Bloemfontein, Saterdag – Die privaatspan, Chris Visser en Japie Badenhorst het die eerste Human Auto 400, die voorlaaste ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap net-net gewen en kan die Produksievoertuigkategorietitel in vanjaar se nasionale reeks so te sê agter hul naam skryf.
Volgens ‘n voorlopige punteberekening benodig Visser en Badenhorst in die RFS-Toyota Hilux ‘n enkele punt om die kampioenskap te verseker. Saterdag se sege was Visser/Badenhorst se derde vir die seisoen en ’n 15de plek tydens volgende maand se RFS Magalies 400, die finale ronde vir die jaar, sal voldoende wees om hul name in die rekordboeke te verewig.
‘n Stormagtige wind en donderstorm net voor die einde van die ren het chaos by die eindpunt veroorsaak. Dit het bygedra tot ‘n dramatiese einde na ‘n aksiebelaaide dag en geluk wat gedraai het met net 27 sekondes wat die eerste drie voertuie by die eindpunt van mekaar geskei het.
In een van die naaste reneindes in die geskiedenis van die Absa-kampioenskap het Visser en Badenhorst ‘n enkele sekonde voor die Team Ford Ranger TDCi van die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer klaargemaak. Christiaan du Plooy en Henk Janse van Vuuren was ‘n skrale 26 sekondes verder agter in ‘n tweede RFS Toyota Hilux.
‘n Versnelren het oor die laaste twee kilometers tussen die drie voertuie ontstaan. Dit was opwindend en na ‘n wiel-aan-wiel-jaagtog in uiters slegte weersomstandighede het beide die Ford Ranger en die Du Plooy/Van Vuuren-voertuig met veringstelselprobleme klaargemaak.
“Dit was ‘n harde dag op kantoor en ‘n naelskraapsege,” het Visser na die tyd gesê. “Die laaste gedeelte van die ren was baie moeilik, maar ons het daarin geslaag om nie foute te maak nie.
“Vanuit ‘n kampioenskapsoogpunt was dit ‘n goeie resultaat, maar ons kan nog nie te bly raak nie.”
Visser en Badenhorst het die ren vanuit die vyfde posisie aangepak en het geleidelik opbeweeg soos ander spanne probleme ondervind het of die handdoek moes ingooi. Die Donaldson-voorrenwenners, Anthony Taylor en Robin Houghton (Team Castrol-Toyota Hilux) het ‘n rits pap bande opgedoen. Thomas Rundle en Juan Möhr (Barden Tyre Services-Nissan Navara) het ‘n ratkas gebreek; Hannes Grobler en Hennie ter Stege (RFS BMW X3) het ook tyd as gevolg van pap bande verloor en Duncan Vos/Rob Howie (Team Castrol Toyota Hilux) se kanse op die kampioenskap is vanweë veringstelselprobleme gekniehalter.
Woolridge/Skjöldhammer en Du Plooy/Van Vuuren was onderskeidelik sewende en tiende na die Donaldson-voorren wat die wegspringposisies bepaal het en het ook op die rangleer opgeskuif tot voor Grobler/Ter Stege wat vierde was. Terence Marsh en sy plaasvervanger-navigator, Richard Leeke, het in ‘n bestendige vyfde plek in die Regent Racing Nissan Navara klaargemaak en was voor die plaaslike Ruwacon Racing-spanne, Louw de Bruin/Riaan Greyling en Pieter Ruthven/Rudi Britz.
Ruthven en Britz het die ren op ‘n stadium vir die eerste keer in hul loopbane gelei en daar was ‘n sprankie hoop op ‘n sprokiesagtige tuisoorwinning.
Taylor en Houghton was agtste met fabriekspanne wat twee van die sewe renne tot dusver dié seisoen gewen het. Die negende plek het aan die Atlas Copco Toyota Hilux van Gary Bertholdt, wat die ren met ‘n gebreekte hand voltooi het, en André Vermeulen behoort met die veterane, Jannie Visser en Joks le Roux wat die top 10 in nóg ‘n RFS Toyota Hilux afgerond het.
Deon Venter en Ian Palmer (4×4 Mega World Toyota Hilux) was vir die tweede agtereenvolgende ren die enigste Klas D-span wat die ren kon voltooi. Nadat hulle ‘n voorsprong van agt minute opgebou het, moes die vroeë voorlopers, Louis Weichelt en Johann Smalberger (N1 4×4 Toyota Hilux) tou opgooi en Venter en Palmer is nou voor in die kampioenskap.
Die Klas E-kampioenskap is ook oopgegooi toe Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus (4×4 Mega World Toyota) van agter gekom het om ‘n sege aan te teken. Hulle is nou nege punte agter die tiener, Lance Woolridge en Ward Huxtable in die Team Ford Ranger. Woolridge en Huxtable het ‘n ongeluk tydens die Donaldson-voorren gehad en ‘n rugbesering het die jong KwaZulu-Nataller daarvan weerhou om aan die hoofren deel te neem.
Dit was Labuschagne en Erasmus se derde sege van die seisoen en het verseker dat Toyota skoonskip met klasoorwinnings gemaak het. Hulle was vyf minute voor Gerald le Roux en Willem Pretorius in die Ruwacon Ford Ranger. Die finale podiumposisie het aan die broers, Diederik en Danie Hattingh (Transcor Toyota Hilux) behoort wat 12 minute agter was.
bydrae: Charmaine Fortune
