deur Haydee Hollander
17/01/1953-16/08/2004
“Breek handel oor die broosheid van die mens, iets wat byvoorbeeld vooropgestel is in Tennessee Williams se The Glass Menagerie. Breek as movie sou miskien iets van die vrees en wankommunikasie in gesinne beklemtoon soos wat Glass Menagerie gedoen het.” – Barrie Hough tydens ´n onderhoud met Jaco Jacobs, M-Student in Kommunikasiekunde en skrywer (Januarie 2003).

Barrie Hough se eerste boek, My kat word herfs is in 1985 as finalis in die Sanlam Jeuglektuurwedstryd aangewys en is die boek waarmee hy waarskynlik sy grootste sukses behaal het. Dié verhaal oor ´n introspektiewe seun wat hakkel, sy liefde vir die teater en Siamese katte is reeds in sy 20ste herdruk en word allerweë beskou as ´n seminale werk wat die Suid-Afrikaanse jeuglektuur in ´n nuwe rigting laat inslaan het. Penguin het die boek in Engels as My cat turns autumn gepubliseer. Die boek is ook gekies om deel uit te maak van die Proudly South African: 100 Representative Children’s Books-uitstalling by die 2004 IBBY Kongres wat binnekort in Kaapstad gehou word.
Hough is in Johannsburg gebore, matrikuleer aan die Hoër Seunskool Helpmekaar en studeer Kommunikasieleer aan RAU waar hy ook sy M.A. in Engels oor die dramaturg Athol Fugard behaal. Hy was vir ´n aantal jare onderwyser voor hy in 1979 aangestel is as toneelresensent by die dagblad Beeld. In 1984 is hy bekroon met die AA Vita-prys vir teaterjoernalistiek. Hy was ook vir ´n tyd lank lid van Rapport se kultuurredaksie waar hy onder meer oor rolprente, teater en boeke geskryf het. Hy het verlede jaar as kunsredakteur van Rapport uitgetree.
Hough se tweede boek Droomwa (1990) is ´n outobiografiese jeugroman met sy wortels in Hillbrow waar Hough grootgeword het en word landswyd in skole voorgeskryf. Die boek is reeds in sy 20ste druk. Droomwa is deur Oxford University Press in Engels gepubliseer as Dream Chariot, het die Alba Bouwer-prys vir Kinderlektuur, die CP Hoogenhout-toekenning vir die beste Afrikaanse kinderboek en die Silwer Sanlamprys ontvang. Soos in die geval van die eerste boek, is ook Droomwa gekies vir die Proudly South African: 100 Representative Children’s Books-uitstalling.
Lizz Meiring het ´n lang werksverhouding met Hough gehad en onder meer sy werk oor jong kunstenaars en VIGS (Vlerkdans) (1992) in ´n toneelstuk omskep. Die boek het die Goue Sanlamprys gewen asook ´n ATKV-kinderboektoekenning. Ook dié werk word landswyd by skole voorgeskryf en is al 21 keer herdruk. Dit is deur Heinemann-Uitgewers in Engels as In full flight uitgegee.
“Boeke-in-movies is ´n speletjie wat filmmakers al lank met Suid-Afrikaanse skrywers speel. As jy baie gelukkig is, kom daar iets daarvan soos met Karel Schoeman se Promised Land. Anders is dit maar net rearranging the deckchairs on the Titanic.” – Barrie Hough tydens ´n onderhoud met Jaco Jacobs.
Skimmelstreke verskyn in 1995 en is ´n bundel sketse en essays uit sy bydraes tot die rubriek Skuins voor Maandag wat weekliks in Rapport verskyn het. Maar dit was Skilpoppe (1998) waarmee Hough ´n driekuns behaal het, want dit was sy derde boek wat van hom ´n wenner in die Sanlamprys vir Jeuglektuur gemaak het. Hierdie boek handel oor die temas van dwelmmisbruik en homoseksualiteit en is beskryf as ´n storie wat drama, teater en veral Shakespeare weer lewendig sal maak vir jeuglesers. Dit is onlangs verfilm met Sandra Prinsloo en Marius Weyers in die hoofrolle en word op 27 September 2004 vir die eerste keer op M-Net uitgesaai. Saam met die tweede uitgawe, beleef Skilpoppe reeds sy 15de herdruk.
Hough se laaste jeugroman het in 2002 verskyn. Breek het egter eers in 2001 by die KKNK en Aardklop sukses as toneelstuk behaal voordat dit as ´n roman verskyn het en skaars ´n maand na sy verskyning moes dit herdruk word. Dit word nou by sowel Afrikaanse as Engelse skole voorgeskryf en is benoem vir ´n MER-toekenning.
Barrie was hartstogtelik lief vir diere (hy het rondloper-diere versamel en was veral gek na Siamese katte), het belang gestel in die Chinese kultuur en beeldende kuns en graag gereis.
Hough (51) is vroeg Dinsdagoggend dood aangetref in ´n woonstel in Melville, Johannesburg. Die woonstelgebou se opsigter het gas geruik, ondersoek ingestel en Hough se liggaam in die slaapkamer gevind. Hy was blykbaar die laaste tyd erg teneergedruk en onder doktersbehandeling vir depressie. Selfmoord word vermoed.
Bronne: Storiewerf, Tafelberg Uitgewers, Brandpunt
