Vier instellings wedywer in 2009 SPAT-toneelstryd

Die Sanlam-prys vir Afrikaanse Teater (SPAT) vir 2009 gaan vir die eerste keer tussen vier tersiêre instellings uitgespook word.

 

Die SPAT-toneelstryd, die sesde van dié aard, word volgende jaar van 6 tot 10 April by die Absa KKNK op Oudtshoorn beslis. Die kompetisie stel prysgeld van altesame R270 000 per jaar beskikbaar vir die ontwikkeling van nuwe Afrikaanse teaterproduksies.

Die finaliste is gekies op grond van oorspronklike Afrikaanse dramatekste wat aanvanklik deur die skrywers vir oorweging aan enige van die dramadepartemente by universiteite en universiteite vir tegnologie in Suid-Afrika voorgelê is en uiteindelik deur hulle vir beoordeling gekeur en ingeskryf is. Daar was twaalf inskrywings van ses instellings.

Die vier finaliste, wat nou deur die SPAT-paneel aangewys is, is:
Die Bannelinge deur Bauke Snyman, ingeskryf deur Universiteit Rhodes;
Die Wagkamer, deur Frans Josias Hamman (Universiteit Stellenbosch);
Karakters, deur Jané Dowd (TswaneUniversiteit vir Tegnologie); en
Spokie Snygans maak sy buiging, deur Jeanne Goosen (Universiteit van die Vrystaat)

Dié tekste gaan nou ingestudeer en met ‘n borgskap van R25 000 elk deur die betrokke dramadepartemente by die KKNK opgevoer word, waar die paneel die algehele wenner en ook die beste akteurs, regisseur en dramaturg aanwys.

Vir die wendramadepartement wag ‘n stewige R100 000 (op voorwaarde dat die wenproduksie by twee ander kunstefeeste opgevoer word). Individuele pryse ter waarde van altesame R70 000 is ook op die spel.

Die SPAT-paneellede is Hennie van Greunen, Margot Luyt, Ilse van Hemert, Mike van Graan en Elize Cawood.

Volgens Martie de Lange, borgskapbestuurder van Sanlam, laat instellings wat reeds deelgeneem het, hulle nie onbetuig oor wat die SPAT-vertoonvenster vir hulle beteken nie.

“Dit skep onder meer unieke geleenthede vir wisselwerking tussen die regisseurs, studente-akteurs en dramaturge. Verskeie studente-akteurs wat in vorige kompetisie-opvoerings opgetree het, het sedertdien al rolle in ander professionele produksies losgeslaan,” sê sy.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar