Sugarbelt is ‘n toeskouervriendelike ren

Om by die afgelope paar jaar se tradisie te hou, sal die Nissan Sugarbelt 400, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 15 en 16 Mei plaasvind, ‘n toeskouervriendelike byeenkoms wees.

Die ren, wat weer by die Beaumont Eston-Boereklub gebaseer sal wees, sal in die geil suikerrietheuwels van KwaZulu-Natal aangebied word. Die kronkelende en golwende suikerrietpaadjies bedrieglik en vang gewoonlik diégene uit wat onbehoedsaam is en die Nissan Sugarbelt het ‘n reputasie opgebou as een van die taaiste renne op die Absa-kalender.

“Daar is ‘n uitstekende mengsel van verskillende soorte terreine en die toeskouers sal uit ‘n verskeidenheid toeskouerpunte kan kies,” het die roetemeester, Rex Boreham van die Natal-Veldrenmotorklub gesê. “Dit wissel van smal suikerrietpaadjies op die rante van heuwels tot vinnige en golwende mallemeules wat binne sigafstand van die hoofteerpaaie is.”

Die formaat van die ren sal weer die figuur agt beslaan met ‘n oostelike en ‘n westelike sirkelroete wat nasionale deelnemers moet voltooi. Daar is nege uitstekende uitkykpunte op die oostelike roete wat die deelnemers eerste moet takel met agt toeskouerpunte op die westelike roete.

“Daar is toeskouerpunte waarvandaan beide roetes gesien kan word,” het Boreham gesê. “Die diensspanne en lede van die publiek sal die aksie ook kan aanskou waar die roete naby die Beaumont Eston-Boereklub gaan en ook by die begin/einde en die aangewese dienspunt.

Boreham het bygevoeg dat die organiseerders ‘n volledige kaart met aanwysings na elke afsonderlike toeskouerpunt saamgestel het. Die toeskouerpunte is almal binne ‘n radius van 30 kilometer van die Eston-klub en met vooruitbeplanning kan entoesiaste al die aksie regdeur die dag beleef.

Die toeskouergids kan by www.saoffroadracing.co.za afgelaai word en sal ook by die Beaumont Eston-Boereklub beskikbaar wees. Vrydag (15 Mei) se voorren sal die wegspringposisies bepaal en sal om 13h00 begin met Saterdag (16 Mei) se hoofren wat om 08h00 afskop.

2009 Nissan Sugarbelt 400


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply