’n Veeldoelvoertuig sonder gelyke

Die nuwe Toyota Verso kombineer die praktiese sin en veelsydigheid van ’n volbloed-snoetbussie met die gemak en verrigting van ’n passasiersmotor.

Die Verso se geskiedenis strek terug tot die destydse Toyota Space Cruiser wat in 1984 bekend gestel is. Dit was ’n voertuig wat Toyota as baanbreker in die destydse nuwe veeldoelvoertuig-segment gevestig het. Die Toyota-Motorkorporasie (TMC) het die C-segment van dié mark in 2002 betree met ’n voertuig wat erkenning gegee het aan die feit dat iets meer as blote veelsydige binneruim-indeling hierdie marksegment in die toekoms sou bepaal namate snoetbussie-klante groter vereistes gestel en kieskeuriger oor hul keuse van voertuig geword het.

Die eerste geslag Corolla Verso wat in 2002 bekend gestel is, en die tweede weergawe wat in 2004 gevolg het, is al twee erg deur alledaagse passasiersmotors beïnvloed. Toyota noem hierdie jongste model die C-MPV (C-segment-snoetbussie) om die Verso se groter afhanklikheid as voertuig in eie reg eerder as ’n blote verlenging van ’n passasiersmotor-modelreeks te beklemtoon.

Die nuwe Verso is met sy veelsydige sitplekindeling vir tot sewe insittendes oorgehaal om voort te gaan waar sy voorganger as gunsteling-voertuig vir die gesin opgehou het. Dit is dus nie verbasend dat dit juis hierdie segment is wat vir die meeste verkope verantwoordelik is nie. Die nuwe Verso sal egter na verwagting ook voldoen in die behoefte van alleenlopers of kinderlose pare wat ’n dinamiese veeldoelvoertuig wil hê om by hul aktiewe leefstyle te pas.

Die nuwe Verso is geformuleer om aan hierdie uiteenlopende behoeftes te voldoen deur praktiese bruikbaarheid in dieselfde asem as styl en verrigting te bied. Die voertuig hou homself as leefstylkeuse voor wat aan die vereistes van gesinsvervoer sowel as ’n praktiese en veelsydige vervoeroplossing vir die vooruitstrewende hoofstroom-motoris voldoen.

Die kern hiervan is Toyota se ‘Dynamic Lounge’-beginsel wat opwindende en eietydse stilering kombineer om uitstaande ruimtebenutting, gemak, praktiese bruikbaarheid en absolute veelsydigheid te bied. Die ritgehalte, dinamiese vermoë en skitterende verrigting op die gebied van geraas, vibrasie en grofheid neig meer na dié van ’n gewone passasiersmotor as ’n tradisionele veeldoelvoertuig.

Sy splinternuwe binneruim-uitleg bied meer ruimte en pakplek as voorheen. Verbeterings aan die Toyota Easy Flat-7-sitplekstelsel sorg vir groter gemak en makliker werking. Baie moeite is aan die verbetering van die sitplekke in die tweede en derde ry afgestaan.

Die reeks word met die bekendstelling van die nuwe Verso van drie tot vier modelweergawes uitgebrei, wat die eerste keer die keuse van diesel-krag in Suid-Afrika insluit. Toyota se Optimal Drive-tegnologie word regdeur die reeks petrol- en diesel-modelle aangetref, en sorg vir tot 20% meer krag en tot 12% minder CO2-uitlate en brandstofverbruik teenoor die enjins van die vorige reeks. Die 1,6ℓ- en 1,8ℓ-petrol-enjins pronk ook met Toyota se hipermoderne Valvematic-tegnologie.

Die ontwerpers van die nuwe Verso het skitterend gevaar deur ’n voertuig te skep wat die beste lugdinamiese verrigting in sy klas met ’n sleursyfer van net Cd 0,295 het. Die langer asafstand, breër spoor voor en agter en omvattend hersiene vering-geometrie sorg vir ratse hantering, skitterende rompbeheer en uitstaande stabiliteit en rygemak.

Die nuwe Verso pronk ook met die beste veiligheidseienskappe in sy klas vir sy insittendes en voetgangers. Die kern hiervan is sy stewige romp met ’n hoë persentasie hoësterkte staal wat skitterende impak-absorberende eienskappe bied. Die nuwe Verso is ontwikkel om aan die jongste en strenger Europese NCAP-vyfster-botstoetsvereistes te voldoen.

Die nuwe Verso word deur die Toyota-motorvervaardigingsafdeling in Turkye by sy moderne Adapazari-aanleg, wat met ’n uitstaande reputasie vir bougehalte spog, gebou. Altesaam €1 miljard (sowat R12 miljard) is die afgelope paar jaar in dié aanleg belê.

Lewer kommentaar

Leave a Reply