Tweede oorwinning vir Vos / Pitchford

 

Jeffriesbaai, Saterdag – Duncan Vos en Ralph Pitchford het hul tweede agtereenvolgende oorwinning aangeteken toe hulle die Oos-Kaap 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Saterdag by Jeffriesbaai geëindig het, gewen het.

Vos en Pitchford in ‘n fabrieks-Donaldson-Nissan Navara, het ‘n wankelrige begin oorkom om stof in die res van die Produksievoertuigveld te skop om vir die tweede keer in ‘n ry met die algehele en die Klas SP-louere weg te stap. Dié paar het ook die openingsronde van die jaar, die Adenco 400 wat in die Wes-Kaap aangebied is, gewen om ‘n vroeë voortou in die algehele en premier Klas SP-kampioenskappe te neem.

Agter die Nissan het Thomas Rundle ‘n droomresultaat tydens sy eerste probeerslag in die Klas SP-fabrieks-Ford Racing Ranger aangeteken deur tweede te eindig, alhoewel hy 11 minute agter Vos en Pitchford geëindig het. Rundle, wat deur die ervare Hennie ter Stege bygestaan is, het van Klas E opgeskuif en kon nie gevra het dat sy Klas SP-loopbaan beter afgeskop het nie.

Die finale podiumposisie het aan die Noorweër, Ivar Tollefsen en sy Britse navigator, Quin Evans in ‘n tweede Donaldson-Nissan Navara behoort. Tollefsen en Evans het vierde tydens vanjaar se Dakar-ren in ‘n Nissan Navara, wat by Nissan Motorsport se Midrand-werkswinkels gebou is, klaargemaak.

Die voormalige Spesiale Voertuigsterre, Gary Bertholdt en André Vermeulen, het hul Klas SP-debuut in ’n Atlas Copco-Toyota Hilux gemaak en het ook ‘n goeie debuutren gehad deur vierde te eindig. Chris Visser en Japie Badenhorst, wat derde tydens die eerste ren van die seisoen geëindig het, het die top vyf in die RFS-Toyota Hilux afgerond.

Vos, die huidige Suid-Afrikaanse jaerskampioen, en Pitchford het weer eens hul kwaliteit getoon deur ‘n oorwinning aan te teken vanuit wat na ‘n onmoontlike situasie gelyk het. Dié paar was in die voorste wegspringposisie, maar vroeg tydens die eerste van die twee sirkelroetes waaruit die ren bestaan het, het ‘n rempyp gebars en hulle het tot die 25ste posisie teruggeval.

Teen die einde van die eerste sirkelroete het Vos en Pitchford tot die derde plek opgeskuif. Hulle het toe die voorloperposisie by hul spanmaats, Hannes Grobler en Juan Möhr, wat met ‘n problematiese ratkas gesukkel het, oorgeneem asook by Hugo en Jaap de Bruyn (Micaren Exel-Toyota Hilux) wat ook ratkasprobleme opgedoen het.

“Dit was regtig ‘n taai ren en ek het bewegingsiekte teen die einde ondervind,” het Vos gesê. “Maar dit was ‘n goeie resultaat vir ons.”

‘n Strawwe roete het sy tol geëis en net 25 van die oorspronklike 57 spanne wat die ren aangepak het, kon die einde haal. Behalwe vir Grobler/Möhr en die De Bruyns, was daar ook ander hoëprofielslagoffers in Klas SP.

Die Castrol-Toyota-fabriekspan, Anthony Taylor en Robin Hougton, het vroeg reeds uitgeval na ‘n misrabele naweek met die noodlot wat Terence Marsh/Pieter Groenewald (Regent Racing-Nissan Navara) ook getref het. Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer moes ook die aftog blaas met elektriese probleme wat die nuwe turbodiesel-Ford Racing Ranger gekniehalter het.

Die Klas D-louere het aan die pa- en seun-kombinasie, Cliff en Louis Weichelt in die N1 4×4-Toyota Hilux D4D, behoort. Hulle het hul tweede agtereenvolgende oorwinning bo Dewald van Breda en Johan du Toit in die Northam Toyota D4D aangeteken met net 19 sekondes wat die twee spanne geskei het.

Heinie Strumpher en Jan van der Linde (Micare Exel-Toyota Hilux) was derde, maar Coetzee Labuscagne en Johan Gerber (Raysonics-Nissan Hardbody) se teleurstellende seisoen het net voortgeduur. Vir ‘n tweede keer het enjinprobleme veroorsaak dat hulle toeskouers geword het.

Deon Venter en Ian Palmer (4×4 Megaworld-Toyota Hilux) het aan Toyota hul tweede klasoorwinning besorg deur met die Klas E-sege weg te stap. Dit was hul tweede agtereenvolgende sege met hul spanmaats, Pikkie Labuschagne en Rickus Erasmus in nóg ‘n Toyota Hilux wat ‘n tweede plek voor Baphumze Rubuluza en Khuliele Vakaliza in die Ford Racing Ranger opgeraap het.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply