Ek hou niks van die Mall nie. Seker omdat ek nie van ‘n gedrom hou nie. Of van hordes mense wat my onderste bo loop nie. Dalk omdat voorgee en ongeduld … goor wees, net omdat jy kan, my dwars in die krop steek. Maar hier sit ek vanaand in my motor. Staan half skuldig sommer op die Moms with Prams parkeerplek. Dis mos na ses. Moet ‘n vriendin wat laat werk optel. Haar motor is in vir ‘n diens.
Telkens is ek verstom hoe mense die plek bewoon. Van ‘n ver bo-uitsig sou dit soos ‘n rotplaag kon lyk. Bondels mense wat hier snif en daar snif. Vorentoe loop, in sirkels beweeg, bots en mekaar verdruk. Rotte is net meer verdraagsaam.
Die Mall se hoofinkomste kom van ledige vrouens wat in peperduur motors of 4×4’s opdaag. Gepas is die voertuie nog vol modder spatsels van die naweek se wegbreek. Hulle verwyl die dag met inkopies. Glip in by die haarsalon vir ‘n nuwe kapsel, laat doen gou hulle naels. “Mens moet jouself darem ‘n bietjie bederf of hoe?”
Hier teen eenuur ontmoet sy ‘n vriendin vir middagete. Sy kies ‘n tafel in die gang waar almal verbyloop. Mens wil nou nie ongesiens deur die dag gaan nie. Sy bestel ‘n slaai. “Ek bly maar by die slaaitjies. Met my stadige metabolisme hoef ek net na kos te kyk om ‘n paar kilo’s op te tel. Ek oefen natuurlik drie keer ‘n week by die gym. Meestal strekoefeninge, is maar versigtig om my swak rug te beseer.” Wanneer die slaai kom, gee sy net een vinnige kyk en wink die bestuurder nader. “Die slaaiblare is nie vars nie. Bring vir my ‘n nuwe slaai en maak vinnig. Ek het nie heeldag tyd om hier rond te sit nie.” Natuurlik peusel sy net aan die slaai. Nooit eet jy dit op nie. “O … ek is nou só versadig.” Sy vryf oor die vetrolletjies op haar maag en dink aan die sappige hamburger wat sy op pad huis toe by die wegneemplek sal oppik. Sy sal dit verslind voor die kinders tuis kom …
Sy en haar vriendin gesels nie veel nie. So tussendeur SMS’e en selfoonoproepe kla sy oor die huishulp. “Sy’t rệrig nie veel om te doen nie. Moet skoonmaak, soms na die kinders kyk en aandete voorberei. Maar sy doen alles sooo half! Dit voel of ek heeltyd agter haar moet staan. Dink dis hoekom ek so moeg voel. Is deesdae fisies en emosioneel só uitgeput.”
Dan is daar die middeljarige mans met hulle laptops. En hulle boepense. Hulle sit. Drink bodemlose koffie en maak gebruik van die gratis Wi-Fi. Loer onderlangs met dweperige oё na elke vrou wat verbystap. Tob oor die lewe wat vervloë is. Ja, die lewe het hom maar sleg behandel. Droom hy oor hoe hy nou gaan geld maak. Baie geld. Die lewe skuld hom dit.
En ek dink aan die verkoopsdames. Moeg van lang ure met mense werk. Vir min geld. Hulle vaal oё wanneer nog ‘n “met wie dink jy praat jy, weet jy wie ek is?” kliёnt hulle met onredelike eise toeslinger. Die werkers word deeglik gebreinspoel, “die kliënt is altyd reg.”
Daar is die lang skoolvakansies. Dit toor party ma’s in Pied Pipers. Met ‘n fluit van omkopery en dreigemente word die kinders in die lang gange van die Mall agter hulle meegesleur en dis ‘n gehuil en ‘n geneul soos hulle magneties agter die ma’s aandrentel.
“Doef doef doef doef” ruk die blêrende musiek van ‘n taxi my terug na die hede. Deur die motor se opgewasemde ruit sien ek hoe ‘n werker hardloop om net betyds haar geleentheid huis toe te vang. Haar een been hang nog buite wanneer die taxi met ’n spoed wegtrek. Die bestuurder lê op sy toeter. Hy gebruik dit soos ‘n ambulans sy sirene.
Ek draai die ruit af. Kyk na die Mall. Sy staan vol en wyd, geëts in lig teen die donker lug. Laer af sien ek ‘n karwag se swaaiende arms soos hy ‘n bestuurder uit die parkeerplek help. Ek kyk hoe hy glad nie kyk nie. Die vrou boemps amper in ‘n kar wat verby ry. Hy wag vir sy fooitjie. Sy beduie dat hy moet skoert. Hy swets.
By die uitgang koop ‘n man ‘n groot bos bont blomme vir ‘n vrou wie se hand hy vashou. Die blomme lyk verlep na ‘n dag se wind en hitte, maar hy kry ‘n stewige klapsoen op die mond. Omarm loop hulle kar toe. Hy maak die deur vir haar oop. Wonder of hulle getroud is.
So ‘n paar karre verder gewaar ek oormoeg kleintjies wat saam met hulle pa op ‘n werkende ma wag. Hulle spring trampolien op die arme sitplekke. Die pa lê moedeloos met sy kop op die stuurwiel. In die vêrte kom ‘n vrou aangestap. Pick ‘n Pay sak in die een hand. Seker tydens haar breek gou inkopies gedoen. “Mommy! Mommy! Mandy hit me!” begin die kinders skree terwyl sy nog nie eers op hoorafstand is nie. Nou moet sy nog aandete maak, die kinders bad en help met huiswerk.
Iemand gee vir ‘n bedelaar ‘n doggy bag. Hy vat dit met twee hande. Gaan sit dadelik op die sypaadjie en eet kranig. Breek ‘n stuk vir sy hond af. Die hond verslind dit met ‘n waaiende stert. Die man geboё en die hond se stert terug tussen sy agterbene, verdwyn hulle slof slof om die hoek. Onder ‘n lamppaal, soos ‘n opwenspeelding, beweeg ‘n streepmuis van onder uit ‘n struik. Hy snif rond vir oorskiet krummels.
Die winkel op die hoek skakel gekleurde feetjieliggies aan. Dit weerkaats in al die omliggende vensters. Rooi, groen, geel, blou. Blommeverkopers pak op.
Ek wonder waar draai my vriendin. Die hangende kosgeure het my rasend honger … en die karre en die mense raak nou vinnig minder. Almal op pad na hulle woonplek. Almal van ons moet rus, of dit nou in ‘n paleis of in ‘n boks onder die brug is. Of jy baie pakkies het om uit te pak en of jy leё hande teruggaan …
Dan heel onverwags vang ek myself met ‘n oorweldigende gevoel van deernis. En vir die eerste keer is die Mall vir my amper mooi. Soos ‘n skildery vol kleure en geure en emosies … vol lewe.
Besef ek, nes ons asemrowende see en berge is ons Mall deel van hierdie uitsonderlike dorpie. Nes die wind. Nes die mense. Elkeen en iedereen van ons.


Tipies ons mall…nice
Fantastically written! Made me smile, for that is exactly the “way” it is at the mall 🙂