 10,0 sek van 0-100 km/h te laat versnel. Die weergawe met ‘n outomatiese viergangratkas versnel in 11,7 sek van 0-100 km/h.

Daar is ook geen tekort aan snelheidspotensiaal nie: die 1.5-handratmodel behaal ‘n topsnelheid van 175 km/h, terwyl die outomatiese weergawe 170 km/h bereik.

Die wiel- en bandkombinasie met ‘n deursnee van 15 duim wat as standaard gepas word, weerspieël die Swift se dinamiese persoonlikheid.

Die staalvellings van 5.5Jx15 op die GL-weergawes word met volgrootte wieldoppe toegerus en met 185/60 R15-bande geskoei. Op GLS-modelle is 5.5Jx15-allooiwiele standaard, terwyl die bandgrootte van 185/60 R15 onveranderd bly.

Ondanks die Swift se sportiewe talente, was doeltreffendheid ook een van die ontwerpoogmerke van dié luikrug.

Die gekombineerde siklus-brandstofverbruiksyfer van net 6,1 l/100 km vir die handratmodel verseker dat die brandstoftenk van 43 liter vir ‘n tipiese reikafstand van ongeveer 600 km sorg. Die outomatiese weergawe se verbruiksyfer beloop 6,5 l/100 km.

Die kragbron voldoen boonop aan die Euro 4-uitlaatgasstandaard, met ‘n C02-uitlaattelling van 151 g/km vir die handratmodel en 160 g/km vir die outomatiese weergawe.

Die intreevlak-Swift is die 1.5 GL-weergawe, wat met ‘n uiters mededingende prysetiket spog. Nogtans is die vlak van standaardtoerusting alles behalwe basies en sluit ‘n lys kenmerke in wat gewoonlik net by baie duurder motors aangetref word.

Om by die Suzuki se vernuftige ontwerp en gevorderde uitvoering te pas, is die gerief en weelde wat die Swift bied ook uit die boonste rakke. Die toerustinglys sluit onder meer kragstuur, ‘n verstelbare stuurkolom, elektriese ruite voor en agter en elektries-verstelbare kantspieëls in, asook sentrale sluiting met afstandbeheer en ‘n fabrieksgeïnstalleerde immobiliseerder en alarm.

Lugversorging met ‘n stuifmeelfilter wat die luggehalte in die motor aansienlik verbeter is ook standaard, terwyl die GL met ‘n vooraf-geïnstalleerde lugdraad en vier luidsprekers spog. ‘n Skyfspeelradio kan opsioneel teen bykomende koste geïnstalleer word.

Die volledige stel instrumente bestaan uit ‘n geïntegreerde uitleespaneel in die instrumentepaneel wat die tyd, buitetemperatuur en brandstofverbruik aandui. Daar kan tussen onmiddellike en gemiddelde verbruiksyfers gekies word.

Die binneruim se ontwerp is beide stylvol en prakties. Onder die belangrikste kenmerke tel bekerhouers voor en agter, voorsitplekke wat met klasbeste verstelbestek van voor na agter spog, en ‘n agtersitplek wat 60/40 verdeel is. ‘n Verbasend groot laairuim word geskep wanneer die agtersitplek platgevou word.

Die agterste luik kan elektronies met die druk van ‘n knoppie van binne oopgesluit word, wat toegang tot die bagasiebak vergemaklik. Die petrolvulklap kan eweneens van binne oopgemaak word.

‘n Groot getal nuttige bergruimtes en -kompartemente is strategies in die binneruim versprei en sluit onder meer groot voorste deurvakke, ‘n oulike ooptreklaai onder die voorste passasiersitplek en ‘n groot paneelkissie in.

Die meer weelderige GLS-spesifikasie is as beide ‘n vyfgang-handratmodel en ‘n viergang-outomatiese weergawe beskikbaar en voeg onder meer ‘n puik klankstelsel met ses luidsprekers by die Swift-pakket.

Die stelsel is ten volle in die instrumentepaneel geïntegreer en bied kenmerke soos ‘n skyfspeler wat ook MP3-musieklêers kan speel, snelheidaanpasbare klankvlakbeheer en hulpkontroles op die sportiewe driespeek-stuurwiel.

In die geval van die GLS is die stuurwielraam met leer oorgetrek, terwyl die GL-model s’n van gewone uretaan gemaak is.

Onder die ander onderskeidende kenmerke tel voorste misligte wat die vooraansig nog sportiewer laat lyk en die allooiwiele wat reeds genoem is, asook ‘n veiligheidspakket wat kantlugsakke en gordynlugsakke by die GL se voorste twee lugsakke voeg.

Alle Swift-weergawes word met ‘n waarborg van drie jaar/100 000 km voorsien, asook ‘n diensplan van vier jaar/60 000 km. Dit verteenwoordig ‘n uiters mededingende waarborg- en diensplanpakket in die B-segment van die mark.

Suzuki bied bykomend ‘n padbystanddiens van drie jaar, wat onder meer mediese noodreddingsdienste insluit. Boonop word alle Suzuki Swift-modelle ook met ‘n Altech Netstar Sleuth-opspoorstelsel toegerus, wat teen ‘n opsionele maandelikse fooi geaktiveer kan word om nog meer gemoedsrus te bied.

Pryse:
Swift 1.5 GL R116 900
Swift 1.5 GLS R131 900
Swift 1.5 GLS Outomaties R144 900

Lewer kommentaar

Leave a Reply