Op 6 April 1652 kom Jan van Riebeeck aan boord van die Drommedaris in Tafelbaai aan. Die ander skip in sy vloot wat op dieselfde dag arriveer is die Goede Hoop.

Die Reyger volg op 7 April. Op daardie dag gaan Van Riebeeck aan wal om te besluit oor waar ’n fort opgerig kan word. Die res van die vloot kom eers op 7 Mei in Tafelbaai aan; die Walvis en die Oliphant.
Van Riebeeck het opdrag ontvang van sy werkgewer, die Verenigde Nederlandse Geoktrooieerde Oos-Indiese Kompanjie, om ’n fort te bou met die naam Fort de Goede Hoop. Dit moes groot genoeg wees om 80 mense te huisves. Hy moes ook ’n mas laat oprig om seine aan skepe te gee. Op daardie stadium daar al duisende skepe hier aangedoen (sien Autshumao – man wat saam met die visse swem). Hulle moes dan ook loodsbote bou om ’n vloot veilig in die baai in te lei. Om skepe van verversings te voorsien was die opdrag om groente te verbou, vrugtebome te plant en weilande te skep.
Verder het hy opdrag ontvang om in vrede te leef met die plaaslike bevolking en om enige ander lande wat stasies hier wil vestig met rus te laat.
Van Riebeeck moes dagregisters hou vir die bestuursraad van die Kompanjie, die Here XVII. Die Kaap het geval onder die gesag van die Goewerneur-Generaal van Batavia en die Raad van Indië. Van Riebeeck moes dieselfde verslae aan hulle stuur. Hy het dan opdragte uit beide Amsterdam en Batavia ontvang.
Bronne:
Elphick R. 1985. Khoikhoi and the Founding of White South Africa. Johannesburg: Raven Press.
Knox-Johnston R. 1989. The Cape of Good Hope – A Maritime History. Londen: Hodder and Stoughton.
Muller CFJ. 1968. Vyfhonderd Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis. Pretoria: Academia.