Vos mik vir vierde agtereenvolgende sege

Die huidige Suid-Afrikaanse kampioen, Duncan Vos, mik na ‘n bietjie motorsportgeskiedenis wanneer die Produksievoertuigkampioenskap ‘n kritieke fase tydens die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren, die sesde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat van 24 tot 26 September in Botswana plaasvind, binngegaan.

Vos sal hoop om ‘n ongeëwenaarde vierde agtereenvolgende sege in dié klassieke woestynren, wat vanjaar sy 29ste herdenking vier, aan te teken. Oorwinnings van 2007 tot 2009 is almal met Nissan-voertuie aangeteken en wel met drie verskillende navigators – die agtmalige wenner, Richard Leeke, Louis Weichelt en Ralph Pitchford.

Vos sal vanjaar deur nóg ‘n ander navigator, Rob Howie, bygestaan word en wel in ‘n fabrieks-Castrol-Toyota Hilux. Vos en Howie, vars van hul eerste sege vir die Castrol-Toyota-span, sal hul enigste marathonbyeenkoms op die Absa-kampioenskapskalender vol selfvertroue binnegaan.

Terwyl Vos persoonlike glorie najaag, is daar ‘n kampioenskap op die lyn en die Botswana-besoek kan krities wees wat dit betref. Net 33 punte skei die voorste ses spanne in die algehele kampioenskap met 18 punte die verskil tussen die huidige voorlopers Chris Visser/Japie Badenhorst (RFS Toyota Hilux), Vos/Howie en die viermalige wenner, Hannes Grobler en Hennie ter Stege in die RFS BMW.

Visser/Badenhorst is die enigste dubbele wenners dié seisoen met die ander oorwinnings wat aan die voormalige kampioene Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer (Ford Ranger TDCi); Terence marsh en Buks Carolin (Regent Racing-Nissan Navara) en Vos/Howie gegaan het. Al vier spanne sal tussen die gunstelinge wees, maar vanjaar se Woestynren is een van die oopste in jare.

Met die Nissan-uitdaging, wat vir agt jaar deur fabriekspanne oorheers is, nou in die hande van privaatspanne, is die kanse dat Toyota uiteindelik hul eie kroonbyeenkoms kan wen, beter as wat dit die afgelope dekade was. Met Vos/Howie en die tweede fabrieksinskrywings in die hande van Anthony Taylor en die viermalige wenner, Robin Houghton, tesame met Visser en Badenhorst beskik Toyota oor ‘n goeie hand.

Dit word verder deur Gary Bertholdt en André Vermeulen in die Atlas Copco-Toyota Hilux versterk. Christiaan du Plooy en Henk Janse van Vuuren (RFS Toyota Hilux) het laas jaar op die podium klaargemaak terwyl goeie vertonings tydens die onlangse 4×4 Mega World 400 nog vars in George Barkhuizen/David van Wyk (AIM Toyota Hilux) en Pieter Ruthven/Rudi Britz (Ruwacon Toyota Hilux) se geheue sal wees.

In ‘n interessante ontwikkeling sal die huidige Klas E-kampioene, Jannie Visser en Joks le Roux hul eerste verskyning van die seisoen in die Toyota Hilux maak waarmee Ramon en Maret Bezuidenhout vroeër die seisoen deelgeneem het. Die uiters ervare Visser – Chris se broer – en Le Roux mag moontlik vir die res van die seisoen deelneem afhangende van die Bezuidenhouts se besigheidsverpligtinge.

Op die Ford-front het die voormalige kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer dié byeenkoms reeds twee keer vantevore gewen en hulle sal hoop om ‘n kans te staan as hulle nie meganiese probleme ondervind nie. Dieselfde geld vir Grobler, wat die enigste ander jaer is wat dié ren al drie keer in ‘n ry gewen het, saam met Ter Stege in nóg ‘n dieselaangedrewe voertuig in Klas SP.

Die Ford-aanslag is ‘n slag toegedien deur die afwesigheid van Kobus van Tonder en Freddie Kriel in die Uni Freight-Ford Ranger. Louw de Bruin en Riaan Greyling verdien egter krediet met bemoedigende vertonings deesdae in die Ruwacon-Ford Ranger.

Die bedreiging wat die Nissan-privaatspanne kan wees, kan ernstiger wees as wat die opposisiespanne verwag. Met iemand soos Buks Carolin, wat as ‘n jaer en navigator al drie keer gewen het, in die Regent Racing-span, is ervaring nie ‘n probleem nie.

Carolin en die jaer, Terence Marsh, geniet die marathon-formaat en hul Regent Racing-Nissan Navara-spanmaats, Mike Whitehoue en Mathew Carlson, spesialiseer persoonlik in betroubaarheid. Tydens ‘n ren waar die vermoë om die hele afstand te voltooi dalk belangriker as spoed is, kan die Regent Racing-spanne nie afgeskryf word nie.

Dieselfde geld vir Thomas Rundle en die voormalige wenner, Juan Möhr in die eks-Vos-fabrieks-Barden Tyres Services-Nissan Navara. Onbestendigheid is ‘n probleem dié paar, maar ‘n skoon lopie kan beteken dat hulle as sterk podiumaanspraakmakers na vore kan tree.

Nóg ‘n Nissan-span is onbekend. Plaaslike kennis sal in die guns van die Botswana-paar Ausman Sadiq en Shaukat Fazaldin tel, maar hulle sal nie sommer die lewe vir die voorste spanne moeilik maak nie.

Die Nissan-aanslag het laat ‘n hupstoot gekry met die inskrywing van die voormalige wenner en SA-kampioen, Alfie Cox. Die veldrenlegende sal kragte met die Duitse navigator, Jurgen Schröder in ‘n Nissan Navara wat vir die Dakar-ren gebou is, saamspan.

Klas D sal sonder die huidige kampioenskapvoorlopers, Dewald van Breda en Johann du Toit in die Northam Toyota Hilux, wees. Dit skuif die kollig na Deon Venter en Ian Palmer in die nuwe 4×4 Mega World-Toyota Hilux en Lous Weichelt en Johann Smalberger in die nuwe N1 4×4-Toyota Land Cruiser.

Twee Noordelike Streekskampioenskapspanne, Jack en Sarel Oosthuizen in ‘n Land Rover en Johan Steyn en Paul Jonker in ‘n Toyota Hilux neem ‘n trappie boontoe na die nasionale kompetisie en sal fyn dopgehou word. ‘n Plaaslike span, Arnold Mabille en Reginald Molomo in ‘n Nissan Hardbody, sal tot die klas bydra.

Met ‘n interessante kampioenskapstryd wat tussen die huidige leiers, Lance Woolridge en Ward Huxtable (Team Ford Ranger) en Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus (4×4 Mega World-Toyota Hilux) ontwikkel, sal Klas E ook onder die vergrootglas wees. Die tiener, Woolridge, sal sy eerste Woestynren takel en sal staatmaak op insette van pa Neil en die ervare Huxtable.

Hein Moolman en JD Wolfaardt in ‘n tweede 4×4 Mega World-Toyota Hilux en Gerald le Roux en Willem Pretorius (Ruwacon-Ford Ranger) is ook in die prentjie en so ook is Johan de Lange en Gert Osche in ‘n Nissan Hardbody. Malcolm Kock, wie se pa jare gelede algeheel gewen het, maak ook sy jaarlike verskyning saam met Johan Burger in ‘n Toyota Hilux.

In ‘n afwyking van die normale sal die renhoofkwartier, die begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt vanjaar by Kumakwane wees wat 25 kilometer wes van Gaborone is. Die 72 kilometer-Donaldson-voorren sal die wegspringposisies bepaal en begin Vrydag, 24 September om 12:00.

Die ren begin Saterdag, 25 September om 08:00. Spanne wat dag een oorleef sal die laaste skof Sondag, 26 September weer om 08:00 takel.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply