Die asem wat ekstase is

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Saam met Engel deur my kop (1997), wat ´n keuse is uit Hertzogpryswenner Sheila Cussons se religieuse gedigte, vorm Die asem wat ekstase is, met geringe weglatings, die “versamelde poësie” van een van Suid-Afrika se grootste lewende digters. Amanda Botha is, saam met die digter, verantwoordelik vir dié keuse uit Cussons se nie-religieuse poësie, van Plektrum (1970) tot Die knetterende woord (1990).

Daar is ook enkele ongepubliseerde gedigte ingesluit in Die Asem wat ekstase is, en ´n keur uit al haar kwatryne word afsonderlik aangebied.

Die sterk Europese kleur en geur van die bundel dui op die ruimer geesteswêreld van Europa – veral Spanje, waar Cussons lank gewoon het.

Sheila Cussons het in 1970 met Plektrum gedebuteer, een van die beste debuutbundels nog in Afrikaans. Na ´n ongeluk waarin sy deur vuur geskend is en ´n lang tyd in die hospitaal, publiseer sy Die swart kombuis, wat ´n opskudding in die Afrikaanse literêre wêreld veroorsaak. Dit word gevolg deur ´n reeks bundels waarin poësie as ‘t ware soos fonteinwater uit haar opborrel.

In 1983 ontvang sy die Hertzogprys vir al haar poësie. Haar laaste bundel Die knetterende woord verskyn in 1990. Sheila Cussons was die digter Dirk Opperman se eerste protégé. Sy het lank in Spanje gewoon voordat sy in die jare tagtig na Suid-Afrika teruggekeer het.

Die asem wat ekstase is word uitgegee deur Tafelberg.

Lewer kommentaar

Leave a Reply