Autshumao (ca. 1600 -1663) was die hoofman van ’n Khoi-groep aan die Kaap lank voor die eerste Europeërs hulle permanent daar sou vestig. Die naam Autshumao was heel gepas. Dit beteken “man wat saam met die visse swem”. In sy leeftyd sou hy die waters deurkruis, veel meer as enige ander inwoner van die Kaap op daardie stadium.
In 1630 vergesel Autshumao ’n Engelse skeepskaptein na Bantam in die Verre-Ooste. Dit is nie duidelik of dit sy besluit was en of dit deels onder dwang was nie. Hy spandeer ’n jaar daar en leer Engels en Nederlands aan.
Bantam is ’n hawe in Indonesië geleë aan die mond van die Banten rivier. Die rivier verleen toegang tot Indonesië se binneland vir kleiner vaartuie. Vandag is dit beter bekend as Banten. Behalwe taalvaardighede het Autshumao sy handelsvaardighede hier verbeter.
In 1632 gaan woon Autshumao op Robbeneiland waar hy die taak van posmeester en tussenganger verrig vir die verbygaande Europese skepe. En dit was geen geringe taak nie, amper 2000 skepe sou uiteindelik hier aandoen. Autshumao se mense sou die grootste voordeel trek van sy rol as onderhandelaar en hy self sou ’n baie ryk man word. In 1638 keer hy terug na die vasteland.
Na die aankoms van die Nederlanders in 1652 tree hy op as tolk vir Jan van Riebeeck en as segsman vir die plaaslike inwoners. Onder die Nederlanders sou hy bekend staan as Herri die Strandloper. Die indruk is geskep dat hierdie mense gewoon oorleef het op seekos wat hulle versamel het. Hulle was egter ’n ervare groep handelaars wat Europese skepe van goedere en dienste voorsien het. Van Riebeeck het hulle hulp ook gereeld ingeroep om siek matrose te versorg. Hulle het nie net medisyne verskaf nie, maar ook pleisters.
Teen 1657 het Autshumao honderde stuks vee in krale agter Leeukop gehad. Die afwysende manier wat sommige Europeërs na hom verwys het spruit waarskynlik uit frustrasie. Autsumao het nie net gesorg vir die setlaars se behoeftes nie, maar hy het ook seker gemaak sy eie mense kry hul deel. Daar was ook nie net een homogene Khoi-groep soos verskeie Europese besoekers insinueer het nie. Sien gerus die kaart van François Valentyn, gedateer 1726. Verskeie groepe aan die Kaap en verder langs die kus af het reeds etlike jare ’n uitgebreide ekonomie gehad wat Europese seevaarders van vleis voorsien het voor ’n Europese nedersetting hier gestig is.

In 1658 breek ’n oorlog uit tussen Autshumao se mense en die Nederlandse setlaars, hoofsaaklik oor vee. Autshumao verloor die oorlog en word na Robbeneiland verban.
Autshumao en nog ’n gevangene word die enigste mense wat ooit van Robbeneiland ontsnap in 1660. Hulle steel ’n roeiboot en roei al die pad na Bloubergstrand, waarskynlik die laaste keer wat hy die waters sou oorkruis.
Autshumao vlug na die omgewing van Saldanabaai. Hy is oorlede in 1663. Teen 1713 was daar nie meer van Autshumao se mense aan die Kaap nie, waarskynlik as gevolg van ’n pokke-epidemie.
Bronne:
Elphick R. 1985. Khoikhoi and the Founding of White South Africa. Johannesburg: Raven Press.
Knox-Johnston R. 1989. The Cape of Good Hope – A Maritime History. Londen: Hodder and Stoughton.
Schoeman K. 2007. Early Slavery at the Cape of Good Hope 1652-1717. Pretoria: Protea.
Schoemann K. 2009. Seven Khoi Lives – Cape biographies of the seventeenth century. Kaapstad: Protea.
Valentijn F. 1726. Caab de Goede Hoop. Kaapstad:Universiteit van Kaapstad.