Na jare se doodse stilte (letterlik en figuurlik), klim Suid-Afrika se grootste en mees ikoniese Halloween-geleentheid weer uit die graf: die Cape Town Zombie Walk. Op 1 November sal duisende half-dooie siele weer deur die strate van Kaapstad strompel – vanaf die Tuine af tot waar die laaste koppie brein… pardon, koffie nog te koop is.
Dis nie net vir die menslike dooies nie; dis ’n familievriendelike en troeteldier-vriendelike parade. Ja, jy het reg gelees – jy kan jou hond saambring, mits hy nie iemand probeer byt nie. Die stap ondersteun die Lucky Lucy Foundation, wat mishandelde en verwaarloosde diere help – ironies genoeg, mense wat die dooies aanmoedig om vir die lewendes te sorg.
Vir diegene wat glo die nag is nog jonk (of onsterflik), volg daar ’n afterparty waar jy vir so min as R200 ’n kaartjie koop – en moontlik jou waardigheid verloor. Die stap self is gratis, want zombies het selde kleingeld, maar hul harte klop steeds vir ’n goeie saak.
📅 Wanneer: Saterdag, 1 November
📍 Waar: Die Tuine, Goewermentslaan 109, Kaapstad
💀 Toegang: Stap gratis | Afterparty vanaf R200

