Die Sun City 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 24 en 25 Julie plaasvind, sal ‘n karaktertoets vir spanne in die Spesiale Voertuigkategorie wees.
Die Motorite-span het drie seges – waarvan een per toeval was – en ‘n tweede plek, maar kampioenskappe is al vanuit beter posisies verloor as wat hulle tans bekleë. Daar was ook tekens tydens die Toyota 1000-Woestynren dat ander spanne ook in ‘n posisie is Hutchison/Bergmann houe te gee en hulle weet dat hulle alles vir die tweede helfte van die seisoen moet uithaal.
Ten minste ‘n halfdosyn spanne kan die Motorite-kaarte deurmekaar krap. Die Woestynrenwenners, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Total Motorsport-Porter) sal heelwat selfvertroue het en sal onthou hoe ‘n soortgelyke situasie veroorsaak het dat hulle ‘n daadwerklike poging aangewend het om die kampioenskap te wen.
Nick en Ryan Harper (Atlas Copco-BAT) is weer daar en Mike Whitehouse en Mathew Carlson (Regent Racing-BAT) het as moontlike wedrenwenners vorendag getree. Die voorrenspesialiste, Colin Mathews en Alan Smith beskik oor die spoed, maar moet nou renne begin voltooi en dieselfde geld vir hul spanmaats, Mark Corbett/Rudi Balzer in die Century Property Developments-CR1 4×4.
Die Klas A-beginners, Jimmy Zahos en Stefan Coetzee (Mountain Dew-Porter) het dié seisoen ‘n paar oë laat oopgaan en leer nog met elke ren. Die Sullwalds-spanne, Kallie en sy seun, Quintin (Sullwald Racing-BAT) en Herman en sy seun Wichard (Sullwald Racing-Zarco) lyk sterk nádat hul seisoen wankelrig begin het en die KwaZulu-Natal-paar, Clint Gibson en Gary Campbell in die nuwe SVR, kan buiteperde wees.
Dan is daar spanne soos Atang Makgekgenene, wat weer eens deur die Zimbabwiese tydrennavigator, Phil Archenoul in ‘n Porter bygestaan word; Nardus Alberts/Geoff Minnitt (Wrapsa-BAT) en Naeem Moosajee en Mohamad Moultson in die Tyre Rack-Porter. Al drie spanne is tot podiumposisies in staat en is ‘n bewys – indien enigsins nodig – van die gehalte talent in Klas A.
Mohammad en Fazal Noble sal ook weer in nóg ‘n Porter in aksie wees en maak saam met streeksinskrywings deel van meer as 80 voertuie uit wat vir die Sun City 400 ingeskryf het.
‘n Oorwinning in Botswana het die Kaapse span, Derick du Toit en Ian Pienaar in die Orange Tree-BAT, tot bo-aan die Klas B-kampioenskap geneem. Die Toyota 1000-Woestynrensege sou ook aan Du Toit en Pienaar van ‘n stewige serfvertroue-inspuiting voorsien het en die onus is nou op die ander spanne om met die resultate vorendag te kom om hul in die kampioenskapstryd te hou.
Beide Bez en Deon Bezuidenhout (Adenco-BAT) en die Makenete-broers, Keith en Andrew (Zarco) benodig goeie resultate en sal van dié situasie bewus wees. Ander spanne wat die kaarte deurmekaar kan krap, sluit Simon Beckett in, wat nou deur Tim Curtis in die Century Property Development-BAT bygestaan word, en Alistair Stubbs en die voormalige SA-kampioen, Marc de Chalain in ‘n Viper.
Stubbs en De Chalain maak hul eerste verskyning van die seisoen, maar beskik oor heelwat ondervinding. Hul verskyning dra by tot ‘n Klas B-stryd wat lyk of dit taai kan wees.
Klas P kan ‘n spieël vir Klas A wees wat onsekerheid en naelbyt-renaksie betref. Dit is ‘n kategorie wat nou uiters mededingend geword het met vier of vyf spanne wat almal ‘n kans staan.
Die huidige kampioene, Johan en Etienne Bezuidenhout (Adenco-BAT) het al twee keer gewen en is steeds voor in die kampioenskap. Agter hulle is daar ‘n gelykopstryd tussen die Botswana-wenners, David en Gary White (Ruwacon-BAT) en die indrukwekkende beginners, Johan van Staden en James Rossouw in die KEC-BAT en daar is min verskil tussen dié drie spanne.
Die KwaZulu-Natal-paar, Don Thompson en James Watson (Zarco) kom ook in die prentjie saam met die voormalige Klas B-kampioene, Jan en Hendrik Kraaij (Keymax-BAT) wat die Botswana-ren gemis het. Glen en Rob Gibson (Gibson Racing-BAT) het ook ‘n goeie lopie tydens die Toyota 1000-Woestynren gehad en spanne soos Richard Schiling/Chris Davies (Aceco-ZA) sal graag resultate na ‘n teleurstellende seisoen wil aanteken.
Ander spanne wat nie buite rekening gelaat kan word nie, is Archie Rutherford en Craig Doubtfire wat ‘n welkome terugkeer tot die sport in ‘n Regent Racing-Jimco maak asook die veteraan, Ernest Corbett en Warwick Goosen in die Century Property Development-CR2 met sy rewolusionêre aansig. Daar is geen tekort aan ondervinding tussen dié twee spanne nie en hulle dra tot die Klas P-mengsel by wat nou watertand lyk
Die renhoofkwartier asook die ren se begin- en eindpunt en die sentrale dienspunt sal by die Sun City-oordkompleks wees. Die voorren wat die wegspringposisies bepaal, sal Vrydag, 24 Julie om 12h00 begin met die hoofren wat Saterdag, 25 Julie om 08h00 sal afskop.
bydrae: Charmaine Fortune
