Verso en veiligheid

Die nuwe Verso is ontwikkel om aan die jongste en strenger Europese NCAP-vyfster-botstoetsvereistes te voldoen en het ’n uiters sterk impak-absorberende rompstruktuur met ’n groot persentasie hoësterkte staal. Die voertuig het ook opgegradeerde aktiewe, passiewe en voetganger-botsveiligheidseienskappe.

 

Aktiewe veiligheid
Die nuwe Verso is deurspek van elektroniese hulpmiddels (VSC en HAC is nie by die intreevlak-model ingesluit nie) om die bestuurder te help om die meeste uitdagende noodsituasies suksesvol die hoof te bied. Dit sluit in die jongste sluitwerende remstelsel (ABS) met elektroniese remkragverdeling (EBD) wat heersende padtoestande, spoed, lading en rompdinamika in ag neem om remkrag outomaties meer doeltreffend te gebruik.

Voertuigstabiliteitsbeheer (VSC+), wat wringstuurhulp insluit, werk stuurtraagheid en stuuroorywerigheid teen deur die geskikte hoeveelheid remkrag onafhanklik na enige van die vier wiele in te span terwyl dit terselfdertyd teenoorgestelde wringstuur toepas om die bestuurder te help om die voertuig te stabiliseer.

Die kloubeheerstelsel (TRC) verhinder dat die wiele op oppervlakke met min kloukrag of op verskillende oppervlakke tol, terwyl die wringstuurhulp-stelsel help om swaaibewegings teen te werk wanneer die motor rem of versnel.

Remhulp (BA) monitor die spoed waarteen die rempedaal getrap word om te bepaal of die bestuurder in ’n noodgeval rem. As die bestuurder dan onvoldoende drukking op die rempedaal uitoefen wanneer die stelsel ’n noodgeval bespeur het, verhoog dit die hidrouliese druk outomaties om die remdoeltreffendheid optimaal te verhoog.

Helling-wegtrekhulp (HAC) help die bestuurder om die voertuig teen steil opdraandes te beheer. Die HAC-stelsel is ontwerp om die verhinder dat die voertuig agteruit beweeg wanneer die bestuurder teen ’n opdraande wegtrek en sy voet van die rempedaal na die versneller verskuif.

Passiewe veiligheid
Buiten die intreemodel (wat net bestuurder-, passasier-, knie- en kantlugsakke het) is die nuwe Verso met sewe lugsakke – bestuurder-, passasier-, knie-, kant- en gordynlugsakke – toegerus. Die gordyn-lugsakke aan weerskante strek regdeur die kajuit, wat die derde ry sitplekke heel agter insluit.

Die voorste sitplekke het kabel beheerde kopstutte wat neksweepslag teenwerk. ’n Sitplekgordel-waarskuwingsliggie in die instrumentepaneel waarsku die bestuurder indien een van die insittendes se gordel nie vas is nie. Energie-absorberende skutte is in die voetholtes vir die bestuurder en voorste passasier ingebou om hulle teen beserings aan die onderbene te help beskerm.

Energie van botsings van die kant af word deur die vloerpan en dakbalke versprei. Toyota gebruik ook die eerste keer opgestopte skutte wat op heuphoogte ingebou is om die agterste insittendes teen beserings te help beskerm.

Voetganger-botsveiligheid
Die nuwe Verso se enjinkap het ’n energie-absorberende struktuur en ’n frommelbare tussenkap aan die agterste randjie. Die ruitveërmotor en meegaande meganisme is laer teen die skeidingsmuur gemonteer, wat meer ruimte vir induik laat as die voertuig ’n voetganger tref.

Die enjinkap se slot is ver onder die boonste oppervlak van die enjinkap gemonteer, terwyl die voorkant van die voertuig ook frommelsones teen bo- en onderbeenhoogte het. Bykomende impak-absorbeerders is naby die agterste rand waar die enjinkap by die boonste deel van die modderskerms aansluit om voetgangerbeserings verder te beperk.


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply