Saterdagnag-verlamming

Saterdagnag-verlamming is ‘n toestand wat kan ontwikkel wanneer jy jouself paraplegies suip en dan in ‘n stoel, met jou arm oor die leuning, aan die slaap raak.

Net soos in die geval van Wittebroodverlamming, waar nuwe geliefdes mekaar se arms platlê omdat hulle nie gewoond is aan nog ‘n stel arms in die bed nie, word die radiale senuwee in die arm vasgeklem en beskadig met ‘n gevolglike slap hand. Dit kan in beginsel op enige dag van die week voorkom, maar gegee ons Suid-Afrikaners se gewoonte om Saterdagaande te drink tot ons omval, dink ek die benaming is heel gepas.

Daar is egter nie ooreenstemming oor die etiologie van die term nie. Een teorie is dat dit niks te make het met die dag van die week nie, maar eerder ‘n woordvervorming is van die term “saturnine palsy” wat ‘n algemene komplikasie van loodvergifting is met baie dieselfde simptome as Saterdagnag-verlamming.

Simptome kan weke of maande neem om te herstel en die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat individue wat geneig is om hulself komaties te drink, dit nie op ‘n stoel met armlenings doen nie.

Lewer kommentaar

Leave a Reply