Dekades voor hy beroemdheid verwerf het as internasionaal bekroonde skrywer van meer as 25 romans, het André P Brink gedurende die vyftigerjare sy brood en botter verdien met die skryf van stories vir gesinstydskrifte.

In dié bloemlesing verskyn daar vir die eerste keer ooit ’n keur van die liefdesverhale wat hy as student in die destydse Die Brandwag en ook Die Huisgenoot gepubliseer het.

In dié dosyn verhale oor eertydse jintelmans en koppige heldinne wat nie huiwer om hul sê te sê nie, word dit gou duidelik hoe die vroeë Brink sy skrywerstem geslyp het, en andersyds kan ’n mens onmiddellik ’n kern van sy latere, volwasse skrywerstem bespeur. Die landskap van Parys, ’n boekeredakteurskantoor, die onmoontlikheid om tussen twee liefdes te moet kies: Leitmotifs wat jare later, hoewel meer vervorm, steeds sou weerklank vind in Brink se werk.

Die rooikop en die redakteur en ander stories kombineer Brink se eiesoortige humor met ’n tikkie nostalgie – perfek vir ’n ouer én nuwe geslag lesers. Dit is saamgestel deur Cecilia van Zyl, voormalige verhaleredakteur van Huisgenoot.

Die rooikop en die redakteur en ander stories / deur Andre P Brink — Human & Rousseau, 20 April 2018 — 256 p. ; sagteband. — ISBN 9780798177023 : R 240.00

Die rooikop en die redakteur en ander stories
Bettie Blom
3 Junie 2018

2.5

Lewer kommentaar

Leave a Reply