Verbeterde Voertuigdinamika bied ultra-gladde bestuursondervinding in die nuwe Prius

Met die oog op optimum-hantering en -rygerief en ‘n uitmuntende, dinamiese bestuursondervinding is die voor- en die agterveerstelsel van die nuwe Prius omvattend hersien en die geometrie van albei stelsels geoptimaliseer. Voor word steeds MacPherson-stutte en agter ‘n wringstaafstelsel gebruik.

‘n Nuwe snelheidsgevoelige kragstuurstelsel bied nie net uitstekende terugvoer aan die bestuurder nie, dit verminder ook energieverbruik, wat op sy beurt beter brandstofverbruik beteken. Die drie bestuursmodusse, naamlik EV, ECO en POWER, stel die bestuurder in staat om die beste gebruik van die Hybrid Synergy Drive-stelsel te maak en om brandstofdoeltreffendheid in verskillende rytoestande te optimaliseer. Die Ekobestuursmonitor help die bestuurder om uitstekende brandstofdoeltreffendheid te handhaaf.

Verskeie verbeterings is aan die voorveerstelsel aangebring. Wringstyfheid is verbeter en die naspoorhoek ingestel vir flinker hantering en beter terugvoer op stuurinsette. Die boonste montering van die krulvere het ‘n kragverdeelfunksie, wat insette van die vere af regstreeks na die bak deurvoer vir groter rygerief.

Die gewig van die voorveerstelsel is verminder, wat nie net energie bespaar nie, maar ook beter brandstofekonomie tot gevolg het. Gewig is verminder deur die gebruik van ‘n aluminium-kneukel en -stabiliseerskakel, en ‘n dun, hol stabiliseerstaaf. Boonop is die grootte van die naaflaers sowel as die afmetings van die onderste beheerarm gewysig.

Agter is die wringstaafstelsel aangepas om te verhinder dat die krulvere en skokbrekers, wat afsonderlike gemonteer is, te ver in die vloer van die laaigebied indring. ‘n Oorhoeks geposisioneerde sleeparm-busmeganisme met lae wrywing en liggewig-komponente, sommige gemaak van hars, en die gewysigde veer- en skokbrekerstellings verseker uitstekende stabiliteit en rygerief.

Die veranderings en wysigings aan die voor- en agterveerstelsel het die bestuursdinamiek van die nuwe Prius opmerklik verbeter. Die ratse hantering, stabiliteit en rygerief is dadelik waarneembaar.

Toyota se Hybrid Synergy Drive-stelsel het inherent goeie GVH (Geraas, Vibrasie en Hardheid)-eienskappe. Toyota se ingenieurs het hierop voortgebou en baie moeite gedoen om hierdie eienskappe in die nuwe Prius nog verder te verbeter om te verseker dat die bestuurder en die passasiers ‘n kalm, stil en selfs serene ry-ondervinding kan hê.

Die bak van die nuwe Prius is besonder rigied. Die struktuur het omvattende verspanning wat, tesame met die gewysigde resonansie-instelling van individuele panele, verseker dat die deurvoer van vibrasies tot die minimum beperk word. Die deurvoer van enjin- en padgeraas word onderdruk deur die gebruik van gevorderde klankdempmateriale in die enjinruimte en die kajuit.

Die agterkant van die enjinkap is effens opwaarts gebuig om die vloei van lug oor die ruitveërs te beperk, en gevolglik ook windgeraas. Ook om hierdie rede is die nossels van die ruitwasserstelsel onder die enjinkap weggesteek. Die ruimte tussen die bokant van die voorruit en die dakpaneel, en tussen die voorruit en die A-pilare is verklein om lugvloei te verbeter en windgeraas te beperk.

‘n Kenmerk van die Hybrid Synergy Drive-stelsel van die nuwe Prius is die gladskakelende ratkas. Die bestuurder kan, danksy drie verskillende bestuursmodusse, die eienskappe van hierdie stelsel nou na willekeur benut vir die maksimum-doeltreffendheid, -verrigting en -brandstofekonomie

Van stilstaan af en tot snelhede benede 70 km/h loop die motor outomaties in die EV-modus – ofte wel suiwer op elektriese krag. Die bestuurder kan ook deur die druk van ‘n knoppie die EV-modus skakel. Wanneer die bestuurder die versnellerpedaal intrap om te versnel, word die petrolenjin outomaties aangeskakel.

Die EV-modus is ‘n unieke eienskap van volle hibriedvoertuie. In hierdie modus kan die Prius, met die batterystel vol gelaai, vir ongeveer 2 kilometer teen snelhede van tot 50 km/h bestuur word – en sonder enige CO2- of NOx -emissies. Omdat die enjin nie werk nie, word petrol uit die aard van die saak bespaar.

In die nuwe ECO-modus word die versnellerreaksie op aggressiewe pedaalinsette verminder en die beheer van die lugreëlaar aangepas vir beter brandstofekonomie. Afhangende van die bestuurstoestande en die omringende temperatuur, is ‘n petrolbesparing van tussen 10 en 15 persent in die ECO-modus moontlik, veral wanneer dit in oorleg met die Ekobestuursmonitor gebruik word.

Die POWER-modus, wat vir die eerste keer in die nuwe Prius beskikbaar is, wysig ook die reaksie op pedaalinsette. In hierdie geval word krag opgejaag om versnelling te verbeter en bestuursgenot te vergroot. In die POWER-modus word die versnellerreaksie op pedaalinsette tot ‘n maksimum van 25 persent verhoog.

Die Ekobestuursmonitor is ontwikkel om bestuurders te help om die maksimum-brandstofdoeltreffendheid te verkry. Vir die gerief van die bestuurder is daar vier digitale vertonings op die instrumentpaneel.

Die Energiemonitor vertoon die huidige werktoestand van die enjin en die vloei van elektriese krag. Die monitor, wat intyds werk, help die bestuurder om die basiese energievloei van die Hybrid Synergy Drive-stelsel te verstaan.

Die Hibriedstelselaanwyser vertoon intydse versnellergebruik en help die bestuurder om sy versnellerpedaalinsette en bestuurstyl aan te pas vir die optimum-brandstofdoeltreffendheid.

‘n Verbruikmonitor vertoon die brandstofverbruik en energieherwinningsyfers
met tussenposes van een en vyf minute en bied ‘n bygewerkte terugvoer aan die bestuurder oor brandstofdoeltreffendheid en bestuurstyl.

Ook nuut in die jongste Prius is ‘n sogenaamde Past Record-monitor. Dit vertoon rekords van ritafstande en brandstofverbruik.

Een van die nuwe eienskappe in die jongste Prius (afhangende van die spesifikasievlak) is Intelligente Parkeerhulp (IPH). Hierdie jongste weergawe van Toyota se IPH-stelsel is maklik om te gebruik en spog met verbeterde siklustye sodat die bestuurder sy motor kan parkeer sonder dat hy of sy aan die stuurwiel raak.

Die stelsel het ‘n kamera aan die agterkant van die motor en sensors aan die kante wat die benodigde stuurhoek bereken en die motor outomaties in die gekose parkeerplek maneuvreer. Al wat die bestuurder hoef te doen, is om die voertuigsnelheid te beheer.

Lewer kommentaar

Leave a Reply