Uitstallers by die komende Johannesburgse Internasionale Motorskou (JIMS), wat aan die einde van Oktober aangebied word, sal hulle op ‘n magdom plaaslike en oorsese talent beroep om van die skouspelagtigste en hipermoderne uitstallings op te tower, te ontwerp en te bou om hul produkte vir die grootste impak ten toon te stel.
Ervare stalletjie-bouers soos Set Squared, Suid-Afrika se oorheersende mag wanneer dit by uitstallings vir motorskoue kom, sal vroeg in Augustus begin om momentum vir dié Johannesburgse extravaganza op te bou en sal reg wees om die perseel met hul skeppings en werkmag van 150 mense te betree sodra die Expo-sentrum se deure op 21 Oktober vir hulle open.
En selfs al beteken dit hulle sal 24 uur per dag moet werk, sal die stalletjies wat Set Squared en sy plaaslike en oorsese mededingers vir die meer as 250 uitstallers gaan bou, betyds gereed wees vir die verwagte horde media- en bedryfsgaste wat op 30 Oktober verwag word. En as alles goed verloop, sal die uitstallings die bestendige stroom besoekers van 1 tot 9 November die hoof bied wanneer sowat 300 000 pare voete na verwagting deur die sale sal dreun.
Die duursaamheid van die skoustalletjies is egter nie rede tot kommer nie, aangesien die ontwerp daarvan behoorlik nagevors is en dit ontwikkel is om ‘n hoë standaard te bied, terwyl elke konstruksie ook aan streng ontwerp- en veiligheidsvereistes moet voldoen.
Elke stalletjie by die JIMS sal ‘n sertifikaat moet hê wat bewys dat die konstruksie daarvan aan alle veiligheidsvereistes voldoen, en wat deur die skou se eie veiligheidsamptenaar onderteken is. Skoustalletjie-konstruksie het ‘n uiters professionele en uitdagende bedryf geword, en kombineer strukturele ingenieursvernuf, skrynwerk, elektrisiteitswerk, elektronika, metaalwerk, vervaardiging, rekenaars en selfs loodgieterswerk.
Set Squared is al sedert die totstandkoming van Afrika se grootste motorskou in 1996 daarby betrokke, en bedien vanjaar maatskappye soos Nissan, Lexus, Renault en Fiat. Nissan sal met ‘n oppervlak van nagenoeg 1 000 vierkante meter een van die grootste uitstallings hê, terwyl Set Squared algeheel sowat 6 000 of wat vierkante meter sal hanteer.
“Dit gaan oor die ‘eish’-faktor – almal wil iets spesiaal vir ‘n skou soos hierdie hê, en ek dink ons sal op baie uitstallings ‘n baie omgewingsvriendelike tema sien,” het Paul Mains-Sheard, uitvoerende hoof van Set Squared, gesê. “Visuele impak sal ook baie aandag kry, en ons het reeds 250 hoëtegnologiese ‘daglig’-ligte verkry wat ons kliënte se stalletjies ‘n baie witter, meer natuurlike voorkoms en gevoel sal gee.
“Die oudiovisuele aanbiedings sal ook baie beter wees danksy die toenemende gewildheid en groter beskikbaarheid van binnenshuise ligdiode-skerms van uitstalgehalte,” het Mains-Sheard gesê. “Dit sal reusagtige grafiese voorstellings moontlik maak – die skerms kan gekoppel word om toonbeelde van tot sewe meter hoog te maak as dit nodig sou wees, én as hierdie soort ruimte in die sale beskikbaar was, maar dié tegnologie sal gewis ‘n groot bydrae tot die vermaakgenot van die skou lewer.”
Groot, korporatiewe kliënte betaal tot R5 000 per vierkante meter vir ‘n asemrowende uitstalling wat van die grond af ontwerp en gebou is, wat nie die sowat R1 000 per vierkante meter se huurtariewe in een van die groot sale insluit nie. Duitse uitstallers soos BMW, Audi en Volkswagen voer hul hele uitstalling tradisioneel in – met oorsese stalletjiebouers en al om die proses van begin tot einde te hanteer.
En net drie dae nadat die ligte op 9 November afgeskakel is, sal daar geen teken meer wees dat ‘n reuse wêreldklas-byeenkoms pas by die Expo-sentrum aangebied is nie, en alles sal afgebreek, opgepak en wegkarwei wees.
Toerusting soos ligte en reuse-televisieskerms sal aan spesialis-verhuringsmaatskappye wat dit verskaf het, terugbesorg wees, sommige goed sal geberg word om later weer by kleiner, plaaslike skoue of promosiebyeenkomste gebruik te word, van die hardeware sal aan behoefte instellings en skole geskenk word, en party dele sal oorsee teruggestuur word waar dit by die volgende groot, internasionale motorskou gebruik sal word om ‘n bestendige voorkoms en gevoel aan die betrokke fabrikaat se uitstallings te verleen.
