Variawa / Rousseau vergroot voorsprong

Die Total-span, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau het hul posisie bo-aan die Spesiale Voertuigkampioenskap tydens die Sun City 400, die vierde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, verstewig.

Variawa en Rousseau het vir die tweede agtereenvolgende jaar tweede klaargemaak en beskik nou oor ‘n voorsprong van 18 punte bo die Klas P-span van Johan van Staden en James Rossouw in die Atlas Copco-BAT. Van Staden/Rossouw was derde agter die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Karl-Heinz en Quintin Sullwald (Elegant Fuel-BAT) wat tot die derde plek in die algehele kampioenskap opgeskiet het.

Tydens die Sun City-ren was Variawa en Rousseau in die tweede plek by die aangewese dienspunt. Halfpad deur die tweede en laaste sirkelroete van die ren het hulle besluit om die Sullwalds nie verder te jaag nie en om met ‘n veilige tweede plek tevrede te wees.

Nick Harper (Atlas Copco-BAT) is vierde in die jaersstryd en word deur die huidige kampioen, Evan Hutchison (Motorite-BAT) en Herman Sullwald (Sullwald Racing-SVR) gevolg wat die vyfde posisie deel. Met Ryan Harper wat die Syn City-byeenkoms as gevolg van ‘n besering gemis het, deel Achim Bergmann en Wichard Sullwald die vierde plek tussen die navigators alhoewel Bergmann nie meer saam met Hutchison is nie en deur die veldrenmotorfietsster, Darryl Curtis, vervang is.

Punte word verskillend in die algehele en klaskampioenskappe toegeken en die situasie lyk effens anders in Klas A. Hier is Variawa/Rousseau voor Herman en Wichard Sullwald met Harper wat derde van die jaers is en Quintin Sullwald derde van die navigators.

Die Van Staden/Rossouw-kombinasie, wat vroeër die seisoen geskiedenis gemaak het deur die eerste Klas P-span te word om ‘n byeenkoms algeheel te wen, het ‘n gerieflike voorsprong van 19 punte bo Archie Rutherford en die voormalige Springbok-waterpolospeler, Craig Doubtfire in die Regent Racing-Jimco.

Rutherford en Doubtfire het waardevolle punte met ‘n vierde plek by Sun City ingesamel. Agter hulle skei net een punt Mark Corbett/Rudi Balzer (Century Racing-CR3) en die Swaziland-span John Thomson en Clinton McNamara (Zarco) wat ‘n indrukwekkende tweede plek tydens Sun City aangeteken het.

‘n Oorwinning tydens hul eerste ren van die seisoen het Bes Bezuidenhout en sy skoondogter, Lindie, tot die gesamentlike eerste plek in Klas B geneem. Die huidige kampioen, Derrick du Toit, het die Sun City-byeenkoms gemis terwyl Adré Rheeder, wat die eerste ren van die jaar saam met Du Toit gewen het, wat nog nie weer deelgeneem het nie.

Marius Nicholson/Rod Jeffrey (Orange Tree-Raceco) en die broers, Hamish en Alistair Stubbs in ’n Viper deel die tweede plek. Beide spanne het net aan een byeenkoms tot dusver dié seisoen deelgeneem.

Die volgende ronde van die Absa-kampioenskap is die 4×4 Mega World 400 wat op 28 en 29 Augustus by Carnival City aan die Oos-Rand plaasvind.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply