‘n Pawpaw Vir My Darling – die fliek

Die amptelike lokprent vir die fliek, ‘n Pawpaw Vir My Darling, Jeanne Goosen se roman, wat deur die rolprentmaker Koos Roets in ‘n fliek omskep is, is onlangs bekendgestel.


‘n Pawpaw Vir My Darling is ‘n greep uit die lewe van die Beeslaer-familie van Frik Du Preezstraat 24, Damnville wat afspeel in 2003, hul lief en leed gesien deur die oë van hul ‘pavement special’ hond, Tsjaka wat die hoofkarakter in die storie is.

Die Beeslaers is verteenwoordigend van die blanke Afrikaner wat post-1994 ‘n eksistensiele verwarring beleef, wat alhoewel goeie voornemens, telkens in ‘n slaggat trap in hul pogings om aan te pas by ‘n nuwe politieke bestel, ekonomiese uitdagings en sosiale kwessies. Dit speel onder andere uit in hul verhouding met die tuinwerker Cyril Phosa (Fezile Mpela), die polisieman Sargeant Kennedy Banda (Dambuza Nqumashe) en Minah Naidoo (Roshila Jarosz), die Indiër ‘girlfriend’ van hul seun Elvis (Hannes Brümmer).

Dis veral Soufie (Deirdre Wolhuter) wat sukkel om Cyril se voor-op-die-wa houding, Elvis se Indiër ‘girlfriend’ en gay Rusty (Martelize Kolver) se ‘girlfriend’ Thalita (Hanlie Rolfes) te hanteer. Die problematiek van werklose kinders wat by hul ouers inwoon, word weerspieël in luigat Mabel (Jana Nortier) wat geen verantwoordelikheid vir haar situasie aanvaar nie, onrealistiese verwagtinge koester en verkies om haar voorkoms, familie en die nuwe politieke bestel vir haar probleme te blameer. Vleis (Deon Lotz) en Soufie se verhouding is tipies van maats wat nie toegrus is om werklik mekaar se dieper emosionele pyn en behoeftes te verstaan nie, wat ‘n ‘tonic’ aandra as ‘n senu-ineenstorting dreig.

Wat die hoofkarakter Tsjaka betref – Hy is die altyd hongerige, senuweeagtige ‘pavement special’ hond van die Beeslaers, die hond met die vrygees wat vasgevang is agter die toe hek van Frik Du Preezstraat 24, wat heeldag na die afgesaagde stories van die disfunksionele Beeslaers moet luister en hul familie-dramas moet aanskou. Daar is ‘n sprankie van hoop as hy verlief raak op Mignon, die verlore poedel-meisietjie van Waterkloof, maar wat weer hartseer moet toekyk as haar gegoede eienaars (Heléne Lombard en Dawid Minnaar) in ‘n swart luukse motor opdaag om haar te kom haal. Sy ander hondevriende is Knoffel, die een wat hom verbeel hy het windhondbloed en Makkie die gesette teef wat vir Tsjaka by die voorhekkiehekkie kom kuier. Tsjaka verwys ook neerhalend na Peppie van die Mufamadi-egpaar, die ‘opstêrs’ hondjie met papiere.

‘n Pawpaw Vir My Darling is ‘n verhaal van oorlewing in ‘n uitsiglose bestaan, van humor en patos, van lief en leed, van vreugde en verlies, van hunkering, hoop en uiteindelike aanvaarding van ‘n lewe sonder ‘trimmings’.

Die fliek word op 8 Januarie 2016 landwyd deur Ster Kinekor Entertainment uitgereik.

Marcel van Heerden en Margot van Rooy
Marcel van Heerden en Margot van Rooy

Lewer kommentaar

Leave a Reply