Toyota gebruik Optimal Drive-tegnologie vir hele Verso-reeks

Die nuwe Verso is die eerste volledige reeks voertuie in Toyota Suid-Afrika se produkreeks wat almal met Optimal Drive-tegnologie pronk.

 

Toyota se Optimal Drive-tegnologie behels ’n kombinasie van verreikende gevorderde nuwe tegnologie en enjinverbeteringsprogramme wat ontwerp is om kraglewering en reaksie te vervolmaak terwyl brandstofverbruik en CO2-uitlate terselfdertyd tot die minimum beperk word.

Hierdie uiteenlopende kerntegnologieë fokus op drie sleutelaspekte van dryfstelsel-ontwikkeling:
Eerstens: die vermindering van gewig in die dryfstelsel deur superligte en uiters kompakte enjinkomponente en transmissies te gebruik. Die tweeling-VVT-i-enjin van 1,3 liter wat vroeër vanjaar in die Corolla in Suid-Afrika bekend gestel is, is ’n voorbeeld hiervan.
Tweedens: meganiese verlies word tot die minimum beperk deur Valvematic-tegnologie te gebruik, wat ’n verdere ontwikkeling van Toyota se tweeling-veranderlike kleptydreëling met intelligente beheer (VVT-i) is wat aanvanklik in 2006 die eerste keer bekend gestel is. Nuwe roltuimelaar-tegnologie, kleiner en ligter suiers, en laerviskose-enjinolie is nog kenmerke van die Valvematic-enjins.
Die derde element van die Optimal Drive-strategie is die ontbrandingsdoeltreffendheid wat vervolmaak is. Dit word deur ’n baie hoë drukverhouding van tot 11,5:1 in sekere gevalle moontlik gemaak, terwyl die inlaatpoort en ontbrandingskamer se ontwerp verfyn is en die suiers deur oliespuiters verkoel word.

In die geval van die 1AD-FTV-tweeliter-dieselenjin fokus die Optimal Drive-tegnologie op die verbetering van die doeltreffendheid van die brandstofinspuiting deur middel van hoëdruk-piëso-inspuiters wat gebruik word terwyl die hoëdrukbuis-brandstof onder verhoogde druk van tot 2000 bar gehou word.

Valvematic-tegnologie in die geval van die 1,6ℓ- en 1,8ℓ-petrolenjins wat in die nuwe Verso aangetref word, neem VVT-i-tegnologie nog ’n stappie verder deur kleplig- en tydsduurbeheer by die veranderlike inlaatkleptydreëling te voeg. Dit verhoog die inlaatlugvloeivolume en spoedbeheer – en uiteindelik ook die beheer van die ontbrandingsproses – om meer krag vir minder brandstof te lewer en minder CO2-uitlate vrystel. Die gebruik van Valvematic verminder ook wrywing- en pompverlies onder ligte enjinladings, wat brandstofdoeltreffendheid net nog verder in die hand werk.

Die gewig van bewegende onderdele in die dryfstelsel is aansienlik met die Valvematic-stelsel verminder. Wrywingsverlies word ook deur die gebruik van roltipe klepligters verminder.

Die doeltreffendheid van die Valvematic-stelsel word verder verhoog deur die gebruik van ’n inlaatspruitstuk met veranderlike lengte. Dit help om die lug teen lae tot medium enjinsnelhede deur die inlaatspruitstuk te versnel, wat die lugspoed ten gunste van volmaakte ontbranding tot die optimum versnel. Die veranderlike lengte van die inlaatspruit laat die lug kortpad na die silinders vloei wanneer dit nodig is om die hoeveelheid lug wat die ontbrandingskamer moet invloei ten einde kraglewering te verhoog, te vermeerder.

Verdere doeltreffendheidsontwikkelings is bereik deur die spanning van die suierringe te verminder en enige vervorming van die enjinblok te onderdruk. ’n Oliepomp met veranderlike volume word pal regdeur die enjinspoedstrek ingespan om die oliedruk tot die optimum te verhoog wat minder wrywing weens te hoë oliedruk teen enige gegewe enjinspoed tot gevolg het.

Die gebruik van Valvematic-tegnologie vir die 1,6ℓ- sowel as die 1,8ℓ-petrolenjins vir die nuwe Verso het daartoe gelei dat die brandstofverbruik en CO2-uitlate met tot 11% verminder het. Terselfdertyd het die enjin se verrigting met tot 20% teenoor dié van die vorige geslag enjins toegeneem.

Die nuwe 1,6ℓ-Valvematic-enjin wat in die Verso aangetref word, lewer 97 kW @ 6400 r/min met ’n maksimum-wringkragsyfer van 160 Nm @ 4400 r/min. Die kraglewering is in hierdie enjin 20% hoër as in die enjin wat hy vervang, terwyl die wringkrag 10 Nm of 6% hoër is. Die CO2-uitlate is ook met 11% verminder. Die 1,6ℓ-Verso wat deur ’n nuwe, ligte en kompakte 6-gang-handratkas aangedryf word, kan ’n gekombineerde brandstofverbruiksyfer van net 6,8 ℓ/100km aanteken.

Die 1,8ℓ-Valvematic-enjin wat ook in die nuwe Verso ingespan word, lewer 108 kW @ 6400 r/min en ontwikkel sy maksimum-wringkrag van 180 Nm @ 4000 r/min. In hierdie geval is die toename in kraglewering 12%, terwyl die wringkrag ook 6% hoër is en die CO2-uitlate met 10% verminder word. Brandstofverbruik in die gekombineerde siklus kan tot 7,0 ℓ/100km wees. Hierdie enjin is ook aan die jongste 6-gang-handratkas gekoppel.

Die nuwe Verso sal die eerste keer in Suid-Afrika ook met dieselaandrywing beskikbaar wees. Die 1AD-FTV-2,0ℓ-dieselenjin is net soos die twee Valvematic-petrol-enjins die jongste weergawe van sy voorganger, die D-4D-turbo-dieselkragbron wat van Toyota se unieke Optimal Drive-tegnologie gebruik maak, en het selfs ’n katalitiese uitlaatstelsel. Die Optimal Drive-werking vir hierdie enjin word verkry deur die gebruik van die jongste piëso-tipe inspuiters wat onder druk van tot 2000 bar in die hoëdrukbuisstelsel werk.

Hierdie enjin se maksimum kraglewering is 93 kW @ 3600 r/min met sy wrinkragpiek ’n hele 310 Nm wat van 1800 tot 2400 r/min beskikbaar is. Die CO2-uitlate van hierdie enjin kan so min as 143 g/km wees. Brandstofverbruik in die gekombineerde siklus kan tot 7,0 ℓ/100km wees.

’n Baie stewige konstruksie help om geraasvlakke laag te hou terwyl ’n balanseerstaaf wat deur kruisratte aangedryf word, help om vibrasies in die enjin te beperk. ’n Gevorderde ontbrandingskamer-ontwerp verseker die volmaakte ontbranding van die brandstof wat deur die hoëdruk-piëso-inspuiters voorsien word.

Die 2,0ℓ-diesel is net soos die twee petrolenjins aan die nuwe 6-gang-handratkas gekoppel.

Toyota het in die nimmereindigende soektog na beter doeltreffendheid gevorderde nuwe verkoelingstelsels regdeur die hele nuwe Verso-reeks in gebruik geneem. Een van die uitstaande kenmerke van die stelsel wat in die petrolmodelle gebruik word, is pulsduurmodulasie-beheer (PWM) vir die elektriese verkoelerwaaier. PWM beheer die waaierspoed voortdurend om verkoeling te vervolmaak en sodoende energiegebruik te verminder.

Die Verso-diesel het ’n tweestap-relê wat die waaierspoed vir die beste verkoeling beheer.

Nuwe 6-gang-handratkas
Toyota gebruik sy jongste geslag 6-gang-handratkas om die enjinkrag aan die dryfwiele van die nuwe petrol- en diesel-aangedrewe Verso-modelle wat in Suid-Afrika bekend gestel word, oor te dra.

Die ratkas het in die geval van al die enjins wye ratverhoudings wat brandstofverbruik vervolmaak en help om CO2-uitlate te verminder deur die bestuurder te ondersteun om die enjin doeltreffend in te span deurdat die regte ratverhoudoibng te alle tye beskikbaar is. Meganiese verlies in die transmissie is verminder deur laewrywinglaers te gebruik en ook laeviskose-ratkasolie en ’n olieverdeler wat belugting verhinder, in te span.

Die geraasvlakke in die transmissie is ook verminder deur hoësterkte ovaal- en keëlvormige komponente pleks van tradisionele ontwerpe te gebruik. Rekenaargesteunde ontwerp-tegnieke het tot skitterende presisie in die ratgeometrie gelei, terwyl die ratkashulsel se ontwerp ook vervolmaak is.

’n Ratposisie-aanwyser in die instrumentepaneel laat weet die bestuurder wanneer dit tyd is om van rat te verwissel ten einde die beste brandstofdoeltreffendheid te bewerkstellig. Toetse het gewys dat die stelsel kan help om brandstofverbruik met tussen 0,5% en 3,0% te verminder deur rytoestande, voertuigspoed en versnellerinsette te monitor.

Lewer kommentaar

Leave a Reply