Met: Mimi Rogers
Regisseur: Troy Miller
Hier het ons beslis ´n wenner! Dumb and Dumberer is sover die swakste film om in 2003 die lig te sien. Hoe swak hierdie fliek vir jou gaan wees hang net af van hoe naby familie jou ma en pa was.
Dumb and Dumberer is ´n prequel van Dumb and Dumber (1994). Ooglopend is nie een van die regisseurs of sterre van die fliek betrokke by hierdie opvolg nie.
Die film speel af in 1986 en vertel die storie van hoe die oorspronklike karakters ontmoet het. Iewers is daar ´n skelm skoolhoof en ´n mooi meisie of twee.
Ek kon hierdie film om die dood toe nie snaaks vind nie. Die regisseur dink blykbaar ons is almal ses jaar oud en sal giggel as ons genoeg vloekwoorde in ´n ry hoor. Ongelukkig vir hom mag klein kindertjies nie na hierdie film gaan kyk nie. Ek stel ´n kursus in die afbraak van humor voor vir Meneer Miller.
Die enigste positiewe opmerking wat ek kan maak is dat Eric Christian Olsen vir Jim Carey goed namaak.
Ek gaan myself daarvan weerhou om ´n woordeboek vol negatiewe byvoeglike naamwoorde in die rigting van Dumb and Dumberer te slinger. Al wat ek ten laastens wil voorstel is dat hierdie fliek ´n waarskuwing moet dra vir potensiële breinskade.
0/10
