Die nuwe Verso is herontwerp en het nou ’n groter voetspoor en stewiger romp wat sy dinamiese verrigting op elke gebied verbeter. Die splinternuwe en baie sterker romp sorg vir ’n verbetering van 5% op die gebied van wringstewigheid. Die asafstand is met 30mm verleng terwyl die spoor voor 23mm en agter 48mm breër is. Hierdie verbeterings sorg saam met die omvattend hersiene vering-geometrie vir ratse hantering, skitterende rompbeheer en uitstaande stabiliteit en rygemak. Die nuwe Verso se algehele dinamiese eienskappe aard meer na dié van ’n gewone passasiersmotor as ’n veeldoelvoertuig.
Beste lugdinamika in sy klas
Die nuwe Verso pronk met die beste lugdinamika in sy klas met ’n sleursyfer van net 0,292 en ’n lig-faktor van -0,056. Die skitterende lugdinamiese eienskappe van die Verso is die grondslag vir hoëspoed-stabiliteit, die beheer van windgeraas en verbeterde brandstof-ekonomie.
Die ontwerpspan het reg van die begin af hul windtonnel-ontleding op ’n skoon rompontwerp gefokus wat sekondêre toegevoegde lugdinamiese komponente sou uitskakel. Fyn aandag is aan die lugvloei onder deur die romp afgestaan, wat tot ’n gladde onderkant gelei het. Die enjin, brandstoftenk en agterste vloergedeelte word deur gladde plate afgerond. Wielbedekkings en ’n vertikale lugvlerk aan die agterkant help om die lugvloei vaartbelyn te maak en vertiale rompbeweging te beheer, wat die lig-faktor voor en agter vervolmaak. Die gevolg is ’n platter, meer stabiele rit, beter beheerde swaai-reaksie, en verbeterde algehele stabiliteit wat veral in dwarswindtoestande ervaar word.
Hersiene vering
Die MacPherson-tipe stutte vir die voorvering word van die vorige model af oorgedra, maar is omvattend herontwikkel en het nou dubbele hegpunte aan die bokant. ’n Stywer buite-hegpunt sorg vir die plasing van die veer, terwyl ’n sagter binne-montering die demper in posisie hou. Dié dubbele montering kombineer optimale hantering met lae geraasoordrag en eersteklas-rygemak.
Die voorvering se naspoorhoek is tot 6,5 grade vergroot, terwyl die rolstewigheid ook verbeter is. Hierdie veranderings saam sorg vir skitterende stabiliteit in ’n reguit lyn, sowel as ’n beter stuurgevoel en ratsheid. Die montering van die voorste rolstaaf wat nou koeëlgewrigte gebruik, lewer ’n verdere positiewe bydrae tot ’n beter stuurgevoel.
Wringstaaf-vering met ’n ingeboude rolstaaf word agter ingespan en is gekies vir die beknopte liggewig-ontwerp daarvan en wat die laairuim die minste binnedring. Hierdie stelsel is ook hersien deur die sleeparmhoek te vervolmaak ten einde stuurreaksie te bevorder. Die veer- en skokbrekermonterings is geskei, wat vir beter pakdoeltreffendheid sowel as ritgemak en hantering sorg.
Die agtervering se wringstewigheid is met 50% verhoog, terwyl die rolweerstand ook verhoog is. Die laterale stuurkrag is ook verbeter.
Elektriese kragstuur
Die elektriese kragstuur met wisselende hulpverlening sorg vir aktiewe stuurkrag-uitskakeling. Sodra die stelsel ’n stuurinset bespeur wat te aggressief vir die nodige voertuigreaksie is, sal dit die hoeveelheid kraghulp verminder om die stuurinset te beperk en sodoende ’n gladder rit bewerkstellig.
Wanneer die stuurkolom se wringkragsensors vibrasies van die wiele bespeur, kan ’n aktiewe vibrasiebeheerprogram in die stuurstelsel se elektroniese beheereenheid met ’n polsreaksie daarvoor vergoed ten einde die vibrasie te verminder voordat dit aan die stuurwiel oorgedra word.
Hierdie twee stuurstelsels werk saam om ’n beter stuurreaksie, skitterende rygemak, beter rompbeheer met aansienlik minder duik- en swaai-beweging, sowel as beter stabiliteit in ’n reguit lyn, te bied.
Die stuurkasslag is optimaal ingestel om die draaisirkel van die nuwe Verso met 0,4 meter tot net 5,4 meter in te kort. Dit het tot merkwaardige beter laespoed- en parkeermaneuvreerbaarheid gelei.
Remme en bande
Die nuwe Verso is met die jongste Bosch ABS 8.1- en ESP 8-rem- en stabiliteitstelsels toegerus, wat ingeboude elektroniese remkragverdeling (EBD) het. Die voorste lugverkoelde skywe het ’n omtrek van 320mm, terwyl soliede skywe van 297mm agter ingespan word. Die voertuig het 16-duim-wiele met 205/60R16-bande.
Die verbeterde remstelsel bied in samewerking met die voorgeskrewe bande aansienlik korter remafstande teenoor dié van die vorige model. Die minder rolweerstand van die bande help ook om brandstofverbruik te verminder, terwyl sagter sywande die rit aansienlik sagter maak.
