Die privaatspan, Chris Visser en Japie Badenhorst, het die Produksievoertuigkategorietitel van die Absa-Veldrenkampioenskap gewen – maak nie saak wat tydens die laaste byeenkoms van die jaar gebeur nie.
‘n Oorwinning tydens die eerste Human Auto 400 in die Vrystaat, wat die voorlaaste ronde van die kampioenskap was, was genoeg om die RFS Toyota Hilux-paar ver genoeg voor Hannes Grobler en Hennie ter Stege in die RFS BMW te plaas. Grobler en Ter Stege kan steeds met dieselfde hoeveelheid punte as Visser en Badenhorst klaarmaak as hulle die RFS Magalies 400 in November wen, maar hulle sal deur middel van ‘n eliminerende telling uitgeskakel word.
Indien Visser en Badenhorst nie punte aanteken nie en Grobler/Ter Stege wen die Magalies-byeenkoms, sal die twee spanne met dieselfde hoeveelheid punte eindig. Die titel sal egter aan Visser en Badenhorst behoort wat drie seges teenoor Grober en Ter Stege se twee aangeteken het.
Die uittredende jaerskampioen, Duncan Vos en Rob Howie kon nie die Vrystaat-byeenkoms voltooi nie wat die Team Castrol Toyota Hilux-paar se kanse op die kampioenskap vernietig het. Hulle is steeds in ‘n soliede derde plek in die kampioenskap met ‘n uitstekende stryd vir die oorblywende plekke in die jaerskampioenskap wat agter hulle woed.
Hier skei ses unte Terence Marsh (Regent Racing Nissan Navara), die voormalige kampioen, Neil Woolridge en Gary Bertholdt. Marsh het 69 punte met Woolridge en Bertholdt onderskeidelik met 65 en 63 punte.
Agter die voorste drie kan die situasie tussen die navigators ook verander. Hier skei sewe punte Kenny Skjöldhammer (65), Andre Vermeulen (63) en Buks Carolin met 58 punte.
Skjöldhammer sit langs Woolridge; Vermeulen is saam met Bertholdt en Carolin is Marsh se vennoot. Besigheidsverpligtinge het Carolin egter daarvan weerhou om aan die Vrystaat-ren deel te neem en hy sal die laaste byeenkoms ook mis.
Die situasie in die Klas SP-kampioenskap lyk effens anders en Grobloer en Ter Stege kan steeds by die agterdeur insluip. ‘n Verskil in die veldrenpuntetoekenning beteken dat Visser/Badenhorst die algehele kampioene is en Grobler/Ter Stege koning kan kraai in Klas SP.
Soos sake nou staan is Visser/Badenhorst 16 punte voor Grobler/Ter Stege met Vos en Howie ‘n verdere nege punte agter. ‘n Elfde plek tydens die RFS Magalies 400 sal genoeg wees om die titel aan Visser en Badenhorst te gee.
Twee agtereenvolgende seges het Deon Venter en Ian Palmer (4×4 Mega World Toyota Hilux) bo-aan die Klas D-kampioenskap geplaas. Hulle is nou nege punte voor die seisoen se vroëere pasaangeëers, Dewald van Breda en Johann du Toit met die Northam Toyota Hilux wat by die Human Auto 400 as ‘n Klas SP-voertuig geherklassifiseer is.
‘n Ongeluk het die tiener, Lance Woolridge en Ward Huxtable (Team Ford Ranger) buite aksie in die Vrystaat gelaat en die Klas E-kampioenskap wawyd oop gegooi. Pikkie Labuschagne en Rickus Erasmus het met die 4×4 Mega World Toyota Hilux van agter gekom en gewen en dié Wolmaranstad-span tot binne nege punte van Woolridge en Huxtable geplaas.
Woolridge het ‘n rugbesering opgedoen toe die Team Ford Ranger ‘n sloot teen ‘n hoë spoed getref het en hulle sal moontlik nie die RFS Magazlies 400 aanpak nie. Laas jaar het Labuschagne en Erasmus die kampioenskap met ‘n enkele punt teenoor Jannie Visser en Joks le Roux verloor.
Die RFS Magalies 400 sal op 19 en 20 November plaasvind. Die renhoofkantoor, die begin- en eindpunt en die aangewese dienspunt sal by die Tarlton Internasionale-renbaankompleks naby Krugersdorp wees.
bydrae: Charmaine Fortune
