Met vier seges na vier renne dié seisoen is die Donaldson-Nissan Navara-span die gunstelinge om ‘n wenner vir die Produksievoertuigkategorie van die Sun City 400, die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 24 en 25 Julie plaasvind, op te lewer.
Hannes Grobler/Juan Möhr het aan Nissan hul eerste sege gegee terwyl Ivar Tollefsen en Quin Evans ‘n voorbeeld van bestendigheid is en tweede in die kampioenskap is. Die onvoorspelbare aard van motorsport en die wet van gemiddeldes kan teen die Donaldson-Nissan-trio saamspan, maar daar is ook tekens dat ander spanne oorgehaal is om te begin wen.
Dit is veral die Castrol-Toyota Hilux-span van Anthony Taylor/Robin Houghton en Hein Lategan/Chris Birkin wat die afgelope paar renne na ‘n bedreiging gelyk het. Al wat Toyota se aanslag in Botswana kort gekom het, was ‘n algehele oorwinning en Sun City kan vir die deurbraak sorg waarna dié span so desperaat soek.
Die fabrieks-Ford Ranger-paar bestaande uit die voormalige nasionale kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer en Thomas Rundle en Stavros Yiannakis, sal ook desperaat wees vir goeie resultate. Ford is die eerste vervaardiger wat die dieselroete met hul dubbelturbo-Ford Ranger TDCI-modelle en moet nog tandekryprobleme uitstryk wat van nuwe voertuie verwag word.
Goeie resultate in die Pilanesberg sal baie doen om die moraal in die Ford-geledere te lig. Die voertuie het tekens van potensiaal getoon, maar die spanne benodig nou soliede vertonings.
Die Nissan-, Toyota- en Ford-fabriekspanne het almal op verskillende vlakke ondersteuning van privaatspanne. Toyota spog met ‘n getallevoordeel en ná die Toyota 1000-Woestynren het hulle voor Nissan in die gesogte Suid-Afrikaanse Vervaardigerskampioenskap inbeweeg.
Die bestendige Chris Visser/Japie Badenhorst (RFS-Toyota Hilux) is een van net drie spanne wat oor ‘n 100%-klaarmaakrekord dié seisoen beskik en lei die Toyota-aanslag in die kampioenskap. Hul spanmaats, Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren, het hul beste resultaat ooit gelewer deur derde algeheel in Botswana te eindig en dit sal hulle selfvertroue ‘n hupstootjie gee.
Hugo en Jaap de Bruyn beskik oor podiumpotensiaal in die Micaren Exel-Toyota Hilux met Gary Bertholdt en Danie Stassen wat in die Atlas Copco-Toyota Hilux in dieselfde bootjie is. George en Sharon Barkhuizen (AIM-Toyota Hilux) sal graag goeie resultate wil aanteken ná ‘n teleurstellende Botswana-ren en Jaco Swanepoel/Keith Solomon (IDM Cement-Toyota Hilux) sal ook ‘n welkome terugkeer wil maak.
Nissan se ondersteuning kom van die voormalige Spesiale Voertuig-nasionale kampioen, Terence Marsh en Pieter Groenewald in die Regent Racing-Nissan Navara. Dié paar raak nog gewoond aan hul Klas SP-voertuig, maar het ‘n goeie resultaat in Botswana aangeteken.
Die Harrismith-modelmotorversamelaar, Kobus van Tonder en Riaan Guelpa (UniFreight-Ford Ranger) lei Ford se privaataanslag saam met Graham Leith en Mike Lawrenson (Transcor-Ford Ranger) en Pieter Ruthven en De Waal Boshoff in die Ruwacon-Ford Ranger. Van Tonder/Guelpa en die Transcor-paar het goed in Botswana gevaar en sal op hul vertonings wil voortbou.
In ‘n interessante verwikkeling gaan die jong Louis Weichelt, bygestaan deur Maret Bezuidenhout, sy debuut as renjaer maak. Weichelt sal in die eks-Van Tonder-Ford Ranger wees en sy vordering sal fyn dopgehou word en so ook dié van Harold en Tiaan Coen wat weer met hul Land Rover tot die aksie toetree.
Die Land Rover voeg ‘n vierde naam by die lys van vervaardigers wat in Klas SP deelneem. Met laat inskrywings en streekskampioenskapdeelnemers het die Sun City 400 ‘n groot veld van meer as 80 voertuie gelok.
Weichelt se ‘oorlopery’ na Klas SP beteken dat pa Cliff nou deur Johan Smalberger, wat tot die sport terugkeer, in die N1 4×4-Toyota Hilux D4D bygestaan sal word. Ten spyte daarvan dat hulle nie die Botswana-ren kon voltooi nie, het Weichelt-senior steeds ‘n gerieflike Klas D-kampioenskapsvoorsprong. Die broers, Johan en Werner Horn (Malelane-Toyota Land Cruiser) het ‘n sege tydens die Woestynren uitgewring en dit sal ‘n groot hupstoot vir die Mpumalanga-span gee.
Heine Strumpher/Hendrik van der Linde (Micaren-Toyota Hilux) en Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam-Toyota D4D) word deur net twee punte in die tweede en derde plekke in die kampioenskap geskei. ‘n Goeie stryd kan ontwikkel met die groot nuus in Klas D dat die Zermatten-broers weer terug is.
‘n Interessante situasie het in Klas E ontwikkel waar die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux-spanne die voortou in die kampioenskap deel. Deon Venter/Ian Palmer en die indrukwekkende beginners, Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus het elk twee keer gewen en Sun City sal die valbylpot verskaf.
Die huidige kampioene, Jannie Visser/Joks le Roux (RFS-Toyota Hilux) is net 14 punte agter en nóg ‘n sterk vertoning kan meer druk op die voorlopers plaas. Leeroy Poulter/Rob Howie (Ferodo-Nissan Hardbody) is moontlike podiumpotensiaal en Bappy Rubuluza/Khuliele Vakaliza (Ford Racing Ranger) en Louw de Bruin/Riaan Greyling (Ruwacon-Ford Ranger) kan die kaarte ook goed deurmekaar krap.
Die renhoofkwartier, die begin- en eindpunt asook die sentrale dienspunt sal by die Sun City-oord wees en die byeenkoms sal toeskouervriendelik wees. Die voorren wat die wegspringposisies bepaal, sal Vrydag, 24 Julie, om 12h00 begin en die hoofren Saterdag, 25 Julie om 08h00.
bydrae: Charmaine Fortune