Toyota is die leier in die Suid-Afrikaanse 4×4-mark en bied die grootste reeks vierwielaangedrewe voertuie, geskik vir feitlik elke toepassing, aan.
Vir die lewenstylentoesias het Toyota drie afsonderlike modelaanbiedings: kompak (RAV4), middelslag (Prado) en groot (Land Cruiser 200). Hierdie voertuie spog met al die styl en luukse-eienskappe wat die koper wil hê en bied terselfdertyd dubbeldoel-funksionaliteit vir gebruik op en van die pad af.
Die stylvolle Toyota Fortuner, met sy omvattende lys luukse- en geriefseienskappe, is die skakel tussen die lewenstyl-4×4-sportnutsvoertuie en die 4×4-entoesiaskoper as ‘n lid van die Toyota se geharde IVV-voertuigreeks. Die Land Cruiser 200 is die vlagskip van Toyota se Land Cruiser-produkreeks.
Die Land Cruiser LC76 Station Wagon is gebaseer op die legendariese, onvernietigbare onderstel van die Land Cruiser-bakkie. Dis ‘n rateltaaie voertuig wat die grootste deel van sy gebruikslewe in strawwe veldtoestande kan deurbring.
Die Land Cruiser LC76 het dieselfde meganiese spesifikasies en duursame leertipe onderstel as die Land Cruiser-bakkie, maar het ‘n korter asafstand, wat beteken dat dit in geheel 335 mm korter as die bakkie is. Die asafstand is 450 mm korter as dié van die bakkie, maar die wielnisskerms maak dit 100 mm breër.
Die voorste en die agterste ewenaar het ewenaarslotte met elektroniese seleksie van óf die agterste ewenaarslot óf die voor- en die agterslot. Die veerstelsel is die bewese kombinasie van starre asse voor en agter – net soos in die Land Cruiser LC79-bakkie. Anders is in die bakkie, wat spog met ‘n swaardiensveeraanslag, is vir die LC76-stasiewa se krul- en bladvere ‘n veeraanslag vir rygehalte eerder as vragdravermoë gekies. Die remme is geventileerde skywe voor en tromme agter met ‘n lasaanvoel-ewewigsklep.
Die krulveerstelsel voor is ontwerp vir ‘n lang slag. Agter word bladvere gebruik. Die twee stelsels werk saam en gee ‘n algeheel uitstaande rit, hantering en stabiliteit met uitstekende wielartikulasie en ‘n soepele veerstelsel.
Aandrywing is deur ‘n vyfspoedhandratkas, en ‘n tweespoedoordraratkas bied die opsie van laagstrek-4×4 in moeilike veldrytoestande. Soos in die geval van die bakkie is die stasiewa toegerus met outomatiese sluitnawe voor sodat die bestuurder in die ry na 4×4-aandrywing kan oorskakel. Allooiwiele (16 duim) beslaan met 265/70R 16 LT-bande is standaard.
Die LC76-stasiewa het vier kantdeure en ‘n agterdeur wat vertikaal in twee verdeel is. Daar is sitplek vir vyf mense – twee skottelsitplekke voor en ‘n banksitplek agter vir drie passasiers. Die sitplekke is met materiaal oorgetrek en die vloermat is van viniel. Vir maklike in- en uitklim is daar aluminiumkanttreetjies aan albei kante.
Die LC76-stasiewa is net verkrygbaar met dieselkrag. Die sessilinderenjin van 4,2 liter-enjin ontwikkel 96 kW @ 3 800 r/min en 285 Nm se wringkrag is reeds by 2 200 r/min beskikbaar.
Die stasiewa is toegerus met ‘n sikloniese lugfilter met voorfiltrering en ‘n 12 volt-stelsel word gebruik. Die Toyota het elke 10 000 km ‘n diens nodig, maar die olie moet ook elke 5 000 km vervang word.
Vir die avontuurlike gesinsman wat gereeld die veld en bos aandurf, bied die LC76-stasiewa ‘n geharde en duursame voertuig om Afrika in veiligheid aan te pak. Vir die handelsgebruiker bied hierdie stasiewa uitstekende funksionaliteit, buitengewone gehardheid en die Land Cruiser se befaamde reputasie vir onvernietigbaarheid en bedryfseenvoud.
Die jongste spesifikasieveranderinge vir die LC76, wat teen einde September aangekondig is, bied groter gerief en veiligheid.
Die LC76-stasiewa is nou toegerus met ‘n lugsak vir die bestuurder sowel as die voorste passasier. Om voorsiening te maak vir die lugsaksensors, en om te voorkom dat hulle ontplooi in minder ernstige stampe wat dikwels in veldrytoestande ondervind word, is die voorbuffer 136 mm verder vorentoe geplaas.
Die instrumentasie is hersien. Dié in die model met die hoër spesifikasie is esteties meer bevredigend en ook meer prakties. Die stuurkolom het kantel- en teleskopiese verstelling en die stuurwiel self is ‘n vierspeek-uretaanweergawe van dié wat in die Land Cruiser 200 gebruik word. Pleks van die vorige hangtipe dakbeslag is daar nou ‘n gevormde eenheid wat nie net meer kopruimte bied nie, maar ook skoner en deftiger lyk.
Die LC76 spog met nuwe materiaalbekleedsel vir die sitplekke en ‘n TNS510-navigasie/klankstelsel wat ‘n hulpkonneksie (MP3) en Bluetooth- en USB-aansluiting insluit.
Belangrike spesifikasies:
Enjin: onaangejaagde dieselenjin van 4,2 liter; sessilinder-gelid met bonokasuitleg; maksimum-krag 96 kW @ 3 800 r/min, 285 Nm @ 2 200 r/min.
Vyfspoedhandratkas met tweespoed-oordraratkas.
Ewenaarslot vir voor- en agterewenaar.
Krulveer-voorvering, bladveer-agtervering.
Vierdeur-, vyfsitplekuitleg.
Sentrale sluiting.
Lugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier.
Elektriese ruitverstelling.
Kragstuur.
Lugreëling.
TNS510 navigasie/klankstelsel met RDS-radio/CD-kombinasie sowel as hulpaansluiting (MP3) met Bluetooth en USB-skakeling.
Immobiliseerder/alarmstelsel.
Misligte voor.
Agterruitwasser/veër en ontwasemer.
Agterste konsolekissie met verwarmer vir agterste deel van voertuig.
Materiaalsitplekke.
Vinielvloermat.
Noodwielrak aan agterdeur.
Kanttreetjies en agtertreetjie van aluminium.
265/70R 16 LT-bande aan 7JJ-allooiwiele.
90 liter-brandstoftenk.
12 volt-kragprop.
