Die wenners van die 2015 kykNET-Rapport-boekpryse en die Jan Rabie-Rapportprys is onlangs op ‘n glansgeleentheid in Kaapstad aangekondig.
• Buys (Kwela) deur Willem Anker het die kykNET-Rapport-boekprys vir fiksie gewen.
• Ester (Human & Rousseau) deur Kerneels Breytenbach het die kykNET-Rapport-boekprys vir film gewen.
“Die besondere belofte wat Willem Anker met sy debuutroman Siegfried getoon het, en die verwagtings wat die bekroning van dié roman en die daaropvolgende toekenning van die Jan Rabie/Marjorie Wallace-skrywersbeurs geskep het, word in Anker se tweede, groots opgesette roman, Buys, volledig vervul,” meld beoordelaar Thys Human. Dié boek het ook die 2015 Universiteit van Johannesburg-prys vir beste kreatiewe werk en die 2015 WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie ontvang.
Kerneels Breytenbach se “fyn gekallibreerde roman” Ester was ook vir die fiksieprys benoem, maar die feit dat dié verhaal “netjies binne ‘n bewese kommersiële filmgenre val” maak dit die ideale wenner van die filmprys. Ester is al vir verskeie pryse benoem, insluitend die 2015 ATKV-Prosaprys, 2015 WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse fiksie, ‘n Huisgenoot-Tempo-toekenning as leesboek van die jaar 2015 en die 2015 UJ-prys.
Die wenner van die fiksie-kategorie ontvang R200 000 in prysgeld, terwyl die wenner van die filmprys R100 000 ontvang.