Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za
Hy was een van John se skrander kinders. Hy skryf matriek twee maande voor hy 15 is en slaag dit met vier onderskeidings met ‘n gemiddelde persentasie van 89%. Hy het ‘n baie stil geaardheid gehad en het boeke verslind. Hy het ook stories vir die radio en destydse Brandwag tydskrif geskryf. Thys was ‘n ernstige mens en baie presies. Na skool het jy hom nooit sonder ‘n pak klere in die openbaar gesien nie. Hy was ook musikaal het gedurende sy matriekjaar Hawaise kitaar begin leer speel. Hy was verder
‘n buksie van 4 voet 4 duim met krom bak bene. Vanweë ‘n tekort aan geld en geen beurse kon hy nie verder gaan studeer nie. Thys was ook die ‘soet’ kind in die huis.
Een van die humoristiese verhale dateer uit die tyd toe hy en sy jonger broer Babsie vir sy meisie Charlet, met wie hy later getroud is, gaan kuier het. Dit was die jaar 1942. Thys en Babsie het saam in die Kaap gewerk. Die Benvilly House losieshuis in Observatory was hulle tuiste. Thys was tot sy ore toe verlief op Charlet wat in Soutrivier gebly het. Soos enige jongman het hy so gereeld as moontlik vir haar gaan kuier. Babsie het hom dikwels daarheen vergesel.
Een aand was dit weer so. Die twee het in hulle netjiese donkerblou ‘dubbelbrest’ pakke by die swartkop opgedaag. Daar is ‘n hond uit die bos gekuier. Toe die gang staanhorlosie half twaalf slaan, spring Babsie uit sy sitkamer stoel op.
“Ons moet nou gaan – die trem kom 10 oor twaalf” .
Dit was die laaste trem vir die nag na die Kaap. Die tremhalte was so 30 minute van die kuierplek.
“Ek gaan solank begin stap” lig Babsie vir sy broer Thys in, “Jy weet, as ons die trem verpas, dan loop ons met ons voete terug huis toe”.
As jy die trem gemis het, was daar ‘n kortpad, so ongeveer 4 kilometer te voet huis toe – Die probleem was egter – Dit kronkel deur die begraafplaas.
Die aand was dit donkermaan en jy kon nie jou hand voor jou oe gesien het nie. Asof dit nie genoeg is nie, is die gedagte aan bruin skollies wat onskuldige voetgangers teroriseer ook nie uitgesluit nie. Daarvoor het Babsie nie kans gesien nie.
Kwart oor twaalf, by die tremhalte, was daar geen spoor van boet Thysie nie.
Seker nog by Charlet – As ‘n man by ‘n meisie kuier, dan staan die tyd mos stil. Babsie is toe saam met ‘n paar naglopers met die trem veilig terug huis toe.
Die volgende more skrik Babsie wakker. Hy kyk in die rigting van die donkerbruin geverfde kamerdeur. “Thysie, is jy terug?” roep hy. Die kamerinwoner agter die skrefies oopdeur swyg soos die graf. Tot sy verbasing ontdek Babsie dat sy broer nog nie tuis is nie. Dis al nege uur en Babsie wonder wat het van sy broer geword. Later is dit 10 uur – Nog geen spoor van die vermiste.
Om half elf gaan die deur oop. ‘n Bruin gesmeerde, viervoet vier duim figuurtjie sluip geboeë en versigtig in.
“Wat op aarde het met jou gebeur?” vra Babsie verbaas.
Op die netjiese Navy ‘Double brest’ pak hang modderklonte soos swaeltjieneste.
Thysie glimlag iewat verlee terwyl sy mond op ‘n plooi trek.
“Jy sal nie raai, wat het met my gebeur nie. Ek het so by eenuur vanoggend op my gemak met die bekende begraafplaas paadjie afgestap. Wat ek nie geweet het nie, is dat daar hierdie week ‘n honderd nuwe grafte gegrawe is. Party oor die paadjie wat ons so goed geken het. Terwyl my gedagtes nog so by die lekker by Charlet was, trap ek en toe is daar geen grond meer onder my voete nie. Net daar land ek in die klam modder. Ek het ‘n paar keer probeer om uit die gat uit te spring, maar dit het nie gewerk nie. Toe besluit ek maar ek sal moet wag tot die volgende more sodat iemand my kan kom uithaal. Na ‘n rukkie in die vars graf het ek lus geraak vir ‘n sigaret. Terwyl ek die sigaret in my mond druk voel-voel ek na die vuurhoutjies – maar daar was niks. Seker by Charlet vergeet. Ek kon niks verder doen nie. Al wat ek toe kon doen is om in een hoekie van die graf te probeer slaap tot die volgende dag. Ek het
so ‘n rukkie ingesluimer.
Iemand anders het op daardie oomlik onwetend wat vir hom voorlê, kortpad deur die begraafplaas gevat. Met ‘n ‘woep’ land die besoeker toe in die anderkantse hoek van my gat. Ek was al gewoond aan die donker. My mond het nog steeds gewater vir ‘n sigaret. Miskien kon hierdie skielike besoeker my
uit my penarie red, het ek gedink. Ek leun toe vorentoe en tik hom op die skouer en vra: “Meneer, het jy nie miskien vir my ‘n vuurhoutjie om my sigaret aan te steek nie.” Die Meneer het nie geantwoord nie, hy het soos ‘’n Jack in a box’ uit die graf uitgeskiet en weggehardloop.”
Toe Thys omkyk staan die losiesma agter hom: “Get out and clean yourself!” gil sy dat die plafon bewe .
Thys het by die Nektar Tea and Coffee gaan werk en was later vir baie jare die sekretaris.
Met die twee kinders wat uit sy huwelik met Charlet gebore is, het groot, groot teleurstellings beleef. Op 6 jarige leeftyd bars daar ‘n aar op sy dogtertjie se kop waaraan sy oorlede is. Pas nadat sy seun (oudste) matriek geskryf het, kry hy geelsug en is oorlede.
Na sy vrou Charlette se dood woon hy by sy broer John. Hy het egter ‘n alhokolprobleem ontwikkel en het van tyd tot tyd in ‘n Volkswagen Valiant sedan rondgeswerf. Nadat hy weer vir ‘n tyd weggeraak het, word hy op Jongensfontein in ‘n strandhuisie baie siek aangetref. Hy word op Riversdal in die hospitaal
opgeneem waar hy dan waarskynlik ook in 1978 oorlede is.
bydrae: Joe Muller
