Ruimte, styl en gevorderde tegnologie in nuwe Prius

Toyota se Prius word internasionaal allerweë beskou as ‘n omgewingsvriendelike ikoon. Met die jongste model het Toyota nog ‘n stap of twee verder gevorder danksy ‘n ontwikkelingsproses waarin daar gekonsentreer is op die gebruik van innoverende, gebruikersvriendelike tegnologieë, asook om die Prius se lugdinamiese verrigting te verbeter, omgewingsbewustheid te vergroot, gehalte nog verder te verbeter en om aan die motor ‘n meer verfynde beeld te gee.

Net soos in die geval van die vordering wat gemaak is tussen die eerste en die tweede geslag van die Prius, verteenwoordig die jongste model ‘n ewe dramatiese evolusie teenoor sy voorganger. Die primêre fokus op omgewingsverrigting en brandstofekonomie is behou, maar die derde geslag van Toyota se merkwaardige volle hibriedstelsel verteenwoordig ‘n nuwe dimensie ten opsigte van verrigting, praktiese nutswaarde, bestuursgenot en styl.

In die nuwe Prius word ‘n kompakte, lugdinamies doeltreffende buite-ontwerp gekombineer met ‘n innoverende en verrassend ruim kajuit. Voeg hierby verbeterde hantering, stabiliteit en ‘n gladde, stille werking, en die algehele aantreklikheid van die ikoniese Prius, wat in die laaste klompie jare klanttevredenheidsopnames in lande oor die hele wêreld oorheers het, word aansienlik verhoog.

Die nuwe Prius word gekenmerk deur sy vloeiende enkelkasprofiel, maar talle kenmerke van Toyota se ECO-ICON-ontwerpkonsep is in die motor vervat.

Wat die bak betref, het die Prius-ontwerpspan gekonsentreer op die beste moontlike lugdinamiese doeltreffendheid om die liggewig-konstruksie van die voertuig (ligte hoëtreksterktestaal en aluminium) aan te vul. Hierdie elemente, saam met die Hybrid Synergy Drive-stelsel, bied die allerbeste brandstofdoeltreffendheids- en emissiesyfers. Voeg hierby ‘n opwindende, dinamiese bestuursondervinding en dit is duidelik dat die Prius ‘n enorme stap vorentoe in hibriedmotorry verteenwoordig.

Reg van die begin van die ontwikkelingsproses het noue samewerking tussen die stiliste en die lugdinamici verseker dat daar nie in ‘n laat stadium aan die lugdinamiese eienskappe getorring sal hoef te word wat moontlik ‘n negatiewe uitwerking op die gladde, bevredigende wigvorm van die Prius sou hê nie.

Die resultaat van die ontwerpspan se fokus op ‘n bakvorm wat gladweg deur die lug sou kerf, is die wêreld se mees lugdinamiese luikrug. Die vorige model het reeds ‘n uitmuntende lugsleursyfer van 0,26 gehad. Die jongste model spog met ‘n selfs indrukwekkender syfer van 0,25 – wat moontlik nie baie lyk nie, maar in die wêreld van lugdinamika iets besonders is. Hierdie verbetering speel ‘n belangrike rol in die algehele afname van 14 persent in CO2-emissies in die nuwe model.

Toyota Prius
Toyota Prius

Die ontwerp van die voorkant van die Prius speel ‘n sleutelrol in die algehele lugdinamiese doeltreffendheid. Die gaping bokant die sierrooster is gewysig om lugvloei oor die boonste deel van die bak te verbeter, terwyl die gaping aan die onderkant vergroot is om lugweerstand te verminder en die verkoeling van die enjin te verbeter.

Die hoeke van die voorbuffer het ‘n plat, vertikale vlak. Dit is nie net ‘n netjiese, vernuftige stylkenmerk nie, maar wysig ook die lugvloei oor die voorwiele om turbulensie in die wielboë te beperk.

Die stygende karakterlyn van die neus af deur die deure en tot die agterligsamestelle gee ‘n dinamiese gevoel aan die ontwerp. Die A-pilaar is vorentoe geskuif om die helling van die voorruit te vergroot. Afgesien van die verbetering ten opsigte van stilering het dit ook ‘n funksionele voordeel in die opsig dat die kwartruit voor groter is, wat tot beter sig bydra. Sig na agter word verbeter deurdat die daklyn agter verleng is.

Die groot glasagterruit met sy geïntegreerde lugvlerk is behou, maar word nou afgerond met energiedoeltreffende LED (ligemissiediode)-ligsamestelle. Hoewel dit na dié van die vorige model lyk, is omvattende hersienings aan die stileringsdetail aangebring om lugdinamika te verbeter. Soos die voorbuffers het die hoeke van die agterbuffers ‘n plat, vertikale oppervlak om lug rondom die wielboë te kanaliseer.

Die Prius-ontwerpers het baie moeite gedoen om gapings tussen panele te verklein. Die gladde profiel- en glasseëls is opmerklik, en so ook die detail van komponente soos die kantspieëls, deurhandvatsels, ligsamestelle en die lugvlerk agter. Almal het skoon, vloeiende lyne om lugweerstand en turbulensie tot die minimum te beperk.

Ewe veel moeite is gedoen om die lugvloei onder die Prius deur te verbeter. Die onderkant van die bak is omvattend gewysig om lugsleur te beperk en hoëspoed-stabiliteit te verbeter. Onder die wysigings is flappe aan die voorkant die wielboë om enige onstabiliteit in die lugvloei rondom die wiele te beperk. Dit help met die reguitlyn-stabiliteit van die motor sowel as stabiliteit deur draaie en help natuurlik ook om lugsleur te beperk.

Tesame hiermee is aan die onderkant van die bak omvattende gebruik gemaak van skutplate om daardie dele waar turbulensie sy oorsprong het, soos die enjin, dwarsbalk van die voorveerstelsel, kajuitvloer, petroltenk en die onderkant van die bagasiebak, af te skut.

Selfs die wiele is ontwerp met die oog op die allerbeste lugdinamiese doeltreffendheid. Geïntegreerde, gladde wielbedekkings help die lugvloei aan, terwyl spesiaal ontwerpte bande met ‘n lae rolweerstand energieverliese bekamp en help om brandstofekonomie te verbeter.

Aan die hand van die “Buite Minimum, Binne Maksimum”-konsep is groot verbeterings aangebring aan die proporsies en die verpakking van die Prius. Botsveiligheidstelsels, vir die insittendes sowel as voetgangers, neem al hoe meer ruimte in beslag, maar desnieteenstaande het die algehele afmetings van die nuwe Prius net effens toegeneem.

Die algehele lengte het met net 15 mm tot 4 460 mm toegeneem. Die asafstand het dieselfde gebly en net die voorste oorhang is vergroot. Die breedte het met 20 mm tot 1 645 mm toegeneem, terwyl die hoogte, teen 1 490 mm, dieselfde as dié van die vorige model is. Die hoogste punt van die dak is met 100 mm na agter verskuif. Dit vergroot kopruimte vir die agterste insittendes met 15 mm.

In die kajuit is talle verbeterings aangebring om ruimte te vergroot. Die nuwe instrumentpaneel vergroot die kajuitlengte met 10 mm, terwyl ‘n afname van 30 mm in die dikte van die rugleunings van die voorsitplekke die beenruimte agter met 20 mm verbeter. ‘n Hersiene ontwerp vir die agtersitplekke en doeltreffender verpakking van die verkoelingseenheid van die batterystel vergroot die lengte van die bagasiebak met 10 mm en die breedte met 55 mm. Dit vergroot die laairuimte met 30 liter. Die maksimum- beskikbare ruimte met die agtersitplekke in die normale posisie is 445 liter. Met die sitplekke platgeslaan neem die laairuimte toe tot 1 120 liter.

Met die eerste oogopslag is die oorheersende eienskap van die nuwe, hoëgehaltekajuit van die Prius die dubbelsone-instrumentpaneel wat so ontwerp is dat die bestuurder die motor se bedryfsinligting kan waarneem sonder onnodige oogbewegings of om sy kop te draai. Terselfdertyd is al die kontroles en skakelaars binne maklike bereik.

Die boonste “vertoonsone” word gekenmerk deur die kombinasie van ‘n nuwe ruitprojektor (head-up display) en ‘n metergroep wat op ‘n ideale afstand vir maklike sig geplaas is. Afgesien van die voertuigsnelheid en ander konvensionele instrumentasie bevat hierdie LED-vertoon ook die Ekobestuursmonitor.

Die onderste “opdragsone” word gekenmerk deur ‘n opvallende, asimmetriese “brug” wat nie net die ratkierie binne maklike bereik van die bestuurder se hand plaas nie, maar ook ‘n groot bêreruimte daaronder bied. Hierdie onderste “opdragsone” bevat ‘n volkleur-veelinligtingsvertoonskerm, asook die kontroles vir die lugreëling-, klank- en die satellietnavigasiestelsel (in die modelle wat daarmee toegerus is).

Soos so baie van die aspekte van die jongste Prius spog ook die stuurwiel met ‘n nuwe ontwerp. Dit is 10 mm hoër geposisioneer en die onderste rand is aangepas om die bestuurder meer knieruimte te gee.

Die sitgedeeltes van die sitplekke en die boonste oppervlak van die instrumentpaneel het ‘n blaarnerfpatroon – in aansluiting by die Prius se omgewingsvriendelike beeld.

Die nuwe ontwerp van die voorsitplekke beteken dat hulle geriefliker is en doeltreffender verstel kan word. Die verstelling vorentoe, agtertoe en op en af is almal verbeter. Die horisontale skuifafstand is met 20 mm tot 260 mm vergroot en die hoogteverstelling met 15 mm tot 60 mm. Die rugleunings van die voorsitplekke is 35 mm dunner, maar hulle bied beter lendesteun. Die agtersitplekke, wat in die verhouding 60:40 verdeel is, het geïntegreerde kopstutte, wat die bestuurder se sig na agter verbeter.

Die kajuit spog met talle bêreruimtes. Afgesien van die boonste en onderste rommelkissies, met ‘n vermoë van 3 en 6 liter onderskeidelik, is daar ‘n konsolelaaitjie onder die “brug” van die instrumentpaneel en ‘n middelarmleuningkissie wat 3,7 liter kan hou. In die kissie is daar ‘n 12 volt-prop en ‘n mini-prop vir klanktoerusting.

Lewer kommentaar

Leave a Reply