Die uitgewer van dié uitklop-debuut, Queillerie, (en haar vriende en familie) sê Anoeschka is uniek, so effens weird, en dit kan mens seker ook sê van Annerkant die Longdrop. Maar een ding is seker: dié roman sal jou meesleur en jou Afrikaans laat beleef soos nog nooit tevore nie.
Die roman maak ´n draai deur die wye wêreld maar speel meesal af in ´n studentehuis op Stellenbosch, Hier woon drie susters: SyWatDoen, SyWatDink en SyWatDroom. Hulle is nie altyd soet nie, maar altyd slim en saam soek hulle na hulleself, na liefde, na die waarheid, seks en God.
Anoeschka von Meck se bynaam is Snoek. In die boek heet sy soms Ginkelsnoek, soms Sprankelsnoek. Sy lag glo maklik. Praat Engels en Afrikaans deurmekaar. Vloek in Duits. Maar haar ma sê sy’s gebore met ‘n frons, asof die lewe toe al vir haar ´n vraagteken was. Sy sê al wat sy nodig het om gelukkig te wees is haar woordverwerker, ´n matras, ´n lekker tent en die wêreld. Sy’s juis op soek na ´n nuwe tent voordat sy Tibet-toe verkas, want haar vorige een het in Zambië weggespoel.
Beleef Annerkant die Longdrop saam met dié vrou. Dit is nie verniet een van die finaliste vir M-Net se Boekprys vir vanjaar nie. Wie het gesê Afrikaans is op sy sterfbed?
