Die bekendstelling van die Suzuki Swift-luikrugmotor en die kenmerkende, lewenstylgerigte SX4-luikrug verteenwoordig ‘n geskiedkundige mylpaal vir die Suzuki-handelsmerk in Suid-Afrika.
Die debuut van die twee nuwe passasiermotors verteenwoordig die eerste merkbare optrede van Suzuki Auto SA, ‘n filiaalmaatskappy van die Suzuki-Motorkorporasie (SMK), wat in Februarie vanjaar aangekondig is.
Veral belangrik is die feit dat dié stap ‘n aansienlike verbintenis van SMK tot die plaaslike passasiermotormark verteenwoordig. Die stig van Suzuki Auto SA is ‘n integrale deel van SMK se globale groeistrategie in die kort, medium en langtermyn.
SMK se belegging in Suzuki Auto SA beloop sowat R106-miljoen en verteenwoordig ‘n aandeelhouding van 85 persent in die nuwe maatskappy.
Die oorblywende 15 persent word deur Suzuki Suid-Afrika besit, wat Suzuki se motorfiets en waterprodukbelange plaaslik behartig SMK besit op sy beurt 30 persent van Suzuki SA.
Suzuki SA is die afgelope 44 jaar al die invoerder en verspreider van die maatskappy se tweewiel- en vierwielmotorfietse, asook marine-produkte soos buiteboordenjins.
Dat Suzuki plaaslik in dié segmente gereeld onder die topverkopers tel, sorg dat Suzuki Auto SA van meet af aan oor ‘n soliede platform beskik waarop hy sy aanslag op die passasiermotormark kan loods.
Sowat 70 persent van Suzuki SA se aandele word deur die Belgiese nywerheidsgroep Alcopa besit, wat motors en motorfietse in ‘n groot aantal lande wêreldwyd bemark, onder meer in België, Luxembourg, Nederland, Portugal, Switserland, Frankryk, Spanje en Brittanje. Suzuki is een van Alcopa se belangrikste produkreekse.
Die meervoudige fasette van die transaksie beteken dat beide komponente van die plaaslike Suzuki-besigheid ruimskoots by die hernieude sinergie tussen die Suzuki-produkafdelings baat sal vind, asook as gevolg van Suzuki se groeiende internasionale markdeelname en uitbreidingsplanne en die maak se gevestigde markteenwoordigheid in SA.
Suzuki Auto SA het ‘n afsonderlike bestuurstruktuur wat regstreeks deur SMK in Japan aangestel is. Kazuyuki Yamashita staan as besturende direkteur aan die hoof van die nuwe maatskappy, bygestaan deur Koji Fujita, wat die rol van finansiële assistent vervul.
Die SA mark word wêreldwyd as besonder ingewikkeld en uiters mededingend beskou en die aanstel van drie uiters bekwame en ervare afdelingsbestuurders behoort vir ‘n magdom ervaring te sorg, veral wat die plaaslike markomstandighede betref.
Berto van der Lith is in beheer van Finansies en Administrasie, terwyl Roger van Dyck vir Naverkope verantwoordelik is. Charl Timms is aan die stuur van die Verkope- en Bemarkingsportefeulje.
Suzuki Auto SA se hoofkantoor is sentraal geleë in die Linbro-sakepark in Marlboro, Sandton en sluit onder meer ‘n afsonderlike opleidingsentrum en uitgebreide pakhuisgeriewe vir onderdele in.
Die hoofkantoor is ‘n verdere bewys van die maatskappy se langtermynverbintenis tot die land en sy geloof in die plaaslike mark se belangrike rol in Suzuki se internasionale groeiplanne.
“Die SA mark het die afgelope dekade sterk groei getoon en hoewel verskeie faktore intussen gesorg het dat die mark gedurende die afgelope 18 maande gekonsolideer het, glo ons dat die markpotensiaal steeds groot is,” het Yamashita verduidelik.
“Ons positiewe gevoel word verder aangespoor deur die geesdrif waarmee die 2010 Sokker-Wêreldbeker aangepak word, asook die gepaardgaande infrastruktuur-ontwikkeling wat besig is om landwyd plaas te vind.
“‘n Verdere belangrik brandpunt vir ekonomiese groei word verteenwoordig deur die vinnig toenemende koopkrag van die ontluikende middelklas en veral van die sogenaamde ‘Swart Diamante’. Hulle verteenwoordig ‘n belangrike teikenmark vir ‘n dinamiese, opwindende maak soos Suzuki.”
Volgens Timms, wat aan die hoof van verkope en bemarking staan, is Suzuki Auto SA van plan om sowat 2 700 verkope in die oorblywende sewe maande van vanjaar aan te teken. Dié afset sal deur middel van ‘n netwerk uitsoekhandelaars in SA se belangrikste stedelike gebied plaasvind.
“Hoewel die aanvanklike bekendstellingsplanne konserwatief is, het ons opwindende planne vir die volgende vyf jaar. Ons doelwit is om teen 2010 ‘n aansienlike markaandeel te bekom,” het Timms bygevoeg.
Die doelwit van Suzuki se globale groeiplan is om teen 2020 die wêreld se voorste mobiliteitsvoorsiener te word en sluit onder meer die uitbrei van sy produkvoorsieners in sleutelpunte wêreldwyd in.
Dit behels ook die versterking van sy verkopenetwerke in sentraal- en Suid-Amerika in, asook die Midde-Ooste en, uiteraard, Afrika. Daarmee gepaard gaan die uitbrei van Suzuki se verkoopkanale in Europa, Noord-Amerika en Asië.
