Boer maak ‘n plan

Ek erken. Wanneer ek ons nuwe buurvrou haar man in ‘n kinderwaentjie sien rondstoot, knip my oё ‘n paar keer in ongeloof.


Een been is wel in gips … maar nogtans?

‘n Week of wat later wanneer ons oor ‘n koppie tee kennis maak, los sy my nuuskierigheid op. Vertel sy dat haar man as ‘n opgeskote seun gereeld baljaar het in damme, gate en putte op die plaas waar hy grootgeword het. Dat hy êrens besmette water gesluk het en sodoende polio opgedoen het. Hy het volkome herstel. Behalwe vir sy regterbeen. Dié been is maer en spierloos. Swak. Dis ook so twee sentimeters korter as die gesonde been.

“En my man bly ‘n bok vi sports, né!” lag sy liefdevol. “Maar Gideon is ‘n regte ongeluksvoël en volgens Murphy’s law breek hy altyd die verkeerde been,” sê sy peinsend. “Dis dán wanneer die stootwaentjie uit die stoorkamer kom,” verduidelik sy.

Dis sommer ‘n lelike ou kinderwaentjie. Gelerig van die ouderdom. Kan sien dit was al deur ‘n paar kinders en nefies en niggies. Eintlik net ‘n sitplek op drie wiele. Maar dit werk vir hulle … so wie is ek om dit te bevraagteken?

Jy sal nie sommer iets agterkom wanneer Gideon soggens in ‘n langbroek werk toe gaan nie. Die een skoen is opgebou. Maar kaalvoet en in ‘n kortbroek merk mens die een maer been. En sonder die spesiale skoen, hink hy effens. Sy dogtertjie dink hy is cool. Na-aap hom. Loop met haar een voet op ‘n lae baksteen muurtjie en die ander voet op die paadjie.

Sannette vertel dan hoe hulle ‘n paar naweke gelede sommer op die ingewing van die oomblik besluit het om kuslangs te ry en êrens ‘n vleisie te braai. Alles behalwe die hout was gepak. Sou dit op pad êrens koop. Sy skel nog toe Gideon so skielik en hard briek trap, maar toe sien sy ook die handgeskrewe karton bordjie. Op ‘n stok, ingedruk tussen die rooi klippe… “droё hout for sale.”

“Hy hink en pink teen die steil, klipperige grondpaadjie af en ek sit en droom. Ontspan soos ‘n bakvissie in die warm kar,” sê sy. “Maar die kinders se gesiggies, vasgeplak teen die agterruit om hulle pa dop te hou, skree opgewonde dat daar ‘n hond is. Toe ek skuins draai, sien ek die wolfhond die bult opgedraf kom. Kyk ek hoe die hond happerig aan hom snuif. Merk toe hoe nog wolfhonde uit verskillende rigtings aangesluip kom.”

Sannette vertel met groot oë hoe sy haar man terugroep. Hoe sy met afgryse kyk hoe die trop honde hom bespring en die afdraand afsleep. Sy sien hoe hulle vir sy nek gaan. Sy en die kinders is histeries.

“Die eienaar van die erf red die situasie … as jy dit red kan noem. Hy roep die trop honne terug met die verskoning dat die wyfie onlangs babas gehad het. Is oorbeskermend,” sê sy kopskuddend. “Nou vir wat het jy ‘n bord op wat sê dat jy hout verkoop, vra ek vies?!”

“Die hout is vandag pasella, vra hy ons om verskoning. Sien ek net die wit van sy oё soos hy my help om die kreunende Gideon agter in die kar te help. En sommer ekstra houtjies, net vir mevrou, verbeter hy dan staroog sy offer!”

“Ai man, ek ry toe reguit hospitaal toe. Braaivleis vergete. Hout se maai.”

“En natuurlik is sy gesonde been toe weer gebreek. Toe haal ek maar weer die kinderwaentjie uit die stoorkamer. Ons gebruik dit so baie, ek hoef dit nie eers af te stof nie!”

Later in die jaar nooi ons hulle om die dag saam met ons op vriende se wynplaas net buite Stellenbosch te kuier. Dis ‘n windstil dag en ons sien al van ver die rookwolk van die yslike braaivleis vuur hemelwaarts dwarrel. Oestyd is in volle swang. Mandjies vol stroopsoet druiwe. Groot, nat korrels wat kraak en bars soos jy byt. Goeie plaaswyn.

Ons vergeet ons het kinders. Hulle baljaar in die vlak-ronde klippies-vissies rivier. Bol kieste vol druiwe. Speel met die plaaskatte. Huppel kort-kort om hulle te verwonder aan die lieflike, blink perde agter ‘n heining.

Na ‘n lekker gesmul en gekuier, besluit van die mense dis tyd om daai perde te ry. Baie opgewonde staan Gideon voor in die ry. Ek hoor Sannette se voorspellende woorde, “Pa, jy was nog nooit op ‘n perd nie?” “Dis mak, afgetrede perde! Hulle sal nie ‘n vlieg seermaak nie. En ek gee vir Gideon die rustigste perd.” stel ons gasheer haar gerus.

Gideon se perd is te rustig. Meer steeks. Is nie lus om te gallop nie. Wil nie eers loop nie. Sannette kou grootoog haar naels.

Die perd trippel op een plek. Trap sy hoewe ongeduldig in die grond vas. Ritmiese episodes van trippel en vastrap. Dan, in ‘n stofwolk, skiet hy blitsig vorentoe. Hol hy vir eerste plek in die Durban July. Stop hy summier en steier op sy agterbene. Lyk of sy voorbene aanhou nael. Runnik hy die vlaktes in dat selfs die katte en honde laat spat.

Gideon vlieg ver. Nes Superman fladder sy rooi toppie al om sy skouers. Hy land êrens tussen digte bosse. Heeltemal buite sig. Hoor hom net skree. Almal stroom om hom te hulp te snel. “Bly nét hier,” beveel Sannette die kinders.

Ons neem hom na die kliniek op Stellenbosch. Sy polio been is ongeskonde. Die ander been is lelik gebreek. Op ‘n paar plekke. Gideon is terug in die pram. Vir ‘n hele paar weke …

Dis ‘n klompie maande later wanneer hulle ons nooi om die naweek saam met hulle weg te gaan. Hulle huur ‘n huis in ‘n ongerepte plekkie net buite Gansbaai. Grondpaaie en digte fynbos. Wilde suurvye. Viooltjies. Huisies hier en daar.

Gideon se vriend, Jack, bly permanent in ‘n eenvoudige sement geboutjie, so twee erwe van ons plekkie. Hy en sy opgewende fox terriër hondjie is onafskeidbaar. Ervaar ons hoe die twee daagliks saam op ‘n verinneweerde bootjie uitgaan om vis te vang wat hulle dan verkoop. Die vis is hulle brood en botter.

Die hond se naam is Paultjie en ek sweer hy kan op water loop.

Die aand nooi Jack ons vir ‘n braai. Vars vis op die kole. Ons veg ons pad oop deur die digte bosse na sy plek. Honderde vuurvliegies verlig die pad.

Ek vind Jack ietwat eienaardig. Eksentriek. Maar ten minste vermaak hy die kinders. Tydsaam en met vele genot krap hy kliphard gevriesde tamaties tussen die visse uit sy vrieskas. Dis amper ‘n onbegonne taak, want die vrieskas is duidelik lanklaas ontdooi. Demonstreer hy hoe die tamaties soos ‘n bal op die sementvloer kan hop en hoe Paultjie dit dan keer op keer vang. Die hond lag oopbek.

Die voggies vloei en dis heelwat later wanneer ons eet. Die vis is ietwat uitgedroog, maar ons is honger.

Paultjie se oë blink. Hy kry die beste stukkies.

Eet ons die tamatiesmoor gemaak van die tamaties wat na vis ruik en vroeër die aand op die vloer rond gebons het. Wat Paultjie al hoppend met sy bek gevang het.

Dan begin die aftog terug na ons eie huisie. Dis laat en stikdonker. Die vuurvliegies slaap. Soos dit mansmense betaam, loop hulle voor. Baan hulle die weg vir ons vrouens en kinders. Tog klap takke ons links en regs deur die gesig. Struikel ons oor onsigbare klippe en bossies. Wonder ek of daar bosluise of slange skuil.

Dan hoor ons net ‘n lelike vloekwoord en sien hoe ‘n flitsliggie ‘n paar meters verder grond toe val en in die donkerte verdwyn. “Dis Gideon! Hy’t geval!”

Die ongeluksvoël het op ‘n molshoop getrap en dié het meegegee. Sy gesonde been is diep in die gat af. Hy kreun van die pyn. Skree soos ‘n besetene.

In die middernagtelike ure ry ons Gansbaai toe op soek na ‘n dokter. Kry darem ‘n nommer by die polisie stasie. Die dokter lyk nie vreeslik gelukkig nie. Dink hy het self lekker gebraai. Vra trippel sy normale fooi.

Die keer is die been morsaf. Gideon het nie verniet so perform nie. Die naweek is kortgeknip. Ons ry terug Strand toe en Gideon is terug in die stootwaentjie …

Uit my kombuis venster, terwyl ek opwas, sien ek hoe Sannette hom geduldig oral in die ou pram rond karwei.

En ek erken, tot vandag toe knip my oë nog steeds ‘n paar keer in ongeloof.

Staan en tob ek nou … meeste mense sou seker van ‘n rolstoel gebruik gemaak het, né?

Maar dan vul sy ook enige gaatjies in die muur met ‘n mengsel van meel en water voor sy verf.

En toe die tuimeldroër die gees gee, maak sy hulle klere in die oond droog. Sy het ook self die stoof reggemaak. Die groot, agterste plaat word warm wanneer jy die voorste plaat aanskakel.

En Kersfees, wanneer hulle katte die balletjies van die boom afkap en breek, hang sy die Kersboom aan die stam van die dak. Onderste-bo. Buig sy net die takkies opwaarts sodat die ster darem op die regte plek kan sit.

stootwaentjie

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply