Boendoe

As iemand wat nie eintlik gereeld Afrikaanse boeke lees nie, skielik ´n paar ure lank nie belangstel in die krieket op die TV of rekenaarspeletjies nie, en net met sy neus in ´n boek sit en uitgelos wil word “om uit te vind of die vliegtuig gaan opstyg”, moet jy weet dat ´n skrywer iets beet het. Met dié prestasie kan Chris Barnard spog, want Boendoe is een van daardie seldsame boeke wat mens nie maklik neersit nie.

Van die eerste bladsy af, waar mens gekonfronteer word met die “broeiende holte in die bos” en ´n glas wyn wat onverklaarbaar verdwyn, vang die spanningslyn jou vas. Afgesien van die oormag van hongerlydende Mosambiekers en desperate planne deur ´n handjievol uiteenlopende randfigure om die dood te probeer afweer, sluip die bobbejaantrop dwarsdeur die verhaal dreigend om die sendinghospitaaltjie in die bos rond – met die tropleier, Malume, soos Raka, nuuskierig aan die voorpunt.

Maar Boendoe vra ook dieperliggende vrae oor die Bepaler van die lot van verwese mense wat eers deur ´n droogte uitgemergel word en dan deur ander natuurrampe oorweldig word. En oor verhoudings tussen mense: “Wat is die ding, tussen een mens en ´n ander, wat so duiselingwekkend is dat dit die laaste tree na mekaar toe onmoontlik maak?”

Drie jaar lank reën dit nie in die omgewing van ´n klein sendingkliniek iewers waar die grens tussen Suid-Afrika en Mosambiek nie duidelik is nie. Die kliniekpersoneel en die handjievol outsiders wat hulleself probeer vind deur hulle in die boendoe aan die samelewing te onttrek, kan nie anders as om betrokke te raak by die lyding en desperaatheid van die toestromende Mosambiekers nie. Maar dit is ´n oorweldigende taak wat sy tol eis.

Soos die flapteks dit stel: “Dit is ´n onmag wat Julia Krige eisend laat reik na Brand de la Rey, ´n syspoorloper nes sy, wat daar naby ekologiese navorsing doen. Brand moet met praktiese nugterheid aanvul waar die kliniekpersoneel se blinde geloof beskaam. Maar die avontuurlike plan wat hy bedink, verraai ´n romantikus. Een wat teen Julia geen verweer het nie, wat gedryf word deur vrae oor die eenheid van alle dinge, en wat hom teen sy eie weerstand in vereenselwig met al die ander verlooptes – kleurryk, heimlik, hopeloos – in hulle toevlug so diep die boendoe in.

Chris Barnard se derde roman loop deur die koorsige boswêreld van sy bekroonde eerste, Mahala, en is gelaai met spannende avontuur soos sy tweede, Moerland, waarvoor hy die W A Hofmeyr-, CNA- en Rapport-prys ontvang het. ´n Verhaal tuis in Afrika, oor mense ontuis in die wêreld.

Lewer kommentaar

Leave a Reply