‘n Sterk plan van aksie om die toekoms te bou is deur MSA se Veldrenvoertuigkommissie in werking gestel met vier streekskampioenskapbyeenkomste wat saam met die Absa-Veldrenkampioenskap se nasionale reeks sal plaasvind.
Drie Noordelike Streke en een KwaZulu-Natal-streekskampioenskapsbyeenkomste sal saam met hoë-profiel nasionale renne aangebied word. Die Noordelike Streeksbyeenkomste sal saam met die Sun City 400, die Carnival City 400 en die RFS Magazlies 400 gehou word terwyl die KZN-streeksren in samewerking met die Sugarbelt 400 sal plaasvind.
“Ons is opgewonde oor die belangrike fase van ontwikkeling wat in ons sport plaasvind,” het die president van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Richard Schilling, gesê. “Streeksrenne is gesond, maar dit is ons as kommissie se verantwoordelikheid om die sport vanaf die grondvlak te bewaar.
“Een van ons grootste doelstellings vanjaar is om streeksrenne te ondersteun en deur deelnemers aan nasionale deelname bloot te stel, hoop ons om hulle aan te moedig om op te bewees. Ons hoop ook dat dié skuif nuwe bloed op grondvlak in die sport sal aanmoedig.”
Schilling het bygevoeg dat dit bemoedigend is om te sien dat streeksrenne ‘n gesonde hoeveelheid deelnemers lok en dat die voertuie aan ‘n hoë standaard voldoen betref terwyl daar ook ‘n mededingende gees heers. Dié nuwe inisiatief sal egter ook as ‘n verdere aansporing vir streeksdeelnemers dien.
Die openingsbyeenkoms van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap is die Adenco 400 wat op 19 en 20 Maart in die Wes-Kaap plaasvind. Vanjaar se reeks sal uit agt byeenkomste bestaan wat in die Wes-Kaap, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Gauteng, die Noordwes-Provinsie, Botswana en die Vrystaat aangebied sal word.
bydrae: Charmaine Fortune
