Wat sou jy gedoen het?
Jou man is ontrou aan jou voor, tydens en na julle troudag. Jou man se affairs is hoofopskrifte in die koerante. Jy moet skei en probeer om jou seuntjies soveel as moontlik te beskerm. Jy moet trek uit jou droomhuis om iewers anders oor te begin. Jou hart gebreek is deur die een man vir wie jy werklik lief was.
Natasha Sutherland het ’n hele klomp dinge gedoen … Stilgeword, baie gehuil, trooskos geëet, haar twee seuns gekoester, haar omring met vriende, elke dag net aangegaan, met kenners gaan praat, hulp gevra, gebid, gedans en geskryf …
Dié verhale van verandering is hartsgeheime van ’n enkelvrou oor haar aanbeweeg van “Gebreek”, na “Verbind” tot om “Bevry” te wees.
Natasha Sutherland was die prinses wat met haar droomprins, die bekende Afrikaanse popsanger Steve Hofmeyr, getroud was en twee kroonprinsies en ’n suksesvolle beroep as aktrise en programvervaardiger in balans kon hou. Sy was dit alles en meer. Maar die sprokie van haar lewe het ten aanskou van die hele land verbrokkel. Almal weet van die dramas, die affairs en die egskeiding wat volg.
Wat min mense weet, is dat Natasha oor haar ervarings, gedagtes en sielereis geskryf het. Dis die essays waaruit Bittersoet bestaan – grepe uit ’n splinternuwe enkelvrou se belydenisse oor haar aanbeweeg van “Gebroke”, na “Verbind” om uiteindelik by “Verlos” te kom.
In die drie dele kan jy lees oor:
- Mans en liefde
- Die huwelik en seks
- Vroue en vriendskap
- Affairs en ontrouheid
- Kinders en egskeiding
- Alleenheid en depressie
- Engele en gebed
- Stilte en dans
- … en hoe om ’n swembad blou te hou en skitterende kolwyntjies te bak.
Aanvanklik lees ’n mens Natasha se bittersoet belydenisse omdat jy nuuskierig is en meer oor die vrou agter al die drama en sensasie wil weet. Maar na net enkele bladsye weet jy hierdie is nie ’n outobiografie nie. Dit is woorde wat gebore is uit ’n wyse en kosbare hart en wat jou aanraak. Woorde wat hoe jy dink en voel oor die liefde, lewe en alles tussenin – soos vergifnis – vir altyd sal verander.

Die boek bring hoop aan almal op die randjie van wanhoop. Natasha het die pad van seerkry EN heelword met moed aangepak en deel alles wat sy geleer het met haar leser. Daarom sal jy eerlike belydenisse kan lees oor die tye wat sy amper-amper nie kon regop bly nie en wat haar vriendinne en doodgewone SMS’e vir haar toe beteken het. Sy bieg oor haar oomblikke van selfbejammering en ook wat dit geneem het om haar uit hierdie put te haal.
Na alles wat sy aan haar lyf ervaar het as ’n ma, gee sy praktiese advies aan alle ouers wat hulle kinders moet begelei deur die trauma van egskeiding. Natasha het geleer om te gaan hulp vra en gee aan haar lesers die vrae wat sy aan kenners gevra het, en ook die antwoorde wat sy gekry het. Sy is selfs bereid om haar gunsteling kosresepte te deel!
Natasha Sutherland se essays wys nie die silwer randjies aan die donker wolke uit nie. Sy neem haar lesers saggies aan die hand en stap saam met hulle.
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
