Kapers, soos alle ander kriminele, prooi op onkunde. Deur ag te slaan op die volgende wenke sal jy nie sommer nog ‘n kapingslagoffer word nie:
Maak seker dat jy nie agtervolg word op pad werk of huis toe nie. Indien jy wel agtervolg word moet jy na die naaste polisiestasie of na ‘n besige plek toe ry.
Vermy stil paaie.
Moenie reageer as vreemdelinge vir jou aandui dat daar iets met jou motor verkeerd is nie. Ry na die naaste veilige plek en kyk self.
Indien daar fout gaan met jou motor moet jy probeer om na ‘n veilige plek te ry.
Wees op die uitkyk by stopstrate of verkeersligte – veral snags of by afgeleë plekke.
Wees altyd bedag by hekke, rylane, of vulstasies.
Wees op die uitkyk vir verdagte persone en voertuie wanneer jy by die huis of die werk aankom.
Trek vinnig weg indien iemand jou stilstaande motor nader.
Hou die voertuig se deure gesluit, en die vensters toe.
Hou waardevolle goedere buite sig.
Moet nooit jouself verset nie – jou lewe is meer werd as die waardevolste motor!
Indien jy wel die slagoffer van ‘n motorkaping is, probeer om soveel besonderhede as moontlik te onthou. (Registrasienommers, voorkoms, kleredrag, uitstaande kenmerke, ens.) Kontak die nooddienste onmiddelik.
Moenie wag dat ander motoriste jou moet kom help nie. Kontak self die nooddienste met jou selfoon.