In ‘n te besige straat skarrel sy trop honde doelgerig al by die sypaadjie af. Maer en brandsiek. Sterte tussen die agterbene. Een met ‘n grys baard hink op drie bene. ‘n Wyfie met groot tepels hardloop straat toe. ‘n Kar toet. Dorstig drink sy water wat uit ‘n stormpyp borrel. Een gaan sit-lê so in die beweeg. Gee ‘n tjank en krap ‘n haarlose pienk kol.
Lyf vorentoe gebeur, loop hy en skel. Swets lelik. Is altyd bitter kwaad vir die wêreld. Dalk vir homself … dalk vir God. Hy trap hoog. Skoensole fladder voor hom uit.
Hy is net ‘n swart boskasie bo-op ‘n verslete vuil jas Meer gate as vuil jas. Al die stukkies van sy lewe in ‘n stukkende sakkie op sy rug.
Jare se baard en hare beskerm sy onbekende gesig. Maar sy donker oë flits en sy vol mond baklei sonder ophou met homself. Hy hoes. Klink of sy bors kraak. Sonder enige voorbehoud maak hy sy keel skoon en spoeg. Die hond met drie bene koes net betyds.
Impulsief kruis hy die pad. Hou ‘n skurwe regterhand omhoog. Loop hy sonder huiwering. Vloek hy vir die motor wat hard briek trap. Sy honde hardloop na die sebra oorgang. Kyk links en regs voor hulle oordraf. Een dwaal af. Hy skree iets onverstaanbaar en swaai sy arms al in die rondte. Die hond sluip getrou terug.
Soos een man stop hulle by ‘n eetplek. Die eienaar storm uit en verjaag hulle. Die boemelaar vervloek die man en die honde grom. Wys hulle geel tande.
Hy loop na die vullisdrom. Krap en vind ‘n uitgedroogde stuk brood. Steek sy arm diep af en vind ‘n hand vol bene en velle. Strooi dit soos confetti oor die sypaadjie. Die honde se sterte lig vir ‘n oomblik.
Hy glo nie aan steel nie. En anders as die hordes bedelaars by ons robotte bedel hy nooit. Loop hy nie met ‘n stuk karton nie. Die woorde “geen werk, geen geld. Enige donasie welkom. Mag God u seën”, vorm nie deel van sy woordeskat nie. Enige verwagtinge het hy lankal iewers langs die pad verloor. Hy krap sy eie pot.
Hier teen vyfuur begin hy met sy daaglikse taak. Word hy in sy kop ‘n verkeerskonstabel. Staan hy hier onder by die robot. Op die drumpel van die sypaadjie. Soms struikelend val hy af voor die vloeiende, toetende motors. Reguleer hy die verkeer. Met sy arm omhoog en die hand wyd oop, stop hy die karre wanneer die lig rooi slaan. Swaai hy sy arms al links met die groen lig. Die honde, uitgeput na ‘n lang dag, lê en kyk trots op die sypaadjie.
Tevrede verdwyn hulle. Êrens na ‘n stegie waar hulle lywe mekaar deur die nag warm sal hou …
Dan oor die nuus hoor ek dat die hele Engeland jubel. ‘n Prinses is vandag gebore. Tiara op die kop. Alles wat hulle vir haar aantrek, sal die kinder modewêreld vir die volgende paar jare bepaal. Die beste skole en universiteite is haar voorland. Eendag sal sy met bloubloed trou en prinse en prinsesse baar.
En vet blinkoog honde met swaaiende sterte sal haar volg.
Want dis maar net hoe dit is.


ek hou daarvan, sien daai ou loop elke oggend en middag…
Ja, ek het ook die boemelaar met sy honde baie keer gesien. Vreeslik goed beskryf!
Die lewe is waarlik somtyds so onregwerdig!