Variawa / Rousseau op ‘n missie in Botswana

Die voormalige kampioen, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau, sal op ‘n missie tydens die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat van 24 tot 26 September in Botswana plaasvind, wees.

Behalwe dat die Total-Porter-span ‘n driekuns oorwinnings kan aanteken, sal die span ook hul klein sespuntvoorsprong bo-aan die Spesiale Voertuigkampioenskap wil behou. As gevolg van die verskil in die toekenning van punte in die algehele en klaskampioenskappe is Variawa/Rousseau reeds deur Kallie en Quinton Sullwald in die Elegant Fuel-BAT tot die tweede plek in Klas A gerelegeer.

Die Klas P-voorlopers, Johan van Staden en James Rossouw in die Atlas Copco-BAT asook die 4×4 Mega World 400-wenners, Herman en Wichard Sullwald in die Sullwald Racing-SVR kan nie uit die algehele kampioenskapsprentjie weggelaat word nie. Net 14 punte skei die top vier spanne en die Botswana-ren kan ‘n maak- of breekren wees.

Ná ‘n een-twee-resultaat tydens die 4×4 Mega World 400 sal die Sullwald-familie vol selfvertroue wees terwyl Variawa en Rousseau van die gevolge bewus sal wees indien hulle ‘n derde ren nie kan voltooi nie. Dit dra tot ‘n fassinerende stryd voorlangs by wat deur die vereistes wat die enigste marathon-byeenkoms op die Absa-kampioenskapkalender aan spanne stel, selfs interessanter gemaak sal word.

Daar is geen tekort aan moontlike uitdagers nie. ‘n Goeie resultaat is op die kaarte vir die huidige jaerskampioen, Evan Hutchison en Darryl Curtis in die Motorite-BAT terwyl die 2006-wenner, Nick Harper weer saam met Kevin Hume in die Atlas Copco-BAT dié tipe ren geniet.

‘n Onbetroubaarheidsrekord tel teen Colin Matthews en Alan Smith (Century Racing CR3) terwyl die blitsige Jimmy Zahos en Stefan Coetzee in die Cobalt Racing-Porter hulself sal moet inhou tydens ‘n byeenkoms wat selde tydens die eerste dag gewen word. Die Pretoria-span van Nardus en Louis Alberts (Wrapsa-BAT) lyk na veilige buiteperde, maar bestendigheid het hul dié seisoen gekniehalter.

Bevan Bertholdt en Danie Stassen (lab88-BAT) val in dieselfde kategorie as die Cobalt Racing-paar en taktiek kan ‘n groot rol in hul vordering, of die tekort aan vordering, speel. Aan die einde van die skaal sal Naeem Moosajee en Rayhaan Bodhanya (Maxxis TyreRack-Porter) ook van die tweedagformaat hou terwyl dit die Botswana-inwoner, Keith du Toit en sy Lesotho-navigator, Ashley Thorn in die White Star Racing-BAT ook sal pas.

Nóg ‘n Botswana-span, Mohammed en Faizal Noble (Porter) kan hul plaaslike kennis goed inspan terwyl ‘n paar beginner-Klas A-spanne vir verassings kan sorg. Steven en Brett Parker in die eks-Moosajee-Jimco het twee agtereenvolgende indrukwekkende vertonings gelewer terwyl Neil Meyer en Leon Muller ook goed in die Zarco Magnum gedoen het.

Die Klas P-stryd lyk ook uiters aanlokkend alhoewel Van Staden en Rossouw as die vroeë gunstelinge beskou sal word. Die broers, Johan en Deon Bezuidenhout in die Adenco-BAT kort ook ‘n goeie resultaat terwyl Archie Rutherford, wat deur Mike Lawrenson in die Regent Racing-Jimco bygestaan sal word, vol vertroue sal wees na hul 4×4 Mega World 400-sege.

Die Swaziland-span, John Thomson en Clinton McNamara (Zarco Magnum) sal ‘n ware bedreiging wees terwyl Mark Corbett, wat in 2000 algeheel met ‘n Jimco gewen het, en Rudi Balzer (Century Racing CR2) hul hoop hoog sal hou. Heelwat belangstelling sal ook op Marius Fourie in ‘n BAT gefokus wees wat nou nasionaal meeding na ‘n paar indrukwekkende vertonings in die Noordelike Streekskampioenskap – hy sal deur sy pa, André, bygestaan word.

Twee vorige algehele wenners, Richard Schilling en Richard Carolin, sal ook hoop om weer van dié glorie ter herleef. Schilling sal saam met Keith Solomon wees wat Chris Davies in die Aceco vervang terwyl Carolin weer saam met Nic Goslar in die Men’s Health International-Zarco sal deelneem.

Op die Klas B-front het die veteraan, Bes Bezuidenhout en sy skoondogter, Lindie (Adenco-BAT) die voortou in die kampioenskap geneem. Hulle sal ‘n derde agtereenvolgende sege najaag met hul grootste mededinging wat Keith en Andrew Makenete (Zarco) en ‘n paar van die veteraanjaers soos die voormalige kampioen, Giel Nel, asook Coetzee Labuscagne sal insluit.

Dit is moontlik dat Nel en Jaco Jonck vir die res van die seisoen in ‘n Zarco Truggy gaan meeding terwyl Labuscagne saam met sy dogter, Sandra, kragte sal saamspan. Daar is verseker nie ‘n tekort aan ervaring in dié kategorie nie.

Die renhoofkantoor, die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal vanjaar by Kumakwane, ongeveer 25 kilometer wes van Gaborone, wees. Die Donaldson-voorren wat die wegspringposisies bepaal, begin Vrydag, 24 September om 12:00 en vind oor ‘n 72 kilometer-roete plaas.

Die ren begin Saterdag, 25 September om 08:00 en diegene wat dag een oorleef, sal Sondag, 26 September wéér om 08:00 wegspring.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply