Visser / Badenhorst steeds bo-aan produksievoertuigkampioenskap

Skadebeheer tydens die Sun City 400, die vierde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, het gesorg dat die privaatjaers, Chris Badenhorst en Japie Badenhorst steeds bo-aan die Produksievoertuig-puntebord is.

Visser en Badenhorst wat met hul RFS Toyota Hilux tydens die Donaldson-voorren by Sun City gerol het, moes die ren van heel agter aanpak. Na ‘n begeesterde ren het hulle sewende algeheel klaargemaak en die paar het genoeg punte ingesamel vir ‘n voorsprong van 13 punte in die kampioenskap.

Agter Visser en Badenhorst broei ‘n taai stryd. Die huidige jaerskampioen, Duncan Vos en Rob Howie (Castrol-Toyota Hilux) is ‘n enkele punt voor Hannes Grobler/Hennie ter Stege (RFS BMW) wat by Sun City vir die eerste keer vanjaar nié ‘n ren kon voltooi nie en die Ford Racing-paar van Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer.

Die Sun City-wenners, Terence Marsh en Buks Carolin het van die 12de plek na die vierde posisie in die kampioenskap met die Regent Racing-Nissan Navara opgeskiet het en is net vier punte agter. Gary Bertholdt en André Vermeulen (Atlas Copco-Toyota Hilux) is ook nog in die kampioenskapsprentjie en só ook is die bestendige Mike Whitehouse/Matthew Carlson (Regent Racing-Nissan Navara) wat die vyfde plek deel.

Verskillende puntetoekenningstelsels vir die algehele en klasresultate beteken dat die stand van sake in Klas SP effens anders daarna uitsien. Hier is die top drie spanne steeds dieselfde met Whitehouse/Carlson, wat die enigste span is met ‘n 100 persent-klaarmaakrekord, wat die vierde plek met Marsh en Carolin deel.

Die huidige kampioene, Dewald van Breda en Johann du Toit in die Northam Toyota Hilux, het ‘n stewige houvas op Klas D. ‘n Sege tydens hul eerste ren van die seisoen by Sun City het Deon Venter en Ian Palmer in die 4×4 mega World-Toyota Hilux in die tweede plek laat inskuif.

Verder af in Klas E het ‘n tweede oorwinning dié seisoen aan die tiener, Lance Woolridge en Ward Huxtable in die fabrieks-Ford Racing Ranger ‘n gerieflike voorsprong gegee. Woolridge, Neil se seun, en Huxtable het ‘n voorsprong van 16 punte bo Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus in die 4×4 Mega World-Toyota Hilux.

Die Ruwacon Racing-Ford Ranger-paar van Gerald le Roux en Willem Pretorius is net vier punte agter Labsuchagne en Erasmus. Die voorste drie spanne het almal al dié seisoen gewen.

In die SA Vervaardigerskampioenskap het Toyota (310) ‘n groot voorsprong bo Ford, wat nou 118 punte het, opgebou. Nissan, wat aan die einde van die vorige seisoen van veldrenne onttrek het, is derde met 91 punte.

Die volgende ronde van die kampioenskap is die 4×4 Mega World 400 wat op 27 en 28 Augustus by Carnival City aan die Oos-Rand plaasvind.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply